Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Prof Hoffie Hofmeyr van Pretoria, skryf: Die bydrae van Nelis Janse van Rensburg (voorsitter, ASM) op 10 September 2022 oor “Versoening is ’n beweging na God en na mekaar” verwys.
In die rubriek word mooi en opheffend geskryf oor die afgelope Wêreldraad van Kerke (WRK)-byeenkoms in Duitsland wat hy en ’n groot NGK-afvaardiging bygewoon het. Hy verwys dan spesifiek na die Bybelse boodskap en in die besonder na 2 Korintiërs 5 met die opdrag dat die “liefde van Christus ons (moet) dring”. En dan stel hy dat hierdie groot WRK-byeenkoms wat eintlik net elke agt jaar vergader, die uitdaging van versoening en eenheid op die toekomspad ná 2022 vir alle kerke en gelowiges in die wêreld wil probeer waarmaak. Dit is alles dinge waarmee die meeste van ons kan saamstem.
Lees ook: Kerk se versoeningsboodskap in die gedrang?
Terwyl ek as waarnemer die Canberra-wêreldbyeenkoms van die WRK in Australië in 1992 saam met Johan Heyns, Pieter Potgieter en andere bygewoon het, weet ek ook egter dat dit geen eenvoudige taak vir so ’n groot organisasie is om groot uitdagings waar te maak nie. Dit vra dat afgevaardigdes uit baie lande, kerke en kulture wat hierdie uitdaging ontvang het, elkeen klein moet begin in sy eie kerk en konteks om so die koninkryk en die wêreldwye kerk van Jesus Christus te dien.
Nelis verskuif dan sy fokus nie net na Suid-Afrika nie maar ook spesifiek na die NG Kerk. Hy vra dan ook aan die NG Kerk: “Kan die liefde van Christus ons beweeg tot eenheid en versoening?” Hy verwys vervolgens na polarisasie en kampe en mishope en klein oorwinninkies en afkerende verdagmakery.
Die vraag moet egter gevra word aan Nelis en die kerkleiding: Moet julle nie ook selfondersoekend nadink oor julle aandeel, in julle eie woorde, aan polarisasie, faksievorming, om op oneerbare mishope te staan, of aan klein oorwinninkies, of aan afkerende verdagmakery nie?
My persoonlike ervaring van onlangse samesprekings as deel van ’n Kairos Netwerk-afvaardiging met jouself, die aktuarius van die NG Kerk asook die algemene sekretaris asook ’n hele aantal onlangse uitsprake van die ASM is bitter teleurstellend.
Terloops, as verkose lid van die WRK se 150 lede sterk sentrale komitee, sal die algemene sekretaris onder andere verslag aan die WRK moet doen oor hoe die NG Kerk met versoening en eenheid vorder, ook binne sy eie ruim NG huis.
Die werklikhede in die NG Kerk is tans tragies en pynlik.
