Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Neels Jackson van Centurion skryf: As ek vir ds Dawie de Wet van Willowmore reg verstaan, sien hy die leer van sonde, verlossing en dankbaarheid as die evangelie. As die gesprek oor sosiale geregtigheid nie oor sonde en vergifnis praat nie, dan is dit nie die evangelie nie, maar ’n ideologie.
Die leer van sonde en vergifnis is inderdaad ’n sentrale deel van die evangelie. Dit is rondom die korrekte verstaan van hierdie leer dat die gereformeerde tradisie ontstaan het. Maar is dit die hele evangelie? Is dit die enigste manier om oor die evangelie te praat? Dit lyk my die Bybelse getuienis lei ons in ’n ander rigting.
Eerstens. Daar kom situasies waarin die taal van sonde en vergifnis nie die regte taal is om te gebruik nie. In die verhaal van die man wat blind gebore is (Joh 9) wil die dissipels weet deur wie se sonde dit is dat die man blind gebore is. Jesus leer vir hulle dat dit nie hier oor sonde gaan nie. In die Job-verhaal was dit verkeerd van Job se vriende om sy ellende in terme van sonde te probeer verklaar.
LEES OOK: Gerhard Mahne skryf: Word NG Kerk se kultuurprobleem nou in nuwe konteks herhaal?
Of dink aan ’n vrou wat fisiek en verbaal deur haar man verniel is – terwyl hy haar wou wys maak dat dit haar skuld is dat hy haar so moet straf. Met so ’n vrou moet ’n mens nie praat oor haar skuld nie. Haar waardigheid en selfrespek moet herstel word.
Tweedens. Die evangelie van God praat ook op ander maniere oor hoe God by mense betrokke is. Dit vertel byvoorbeeld van gebrokenheid en heling. Dit is wat met die blindgebore man van Johannes 9 gebeur het – en met soveel ander deur Jesus se wonderwerke.
Die Bybel vertel soms van verdrukking en bevryding. Dink aan die uittogverhaal in Eksodus. Of dink aan die lofsang van Maria in Lukas 1. As sy sing: “… maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog”, dan is dit nie ideologiese taal nie. Dit is ’n lofsang tot God.
LEES OOK: Charlene van der Walt | Queering dring aan op ongemak
Soms het ’n mens taal van stryd teen onreg nodig om oor die evangelie te praat. Dit gebeur byvoorbeeld wanneer Jesus die tafels van die geldwisselaars in die tempel omkeer en sê dat hulle die tempel in ’n rowersnes omskep het. Dit is by daardie tafels wat die armes uitgebuit is. Jesus bestry hierdie onreg. En dit is omdat onreg teen God se wil is dat die digter van Psalm 26 kan uitroep: “Laat reg aan my geskied, Here …”
Soms kom die evangelie na vore in die insluiting van mense wat gewoonlik uitgesluit is. Jesus se aardse bediening is vol daarvan.
En so sou ’n mens die ryke verskeidenheid van perspektiewe wat die evangelie bied, kon opnoem.
LEES OOK: ‘My grootste geskenk as gay bedienaar van die Woord …’
Om sonde en vergifnis as die enigste manier te sien waarop daar oor die evangelie gepraat kan word, is ’n ernstige verskraling van die evangelie. Jesus het nie gesê Hy bring die evangelie van verlossing nie. Hy het die evangelie van die koninkryk van God gebring (Luk 4:43). Dit sluit verlossing in, maar ook soveel meer.
Ek dink ’n mens moet versigtig wees om nie ander aspekte van die evangelie te misken en as wêreldse ideologieë te etiketteer nie.

Neels Jackson verstaan duidelik nie wat Dawie de Wet sê nie en daarom ook nie wat die verskil is tussen mensgesentreerde ideologie en Godgerigte teologie nie. Hy sê ook in soveel woorde dat hy hom nie tuis vind in die gereformeerde teologie nie, maar hom met sy eie verstaan en vertolking van die Bybel besig hou. Soos apartheid ideologies uitgesluit het, wil hy ideologies insluit. Neels se antropologie is nie Bybels veranker nie, maar swem saam in die stroom van die hedendaagse identiteitspolitiek wat nie meer klem lê op eerlike selfondersoek in die lig van die Woord van God, diepe afhanklikheid van God Drie-enig vir bevryding en ongekwalifiseerde oorgawe aan God om sy wil vir ons lewe te doen nie. Miskien moet Neels net weer die hele Bybel lees, want hy steek vas by die evangelie van die aardse Jesus, terwyl daar ook die evangelie van die opgestane en verheerlikte Jesus is. Hy jan gerus gaan lees watter gesindheid daar ook by ons moet wees na luid van Filippense 2 se kerklied. Sy Jesus vir ons is ‘n verskraalde en eensydige evangelie vir ‘n volhuis mense maar ‘n uithuisige God.
Johann, uitstekend en dankie! Daar is so baie stemme wat ons aandag wil aftrek van waaroor die Woord gaan en wat die Kerk en NG kerkweer behoort te doen
Dankie Johann, goed verwoord, mag ons terugkeer waaroop dit werklik neerkom!