Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Hoor die weeklag van miljoene vroue

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Augustus is Vrouemaand. Soos elke jaar in die verlede word daar in dié maand op die vroue van Suid-Afrika gefokus. Programme word aangebied en ’n winkelgroep reël selfs wedlope spesiaal vir vroue. Daar is selfs mos ’n openbare vakansiedag wat aan die vroue van Suid-Afrika opgedra is. Vrouwees word gevier!

Deur dit alles moet ons egter die weeklag van miljoene vroue in ons land hoor. “Ek het gesmeek dat hulle my nie moet verkrag nie,” vertel die vrouelid van ’n TV-produksiespan onlangs. Sy is toe wel deur onwettige mynwerkers verkrag. Dit is die alledaagse werklikheid van vroue in Suid-Afrika. Dit is nie sonder rede dat Human Rights Watch Suid-Afrika al in 2010 die verkragtingshoofstad van die wêreld genoem het nie. Die tempo van verkragtings het sedertdien teen ’n verskriklike tempo toegeneem. Van 88,3 per 100 000 in 2017/18 tot 90,9 per 100 000 in 2018/19. Die mees onlangse statistiek dui daarop dat daar in 2019/2020 53 293 sake aangemeld is – let wel aangemeld is.

Lees ook: Nadia Marais | Gelukkige Vrouedag?

Hierdie feite kan dalk by die kerk verbygaan waar lidmate nie die seer van hierdie gebeure persoonlik beleef nie. Tog is dit vir die kerk belangrik. Waarom? Die geskiedenis leer ons dat die kerk in Suid-Afrika in die verlede ’n belangrike rol gespeel het in die onreg teenoor vroue. Onthou vir ’n oomblik die rol van Emily Hobhouse in die konsentrasiekampe tydens die Tweede Suid-Afrikaanse oorlog van 1899-1902. Sy was deel van die passifistiese Kwakerbeweging wat uit Engeland hierheen gekom het. Deur haar toedoen het die wêreld gehoor wat in die kampe aan die gebeur was.

Nog ’n meer onlangse voorbeeld was die optrede van die vroulike afgevaardigdes na die Rustenburg-kerkeberaad in 1990. Tydens die beraad het hulle ’n verklaring uitgereik waarin hulle gepleit het dat die lyding wat spesifiek vroue in die apartheidsjare ervaar het, duidelik rugbaar gemaak moet word.

Waarheen dan nou? Miskien is dit nodig dat die NG Kerk in breë verband maar ook in plaaslike gemeentes ernstig aan hierdie saak aandag gee. Lidmate moet onder andere bewus gemaak word van die omvang van die probleem en toegerus word om sensitief te wees vir slagoffers van geweldsmisdade.

Ekumenies behoort die kerk ook ’n groter leidende rol te speel om in gemeenskappe programme vir slagoffers aan te bied. Die weeklag van miljoene vroue in ons land word daagliks harder. Dit is ’n stem waarvoor die kerk nie mag doof wees nie.

  • Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.