Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Prof Adrio König het ’n besonderse gawe gehad om soms moeilike, abstrakte en teologiese begrippe vir gewone lidmate toeganklik te maak,” skryf dr Gustav Claassen in hierdie huldeblyk deur dr Gerdrie van der Merwe. Foto: Verskaf

In Memoriam: Adrio König (86)

Met die heengaan van prof Adrio König (86) op Woensdag 20 Julie 2022 in Centurion, verloor die kerklike gemeenskap in Suid-Afrika ’n voetsoolvlakteoloog en ’n briljante denker met ’n passievolle liefde vir die Here se Woord. Hy het oor die vermoë beskik om in gewone omgangstaal die diepe geheimenisse van die Bybel te verwoord en verstaanbaar oop te breek vir gewone mense.

Terselfdertyd is hy ’n teoloog van wêreldgehalte, wat ’n leeftyd lank in die akademiese omgewing sy merk maak. Hy het die buitengewone gawe besit om met integriteit en buitengewone teologiese insig sy man te kon staan teen teoloë en Bybelse wetenskaplikes oor die aardbol heen.

Prof Adrio was ’n stigterslid van Reforum, ’n inisieerder in 1982 van die “Ope Brief” aan die NG Kerk, waarin ernstige kritiek teen die destydse beleid van apartheid in kerk en staat uitgespreek is.

Adrio König is op 5 Mei 1936 gebore in die distrik Vereeniging. Sy vader is Ferdinand Genis König, ’n onderwyser, en sy moeder is Catharina Cornelia Mouton, ’n huisvrou met ’n oop hand wat haar gesin met liefde versorg. Adrio begin sy skoolopleiding aan die Laerskool Lydenburg en matrikuleer in 1953 in die Eersteklas aan die Hoërskool Lydenburg met ’n onderskeiding in geskiedenis. Adrio is reeds in die tyd ’n bekende seëlversamelaar.

Op skool blink hy uit in tennis en as langafstandatleet. Na skool vertrek hy in 1954 na die Bybelskool van die Nuwe Protestantse Kerk buite Bloemfontein, waar hy twee jaar lank in die teologie studeer. Die “De Vos Kerk” is op 21 April 1944 gestig, toe ds DJJ de Vos en 44 kerkraadslede die NG Gemeente Durban verlaat weens die geestelike doodsheid in die NG Kerk, waarna ’n onverkwiklike kerkstryd ontwikkel wat diep letsels laat. So word die Nuwe Protestantse Kerk gebore, wat in 1986 die Evangeliese Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika word.

In 1954 begin Adrio met sy BA-graad by Unisa en voltooi dit in 1957 aan die UOVS in Bloemfontein. In 1957 en 1958 werk hy deeltyds vir die staatsdiens. Sy pad loop in 1958 na die Universiteit van Pretoria, waar hy die MA-graad in Filosofie behaal. Sedert 1959 is hy ’n ernstige diabeet, wat hom soms kniehalter maar wat hy ’n leeftyd lank met medikasie in toom hou.

In 1959 word hy student aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan Tuks, waar hy in 1961 die BD-graad verwerf en ook die ontvanger is van die Webb-beurs. Adrio trou op 14 Januarie 1961 met Hermina Aletta Catharina Scholtz, ’n lewensmaat wat hom met liefde bystaan tot die einde. In 1962 word hy as proponent van die NG Kerk gelegitimeer. Hy lewer sy proefpreek in die NG Bosmanstraat se kerkgebou oor die “sesde bede” in die Heidelbergse Kategismus Sondag 52, met Lukas 22:31-34 as teksvers. By die geleentheid is professore EP Groenewald en HDA du Toit en paranimfe Phillip Venter en Marthinus Prinsloo betrokke.

Op 16 Februarie 1963 word prop Adrio König met handoplegging in die NG Gemeente Lyttelton ontvang en bevestig. Ds DA Louw doen die ordening en die bevestigingsrede word deur ds WJM Janson van die gemeente Lynnwood gelewer. Na drie jaar met die afstigting van die NG Gemeente Sesmylspruit in 1966, word hy as eerste leraar bevestig, maar verlaat op 17 Oktober 1966 die gemeente met sy aanstelling as senior lektor in die departement Dogmatiek, Etiek en Praktiese Teologie aan Unisa. Hier word hy op 1 Mei 1975 bevorder tot professor. In sy tandesnytyd by die akademiese wêreld, ontvang hy verskeie studiebeurse van die RGN, wat hom in aanraking bring met bekende Europese universiteite. Hulle leer hom toe reeds ken as iemand met ’n vlymskerp brein, wat die gawe besit om die teologie volledig te omarm en iemand waarmee in alle teologiese seisoene rekening gehou moes word.

