Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Christo Benadé van NG Suider-Strand skryf: Ek is jammer dat ds Theo Danzfuss nie kennis kon neem van die hele verslag van Taakspan Leerstellige en Aktuele Sake (STLAS) oor die huwelik en menslike seksualiteit nie. Die verslag (sien Kerkbode se nuusberig Só praat lidmate oor die huwelik (Dag 3 van die Wes-Kaapse Sinode) het oor soveel meer gegaan as die terugvoer van ds Marileen Steyn oor navorsing van lidmate se persepsies oor die huwelik. Dit was een lens wat gebruik is om die vergadering se verstaan van die huwelik te verdiep.
LEES OOK: Alle beriggewing en stories vanaf die sinodesitting
Daar is eerstens ’n opsomming gegee van vorige verslae oor perspektiewe in die OT en NT oor die huwelik. Tweedens is die perspektiewe gegee wat die kerk deur die geskiedenis gehad het oor die huwelik met verwysing na prominente teoloë en tradisies. Wat vir my interessant was, was die verskil in perspektiewe tussen Luther en Calvyn se perspektiewe op die huwelik. Etiese merkers vir die huwelik is ook voorgestel in die verslag. Laastens is terugvoer oor Steyn se navorsing gegee onder die opskrif “Wat leef in lidmate se hart oor die huwelik?”.
Die indruk is nooit geskep dat die NG Kerk se beleid bepaal gaan word deur die “bevindinge van ’n kwasi-wetenskaplike navorsing oor lidmate se opinie” nie. Ek hoor Danzfuss se versugting na die “goeie ou dae toe die kerk se debatte nog gegaan het oor: ‘Wat leer die Woord?’ en nie oor ‘Wat dink die mense?’ nie”. Toe die dominees met die teologiese spiere en gawes van retoriek die debatte kon domineer en die mense met verwondering toegekyk het.
Lees ook: Frederick Marais: Dán word debat eerder dialoog
God het tog sy Gees aan die dominees én die mense gegee. Daarom probeer die sinodes veral moeite doen om deur middel van tafelgesprekke en gespreksdokumente die geleentheid te skep waar gelowiges kan deel wat die Gees op hulle hart lê. Die deelname van mense was vir my weer ’n besonderse ervaring in die tafelgesprekke. Dit het getuig van ’n diepe geloof en geestelike onderskeiding waaruit ek baie geleer het en verryk is.

Waarom die klem op “wat sê die WOORD”? Die ware kerk het nog altyd verstaan dat die Gees werk en spreek déúr die Woord, nie los van die Skrif nie – of dit dominerende “dominees” is of “mense” (sic). Die Heilige Gees is die goddelike Outeur van die hele Skrif en Hy gee openbaring deur dié Skrif (1 Kor 2:6-16; 2 Tim 3:15-17; 2 Pet 1:20-21). Wees baie versigtig met bloot menslike opinies