Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Pieter Verster: Gesprek oor bose tog nodig en belangrik

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Pieter Verster van Bloemfontein skryf: Prof Anton van Niekerk se bydrae in Die Burger (25-04-2023:10) oor die Duiwel kan nie onbeantwoord gelaat word nie. In navolging van Bultmann verwerp hy veral die verhale van Genesis 1 – 3 as mites. Hy het ook beswaar daarteen dat die Vrystaatse sinode van die NG Kerk daaroor besin.

Hy en sy medestanders het veral drie argumente. Die eerste is dat die Duiwel ’n mitologiese figuur met bokbaardjie en ruie wenkbroue is, waaraan hy nie meer glo nie. Tweedens dat die boosheid in elk geval aan die kruis oorwin is, alhoewel hy erken dat boosheid wel nog voorkom.

Die laaste argument teen die bestaan van die Duiwel is dat mense die erkenning van die bestaan van die Duiwel gebruik om hulle eie verantwoordelikheid vir die kwaad te ontken. Die vraag is beide ’n eksegetiese en hermeneutiese vraag. Dit is uiters moeilik om alle verwysings na die Duiwel en die demone as mitologiese opmerkings af te wys.

Jesus se versoeking in die woestyn (Matt 4:1-11, Mark 1:12-13 en Luk 4:1-13); die talle uitdrywings van demone (onder andere Matt 8:28-34); die verwysing na die optrede van die Duiwel in Openbaring (veral Op 12 en Op 20) en die waarskuwing teen die Duiwel wat soos ’n brullende leeu rondloop om te verslind (1 Pet 5:8) kan kwalik as mitologies verklaar word. Dit sou ’n keuse teen die hele Nuwe Testament wees.

Die strooipop dat die Duiwel ’n figuur met bokbaardjie is, is nie ernstige debat waardig nie. Die oorvloed van kwaad in die wêreld kan kwalik net aan mense se eie optrede toegeskryf word, alhoewel menslike verantwoordelikheid steeds wel erken moet word. Inderdaad het Jesus die Duiwel aan die kruis oorwin, maar dit is veral in Openbaring duidelik dat hy steeds as bose persoon optree tot die finale vernietiging aan die einde. Menslike verantwoordelikheid word ook nie deur die erkenning van die bestaan van die Duiwel misken nie.

Die erns van die saak is groot. Dit raak die hele verstaan van die Skrif, die evangelie van verlossing en die taak van die kerk om ten diepste mense uit die duisternis na God se wonderbare lig te lei deur die verlossing van Jesus Christus wat hulle ook uit die mag van die Duiwel bevry. Sonder om my enigsins te skaar by diegene wat wil doleer, is dit duidelik dat die weë al meer uiteengaan.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Pieter Verster: Gesprek oor bose tog nodig en belangrik”

  1. Ds Frikkie van Niekerk

    Dankie Prof Pieter vir jou helder beredenering en uitklaring van prof van Niekerk se artikel. Dit is jammer dat vrydenkendes so gemaklik die Heilige God en sy Woord kan reduseer tot onwaarhede (mites), wat impliseer dat die sondeval nie plaasvind nie en daarom sou Jesus se koms dus ook onnodig wees. Sou graag wil hoor wat sy leraars en kerkraad gaan doen mbt sy ampseed, indien hy wel as kerkraadslid bevestig was. Sou hy ook bo die kerklike tug verhewe wees?

  2. Alwyn du Plessis

    Ek wil hraag weet waarom die duiwel in die NT ‘n belangrike figuur geword het. In die OT. As ek reg is word in die OT slegs in Kronieke, Job en Sagaris na Satan verwys.
    As ek reg onthou maak prof van Niekerk die aanname dat in Genesis na die duiwel verwys word . Die slang verlei die mens en eers in Openbaring 12:9 word na die Genesis slang as Satan verwyd.

Comments are closed.

Scroll to Top