Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Leon Venter van NG Gemeente Graafwater skryf: Ek treur oor die verklaring van die dagbestuur. Waarom?
Omdat dit self verdagmakend is.
Omdat dit nie respekvolle en deernisvolle luister na mekaar is nie, terwyl dit vra daarna.
Omdat dit self verdelende posisies verhard, terwyl dit ander daarvan beskuldig.
Omdat die “ruim huis”-gedagte van die NG Kerk nie erken word nie.
Omdat dit ’n ongevraagde openbare oordeel is oor 90 plus NG gemeentes, lidmate en leraars wat reeds pyn beleef omdat hulle doleer.
Omdat die verklaring beweer die NG Kerk se “vordering oor talle sake” moet teen “die mense beskerm word”.
Omdat dit hierdie NG leraars en lidmate afmaak as skeurmakers, verdagmakers en ’n drukgroep wat onkerkordelik optree.
Omdat my mening is dat die dagbestuur self onkerkordelik optree.
Lees ook: Inklusiewe taal: ’n Praktiese manier om geregtigheid te help bevorder
Daar is baie vrae in my gemoed:
Waarom maak die Dagbestuur andersdenkendes verdag in plaas van om te bevestig dat geloofsonderskeidende gesprekke met hulle voortgaan?
Is die NG Kerk se geloofsonderskeiding nou afgehandel? Is almal nou seker die dolerendes is verkeerd en ons is reg?
Het dolerendes nie langer die reg om hulle oortuigings te verdedig nie?
Het hulle nie ook die Heilige Gees ontvang nie?
Is hulle verstaan van die evangelie skeurmakend en verdag en onkerkordelik, maar ons verstaan daarvan volmaak en perfek?
Is voortgaande en deernisvolle dialoog dus nie langer nodig nie?
Is die verklaring nie dieselfde soort leiding en taktiek wat wêreldse politieke leiers beoefen nie?
Waarom ervaar ek ’n gebrek aan nederigheid, deernis, verbintenis aan luister, dialoog en ’n uitreikende hand in die verklaring? Waar is die wyse geestelike leiding wat vertroue skep, hoop gee en mense met verskillende standpunte en oortuigings en perspektiewe saamsnoer om geloofsonderskeidend saam oplossings te soek vir die uitdagings van die NG Kerk?
Is moeisame gesprekke met andersdenkendes nie deel van ons geloofsonderskeidende soeke en luister na die Gees nie?
Ek beleef die verklaring berispend, aanmatigend, veroordelend en ongevraagde selfregverdiging wat verdere pyn en verdeeldheid bring.
Reglement 1: 2.1, 2.2 en 2.7 van die kerkorde sê dat die Algemene Sinode” ’n viering van die eenheid en identiteit van die NG Kerk” is, “geloofsonderskeidend” omgaan met sake en “inklusiewe konsulterende gesprek en gemeenskaplike denke” help vorm. Ek aanvaar dit is ook die taak van die dagbestuur. Hulle mandaat is om ’n kultuur van “inklusiewe konsulterende gesprek” te skep, beslis nie om mense gesagvol tereg te wys en verdeeldheid en agterdog in die NG Kerk te versterk nie. Sien Reglement 2: 5.11; 5.11.1 en 5.11.2 wat handel oor hoe die Algemene Sinode verdelende en kontensieuse sake moet hanteer.
’n Profetiese oproep om gebed en verootmoediging vir die nood en lyding van ons land se mense, haar politieke leiers sonder raad, en ’n NG Kerk gebuk onder pyn en verdeeldheid, is in ons omstandighede meer gepas.
