Oud-minister Adriaan Vlok is op 8 Januarie na ’n kort siekbed op 85 dood. Hy word deur vele mense onthou as die “oom” wat in die laaste paar dekades die voete gaan was het van mense wat hy as oudminister van polisie (1986-1991) in die apartheidsjare te na gekom het. “… hy het verstaan dat ons moet gaan regmaak waar ons brûe verbrand het. Hy het sy berou konkreet uitgeleef,” skryf Stephan Joubert van e-kerk wat Vlok se roudiens hanteer het in hierdie kort huldeblyk.
Dit was in Julie 2006 dat my paaie vir die eerste keer gekruis het met dié van Adriaan Vlok. Hierdie oudminister van polisie in PW Botha se eertydse kabinet het ’n artikel gelees wat ek in daardie tyd in die dagblad Beeld geskryf het. Dit het gehandel oor Pine Pienaar, ’n gewese vegvlieënier van Pretoria wat sy huiswerker, Maria Matseke, se voete gewas het. Pine se verhaal was een van die beweegredes vir oom Adriaan se keuse om eerwaarde Frank Chikane se voete te gaan was in die Uniegebou. Chikane was toe nog direkteur-generaal van die presidensie. Hulle twee het daardie dag besluit om dit stil te hou, maar ’n paar weke later het Frank vir sy gemeente in Soweto van die voetwassing vertel. Spoedig was dit wêreldnuus.
Van toe af het oom Adriaan regoor die land begin om mense se voete te was. Ook het hy sy eertydse vyande gaan opsoek, en ’n pad van versoening gestap. Tussendeur het hy Sondag na Sondag met sy stokou bakkie kos aangery vir arm mense in ’n settlement in Pretoria, asook in Tembisa. Oor die afgelope jare het hy gereeld gevangenes besoek; Bybels uitgedeel, en selfs vir ’n paar armes wat geen heenkome gehad het nie, blyplek gegee in sy huis.
Lees ook: Vergifnis vra bring vryheid sê Vlok
Adriaan Vlok het begryp dat Jesus ons nie net red van ons sondes nie, maar ook van ons ou manier van leef. Jesus se opdrag dat as ons eerste wil wees, dan moet ons heel laaste wees en mekaar se bediendes, is konkreet deur hom beliggaam. Ook het hy verstaan dat ons moet gaan regmaak waar ons brûe verbrand het. Hy het sy berou konkreet uitgeleef. Dit het ’n ieder en elk ervaar wat oor die afgelope jare met hierdie nederige man van God te doene gehad het. Adriaan het vir ons almal gewys dat ’n lewe van weerloosheid en opoffering nie maar net ’n mooi ideaal is nie, maar ’n doenbare werklikheid. – Stephan Joubert
