Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dawie de Wet skryf: ’n Kerk vry van ideologie?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dawie de Wet van Willowmore skryf: Neels Jackson bevraagteken my kritiek op die feit dat die Algemene Sinode die ideologie van Sosiale Geregtigheid (SG) navolg. Hy is oortuig dat die Algemene Sinode (AS) in alle besluite gepoog het om by die Bybel te bly.

Dit is duidelik dat ons by mekaar verby praat, Neels.

Ek het vir jou verduidelik dat liefdesdiens volgens die voorbeeld van Jesus, ’n kerndeel van ons Christelike lewenswandel moet uitmaak. Ek is saam met jou dankbaar dat daar binne die NG Kerk talle voorbeelde is van geseënde uitreikaksies, soos die bediening in Pretoria waarna jy verwys.

Ons verskil radikaal oor die rol van die ideologie van Sosiale Geregtigheid (SG).

LEES OOK: Mensgerigte godsdiens? Die diepste motivering is die liefde van Christus

Die NG Kerk het ’n lang geskiedenis van ’n ideologiese verstaan van die Bybel. Vir jare was die ideologie van Apartheid die bril waardeur die Skrif verstaan is. Ek het daarmee grootgeword en ons is geleer om die sonde daarin mis te kyk. Met die besef dat dit verkeerd is, is die denkpatroon van ons tyd, die ideologie van SG, aangegryp as die nuwe bril waardeur die Bybel gelees moet word. Jy beskou dit as die “pad van verruiming”. Soos jy tereg uitwys, is daar dele van hierdie denkwyse wat wel met die Bybel ooreenstem – soos talle aspekte van Apartheid. Vir my bly ideologieë mensuitgedinkde raamwerke waarin die Bybel gegiet word.

Die belydenisskrifte is die raamwerk waarin elke gelegitimeerde belowe het om die Bybel te verstaan – die leer van sonde, verlossing en dankbaarheid.

SG werk glad nie met sondeskuld en vergifnis nie, maar met onderdrukkers en slagoffers. Laasgenoemdes is onskuldig omdat hulle ly. Alle noodlydendes is dus onskuldige slagoffers. As jy praat van sonde, is jy volgens SG verkeerd, want jy blameer dan die slagoffer.

LEES OOK: In Memoriam | Leopold Scholtz oor geloof, genade en grade van grys

Dit is ironies: Omdat ek SG verwerp, brandmerk dit my as onderdrukker. Daarom sê SG dat ek geen meegevoel met slagoffers het nie – al is die bewese werklikheid die teenoorgestelde.

Mnr Zuma se toespraak verlede naweek illustreer die logika van SG in die praktyk: Hy het homself duidelik as die “slagoffer” uitgebeeld, met pres Ramaphosa die “onderdrukker”. As slagoffer is hy mos onskuldig. En duisende glo hom, want hulle dink volgens SG se lyne. Dit is interessant hoe die tradisionele Afrikadenke ook SG omarm het.

Die “mensgerigtheid” waarna jy verwys, Neels, is die taal van SG. My probleem daarmee is dat die Bybel leer dat sonde drie dinge veroorsaak: skuld, smet en ellende. Jesus het gesterf om met sy bloed ons skuld te betaal en om ons van die smet van die sonde te reinig (1 Joh 1:9). Daarom sien sy Liggaam, die kerk, om na die ellende van die wêreld. Soos alle heidene ook doen, spreek SG die nood en ellende aan. Dit onderspeel ongelukkig die kernwaarheid dat mense ook van die skuld en smet van sonde verlos moet word.

Ek bid dus dat die AS vry sal kom van alle ideologie en sal terugkeer na “Sola Scriptura Sacra”.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Dawie de Wet skryf: ’n Kerk vry van ideologie?”

  1. Ek glo nes dr Dawie de Wet hierbo dat sosiale geregtigheid (SG) ‘n mensgevormde ideologie is en niks kan bydra tot die uitbreiding van God se Koninkryk nie. Dit kan dus nie ‘n beduidende spirituele verskil maak in die lewe van sondaars nie.. Feit is dat ons almal sondaars is – ook die onderdruktes en nie net die onderdrukkers nie. Soos Jes 64:6 sê: “…ons beste dade is soos ‘n besoedelde kleed”. Verder lees ons in Rom 3:11-12 dat daar niemand is wat goed doen nie, nie eers een nie.

    Soos dr John MacArthur (2022) sê, is SG ‘n gevaarlike konstruk om die kerk van Jesus se aandag van sy doel af te trek, nl evangelisering. Die Wil van God is nié dat ons ‘n samelewing moet skep waar sosiale gelykheid heers nie, maar om die Woord te verkondig.

Comments are closed.

Scroll to Top