In ’n winkel wat antieke meubels, blikke en ander ou goed verkoop, vang my oog onlangs iets waarvan ek byna al vergeet het. ’n Bakpoeierblik. Royal-bakpoeier. Deesdae koop jy bakpoeier in ’n plastiekhouer.
Ek tel die blik van die rak af op, en opeens is ek weer ses of sewe jaar oud en sit by die tafel in ons kombuis op Daniëlskuil, met só ’n bakpoeierblik in my hand. Oorkant die tafel staan Ma in ’n voorskoot en meng koekdeeg in ’n bak.
Op ’n Royal-bakboeierblik is ’n afbeelding van dieselfde bakpoeierblik as die een wat jy in jou hand hou. Wie onthou dit nie?
Ek onthou hoe ek daar in die kombuis sit en die blik stadig nader aan my gesig bring, kinderlik verwonderd oor wat ek sien: Die afbeelding van die blik op die blik in my hand, en op dáárdie blik ’n kleiner blikkie en ’n nóg kleiner een op die kleiner een en … Blik op blik op blik op blik.
LEES OOK: ‘Daar gaan Stan … om genesing vir ander se wonde te vind’
Sê nou ’n mens kan ’n bakpoeierblik kry so hoog soos die kerk se toring, het ek vir myself gesê. Hoeveel blikke sal jy op daardie grote blik kan tel? En sê nou ’n mens kry ’n blik so groot soos die koppie in die veld agter ons huis? Elke keer sal daar net nóg ’n blik op ’n blik op ’n blik wees. Dit hou nie op nie.
Daardie middag het ek moontlik vir die eerste keer iets van die begrip ewigheid besef.
In ’n paar oomblikke het my wêreld onuitwisbaar groter en vol nuwe moontlikhede en dimensies geword. Ek was nou ’n bietjie meer mens, want het dit nie alles met menswees te doen nie? Om jou plek in die heelal te probeer verstaan.
Nie te lank daarna nie het juffrou Human in die Kinderkrans vir ons ’n storietjie vertel, ook om ons iets van tyd en ewigheid te laat besef.
In ’n ver land was daar ’n tamaaigroot berg wat so hard soos ’n diamant was, het juffrou Human vertel. Een keer per jaar, kom slyp ’n suikerbekkie sy snaweltjie teen daardie berg. Jaar na jaar kom die suikerbekkie, en elke keer verdwyn ’n krieseltjie van ’n krieseltjie van die berg.
Die dag wanneer die suikerbekkie sy snaweltjie soveel keer teen die berg geslyp het dat niks meer van die berg oor is nie, sal dit ’n sekonde van die ewigheid wees, het juffrou Human gesê.
LEES OOK: Klein gemeente met oop arms kort ’n sterker heining
Jy sit daar in die kerksaal tussen die ander kinders en luister na haar, en in jou is ’n vreemde opgewondenheid, maar jy is ook ’n bietjie bang. Alles is so groot en onverstaanbaar, en jy is so Jesus-klein-maak-my-hartjie-rein.
Maar mettertyd verloor ’n mens van daardie kinderlike verwondering in dit rondom jou. Jy begin vrae vra. Ek is lankal nie meer die seuntjie by die kombuistafel op Daniëlskuil nie. Ek kan nie meer glo die maan is van kaas gemaak nie. Ek glo nie God het werklik die hemel en die aarde in slegs sewe dae geskape en daar was werklik ’n Adam en ’n Eva in ’n tuin van Eden nie. Darwin se evolusieteorie is al op soveel maniere wetenskaplik reg bewys.
Ek kyk oor die internet na die beelde wat in hierdie tyd soos misterieuse veelkleurige skilderye van die James Webb-ruimteteleskoop af teruggesend word aarde toe – en my kop duisel. Want dit is nie skilderye nie. Dit is hoe dit in die uithoeke van die kosmos lyk.
Die Webb-teleskoop hang as ’t ware sowat 1,5 miljoen kilometer van ons af in die ruimte en bied ons beelde van sterre wat sterf en gebore word in die verste vertes van die heelal. Dit bring ons nader aan die oerknal 13 miljard jaar gelede toe tydruimte in ’n flitsoomblik daar was.
Maar ’n mens bly wonder: Hoekom is daar iets, nie niks nie? Wat was vóór die oerknal daar?
DH Lawrence se woorde kom telkens na my toe terug:
The sense of wonder
that is the sixth sense
And it is the natural religious sense
Hoekom wil sommige mense so graag hê die heelal moes op ’n bepaalde tyd sesduisend jaar gelede geskep gewees het? Alles is oud en steeds besig om te word, soos die beelde van die Webb-teleskoop vir ons wys. Oud en onvoltooid, ook ek. Ons.
En hoe misterieus: Ons, die mens, is intiem deel van daardie verste vertes. Al die elemente in ’n ster, vind jy ook in die menslike liggaam. Ons is letterlik sterstof.
Maar in my is ook iets van God, die Groot Misterie, wat alles omgeef en alles en almal verbind. Dit ervaar ek in die toevallighede van my lewe.
“I believe there is nothing more needed by humanity today,” skryf die Britse teoloog John Taylor, “than the recovery of a sense of ‘beyond-ness’ in the whole of life to revive the springs of wonder and adoration.”
Soos om op ’n valerige Dinsdagoggend te staan in ’n winkel wat ou goed verkoop, tussen die rakke, besig om verwonderd na ’n Royal-bakpoeierblik in jou hand te staar.