Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Integriteit van die belydenis

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Johann Theron van Kraaifontein skryf: In kerklike gesprekke word die aanvaarding van mekaar se integriteit dikwels ’n voorwaarde vir die gesprek gemaak. Die probleem is dat integriteit as maatstaf nie rekening hou met ons belydenisskrifte nie.

Die Heidelbergse Kategismus sê die mens is “van nature geneig om God en sy naaste te haat” (So 2 Vr 5) en volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis is alle mense “uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self” (Art 7, Ps 62:10).

LEES OOK: Alle Vakatures

Ons omseil maklik hierdie belydenis deur te sê dat die Gees nou “in ons woon”, waar die grens tussen die Gees en ons integriteit vervaag. In etiese kwessies soos selfdegeslagverbintenisse (met min Bybelse gegewens) lei dit dikwels tot ’n opweeg van integriteit, wat weer lei tot verdagmakery en ’n integriteitsoorlog. ’n Mens sien ook die integriteitsprobleem in die kernsaak van ons belydenis – die eenheid van die kerk.

In 1829 het die Sinode van die NG Kerk besluit “dat persone van kleur tegelyk saam met die ander lidmate die Nagmaal gebruik, is ’n onwrikbare stelreël op die onfeilbare Woord van God gegrond en dat alle Christengemeentes en elke Christen in die besonder verplig is om so te dink en te handel.”

In 1857 het die Sinode besluit: “Die Sinode beskou dit wenslik en Skrifmatig, dat ons lidmate uit die heidene, in ons bestaande gemeentes opgeneem en ingelyf word, oral waar dit kan gebeur; maar waar hierdie maatreël, as gevolg van die swakheid van sommige, die bevordering van die saak van Christus onder die heidene in die weg sou staan, die gemeente uit die heidene opgerig of nog op te rig, haar Christelike voorregte in ’n afsonderlike gebou of gestig sal geniet.”

LEES OOK: Scenario-beplanning: Droom of nagmerrie?

Wat word van die integriteit van die Woord en ons belydenis indien ’n mens die integriteit van ds Spyker, wat die voorstel in 1829 gemaak het, opweeg teen ds Andrew Murray (sr), wat die voorstel in 1857 gemaak het? Is ’n gesprek oor die integriteit van die belydenis en Woord moontlik as ’n mens voel dat so ’n gesprek ds Murray se integriteit kon bevraagteken?

In die Bybel vind ons ook botsing van integriteit. Barnabas was ’n goeie man en vol van die Heilige Gees volgens Handelinge 11:24, maar hy huigel egter in Galasiërs 2. Paulus gaan Petrus (se integriteit) direk teë in die openbaar omdat Petrus afwyk van die reguit pad van die evangelie.

Indien die integriteit van die Woord en belydenis die enigste oorweging in ons kerklike gesprekke en besluite was, het die drie sinodes wat “Ja” gestem het vir Belhar en dit daarmee Skriftuurlik verklaar het in 2013, reeds die band losgemaak van die Algemene Sinode. Die sewe sinodes wat “Nee” gestem het, het nie Skriftuurlike of belydenisgronde aangevoer nie en het dus gestem op grond van hulle integriteit.

Ons is sedert 2013 in ’n “status confessionis” – ’n staat van belydenis – ons wil nie daaroor praat nie, want daar is integriteite op die spel. Christus bou egter nie sy kerk op die integriteit van Petrus nie (Matt 16:18), maar slegs op die rots van die belydenis en die Woord.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top