Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Nadia Marais | Gelukkige Vrouedag?

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.


Dit is opvallend hoeveel TV-reekse en flieks die laaste tyd verskyn het, waarin gendergebaseerde geweld sentraal staan tot die storielyn. Heelwat van hierdie reekse en flieks is gebaseer op ware verhale, ook in Suid-Afrika. Dink aan Maid, The staircase, Last blue ride, Strangers you know, om enkeles te noem. Dit het my laat wonder:

Wat kan ons vanjaar met Vrouedag vier? Vir wie is en maak Vrouedag gelukkig?

Lees ook: Om tot geldige vertolkings van die Skrif in ons tyd te kom

Midde-in ’n pandemie van geslagsgeweld en gekonfronteer deur die bykans daaglikse nuusberigte oor vroue wat verkrag en vermoor word, weet ek nie of daar enigiets gelukkig is aan Vrouedag nie. Hoe vier ’n mens dit wat jou soms beangs maak, wat van jou ’n teiken maak wanneer jy draf of fietsry, waar jy in ’n winkelsentrum of op straat stap, in die verkeer of op ’n bus of trein of vliegtuig, en oraloor: tussen vreemdelinge, tussen vriende, tussen familie?

Hoe klein maak ’n mens jouself soms nie, in die bede en hoop dat jy oorgesien sal word? Hoe vrees ons nie juis hierdie spesifieke vorm van geweld, en leer ons ons dogters om veilig te wees, en maak ons seker ons ma’s en susters en vriendinne kom veilig by ’n bestemming aan nie? Wat doen ons nie alles om te probeer voorkom dat ons en ons geliefdes die lewenslange trauma en lewensverwoestende gevolge van gendergebaseerde geweld gespaar word nie?

Die hartseer en ontnugterende werklikheid is dat gendergebaseerde geweld oral te vinde is – ook in die kerk. Net omdat spesifieke insidente verswyg word of privaat hanteer word, of selfs nie noodwendig aangemeld word nie, beteken nie dat ons nie ook in die kerk baie mooi behoort te luister en na te dink oor die belewenis van vroue nie.

Lees ook: Nuwe tydvak wink vir die herwaardering van Johannes se verstaan van Jesus

In die Katolieke Kerk is daar byvoorbeeld beskermheiliges vir slagoffers van gendergebaseerde geweld, wat die 11-jarige Maria Goretti insluit. Wanneer daar ’n poging is om Maria te verkrag, en sy dit beveg (met die woorde dat sy eerder sal sterf as om verkrag te word), word sy 14 keer met ’n mes gesteek, en sterf sy uiteindelik in die hospitaal.

Die Bybel self verswyg nie gendergebaseerde geweld nie. Ons ken die verhale dalk nie altyd so goed nie – moontlik omdat hierdie soort stories nie in ons leesroosterritmes ingesluit word nie, en moontlik omdat ons nie altyd gekonfronteer wil word met wat feministiese teoloë texts of terror sou noem, nie – maar hierdie verhale is pynlik teenwoordig in ons geloofstekste en geloofsverbeeldings.

Verhale soos die verkragting van Dina, die verkragting van Tamar, die verkragting van ’n Levitiese man se naamlose byvrou, wat ook vermoor en in stukke opgekap word, lees soms asof dit vanoggend op Netwerk24 verskyn het, of op Huisgenoot se ware lewensdramas.

Lees ook: Die groot Misterie, in en om ons …

Heelwat teoloë fokus op hierdie verskriklike tekste, en dit is opvallend dat teologiese publikasies oor gendergebaseerde geweld baie keer uitdruklik verwys na die figuur van Tamar wat gehuil, geweeklaag (1953-vertaling), of geskreeu (1983-vertaling) het in 2 Samuel 13:19. Dink maar aan Pamela Cooper-White se The cry of Tamar (2012) of Denise Ackermann se Tamar’s cry (2002), byvoorbeeld, wat albei handel oor gendergebaseerde geweld.

Hierdie Tamar word stil (gemaak?) na hierdie traumatiese gebeure, en dit is duidelik dat hier geen gelukkige einde aan die verhaal is nie. Tamar gaan woon in haar broer Absalom se huis, as “’n eensame vrou” (2020-vertaling), “’n verlatene” (1953-vertaling) … “en sy was ’n wrak” (1983-vertaling). Die laaste wat ons van Tamar hoor, is dat sy ’n wrak was.

.

Maar genadiglik is daar ander verhale ook. In Johannes 8, die bekende verhaal van die owerspelige vrou, lees ons dat Jesus die dreigende geweld teen ’n naamlose vrou onderbreek en, uiteindelik, afweer.

Lees ook: ‘Wyk Zero’

Die geloofsleiers van die dag wil met die vrou handel volgens die wet, wat – volgens hulle – sou beteken dat sy gestenig moet word. Terloops, vreemd hoe slegs die vrou aangekla word, en geen man nie; en vreemd hoe geen getuies opgeroep word nie, wat die wet óók vereis; en vreemd hoe die aangeklaagde, die vrou self, nêrens binne hierdie skynverhoor ’n geleentheid kry om self te praat nie, né?

Maar Jesus doen wat slegs Jesus, en nie die vrou self nie, in hierdie omstandighede kan: naamlik, om die geweldsiklus – dit wat lyk na regverdige, geregverdigde geweld – stop te sit.

Wie weet? Dalk sou Vrouedag vanjaar gelukkig kon wees as ons – vroue én mans – ons beywer om na vroue te luister, soos wat Jesus doen; en vroue te glo, soos wat Jesus doen; en om elke vorm van geweld – insluitend geweld wat verbloem word as humor – te onderbreek en stop te sit.

  • Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en dien op die moderatuur van die Wes-Kaapse Sinode.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Nadia Marais | Gelukkige Vrouedag?”

  1. Margaret Coetzee

    Baie dankie, Ek vind hierdie gesprek baie interesant en relevant in ons tyd. Dit is ook baie nodig Om die vroue en Jong dogters in hierdie tydsduur te bemagtig en n nuwe paradigma verskuiwende program te ontwikkel. Daar’s baie voorbeelde en ervarings in familie én vriende kringe wat as spieel beelde gebruik kan word. Dankie weéreens.

Comments are closed.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.