Prof Adrio het van die begin af hard gewerk by Unisa en het gesorg dat dit ’n oop ekumeniese departement word met teologiese invloed. Hy doktoreer in 1969 in Dogmatiek aan Tuks onder leiding van prof AB du Preez met die proefskrif: “Jesus Christus die Eschatos”. Hy was ook in 1972 ’n stigterslid van die Dogmatologiese Werksgemeenskap, ’n staatmaker en grondlegger daarvan. Hy het uitgeblink as begaafde skrywer/redakteur oor aktuele teologiese temas, wat die gewone lidmate se belangstelling vasgevang het omdat hy ingewikkelde sake van die dag duidelik en helder kon maak in verstaanbare Afrikaans.

Dr Gustav Claassen skryf: “Prof Adrio König het ’n besonderse gawe gehad om soms moeilike, abstrakte en teologiese begrippe vir gewone lidmate toeganklik te maak. Hy het ’n hart gehad vir moeilike vrae in lidmate se lewe en het dit op ’n baie verruimende wyse vir mense verstaanbaar gemaak. Hy het ook met sy vinger op die pols van gewone lidmate geleef. Prof Adrio was ’n goeie en sterk prediker en sy dagboek vir preekbeurte was dikwels ver vooruit bespreek. Hy is bestempel as ’n man wat ’n manier gehad het om dinge te doen en te sê.”

’n Jarelange vriend Jan Opperman beskryf hom as ’n briljante akademikus: “Hy was deurentyd besig met die skryf van boeke en het in die akademiese milieu gefloreer.”

Lees ook: Alle Kerkbode-doodsberigte

Prof Adrio was ’n stigterslid van Reforum, ’n inisieerder in 1982 van die “Ope Brief” aan die NG Kerk, waarin ernstige kritiek teen die destydse beleid van apartheid in kerk en staat uitgespreek is. As bekende anti-apartheidsteoloog was sy teenkanting van apartheid altyd godsdienstig gemotiveerd en nie polities nie. In sy jong dae is hy deur die NG Kerk as teologies-liberaal beskou, maar in die resente tyd is hy weer gebrandmerk as konserwatief wat teologiese sake van die dag betref. Jean Oosthuizen, voormalige nuusredakteur by Kerkbode, skryf: “Prof König was ’n teoloog wat hom deur niemand in ’n betrokke kamp wou laat jaag nie en ’n uiters gedugte teologiese redenaar – of ’n mens met sy teologie saamgestem het of nie.”

Prof Adrio König was ’n meelewende lidmaat van die NG Kerk en ’n staatmaker in die gemeente kerksondermure in Centurion, waar hy intens betrokke was by die Bybelskool en bekendheid verwerf het oor sy doopgesprekke wat ’n ongelooflik verrykende ervaring was vir ouerpare. Met sy heengaan op 20 Julie 2022 word prof Adrio gehuldig as nuutdenkend, ’n voorloper en ’n man met visie. Sy grootste belangstelling is die Bybel self en hy het Bybellees as sy lewenstaak beskou. Hy het die Bybel ook deur ander mense se bril gelees wat die Woord anders verstaan het as hyself en dit het sy oë oopgemaak het vir dinge wat hy nooit self besef het nie. Hy was 40 jaar lank betrokke by Unisa en het dit as ’n voorreg beskou om met teoloë van ander kerke saam te werk, wat die ruimheid geskep het vir ander se oortuigings.

Lees ook | REEKS: Predikante in ‘n pandemie

Dr André van Niekerk skryf: “Hy het alles met ywer en genoegdoening gedoen. Tot byna aan die einde het hy sy perskebome, die heerlikste vrugdraers in Centurion, versorg. Ons sal hom graag as ’n geskenk van die Here aan die kerk in Suid-Afrika onthou.” Hy word oorleef deur sy vrou Hermien, drie kinders Mari, Carina en Friedrich, en vyf kleinkinders, Guillaume, Helet, Wiets, Ilani en Joy. ’n Gedenkdiens is op Maandag 25 Julie 2022 om 11:00 by kerksondermure in Centurion gehou.

  • Dr Gerdrie van der Merwe is ’n kerkhistorikus.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top