Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Hoffie Hofmeyr: Christelike versoening behels om te praat oor spanning en polarisasie

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Hoffie Hofmeyr van Pretoria skryf: Die huidige spanning in die NG Kerk neem tans uiters sorgwekkende afmetings aan.

Selde in die geskiedenis van hierdie kerk was die temperatuur van polarisasie so hoog. Dit gaan in hierdie spanningsituasie oor twee groeperinge se verskillende perspektiewe op Skrifinterpretasie en oor ’n onwilligheid om na mekaar te luister.

LEES OOK: ‘Kreatiewe spanning’ tussen akademiese teologie en kerklike teologie is noodsaaklik, sê dosente by Maties

Die twee groeperinge is die institusionele NG Kerk onder leiding van die Algemene Sinode en sy streeksinodes, en aan die ander kant die Kairos Netwerk/Koinonia Sinode met sy sterk fokus op radikale Skrifreformasie.

Albei groeperinge maak aanspraak daarop dat hulle na die Skrif luister. Vir die een groepering is die konteks egter belangriker as vir die ander. Om sake te kompliseer is daar by eersgenoemde meer vrysinnige groepering ’n groter uitgelewerdheid aan eietydse modetendense, naamlik die postmodernisme en van onlangs ook die “woke-agenda”.

In die fokus op “wokeness” gaan dit by bepaalde sinodes al meer oor kwessies van sosiale geregtigheid, kritiese rasteorie en interseksionaliteit wat deur die sinodale taakspanne vir gendergeregtigheid en identiteit en rasseversoening gedryf word. Weereens kom die sentraliteit van die Skrif en van die waarheid in God Drie-enig egter in die gedrang en word die potensiaal vir spanning steeds groter.

LEES OOK: Koinonia Sinode: 62 gemeentes registreer vir eerste saamtrek

Tot dusver het pogings tot versoening tussen die twee hoofgroeperinge in die NG Kerk ’n muis gebaar, want daar is veral by die leierskap van die Algemene Sinode ’n onwil om te praat. Hoewel hierdie leierskap in gesprekke tree met verskillende ander “nie-amptelike kerklike instansies”, skuil hulle volhardend agter kerkregtelike verskonings om nie met ’n groterige groepering van lidmate en gemeentes vanuit die NG Kerk self te praat nie. Daarmee word nie beweer dat hierdie ander groepering sonder foute is nie. Christelike versoening in eenvoudige terme behels in wese om te praat oor spanning en polarisasie, om tot ’n vergelyk te kom, en dan om die nuwe pad van opregte versoeningsvoornemens te bewandel.

Daar is op pad na die Algemene Sinode van Oktober 2023 eintlik nou net twee opsies oor: Aan die een kant om te volhard in die halsstarrigheid en onbereidwilligheid om in ’n eerlike versoeningsgesprek te tree, wat jammer genoeg op ’n uiteindelike skeuring kan afstuur. Dit is sleg om te besef en te weet dat die leierskap van die Algemene Sinode ’n groter aandeel aan hierdie negatiewe houding het, hoewel hy vroeg en laat vir eenheid pleit.

Aan die ander kant is daar die opsie dat met diepgaande gesprek daar ruimte geskep sal word vir twee strominge in die NG Kerk, naamlik ’n meer vrysinnige stroom naas ’n radikale en Bybelse reformasiestroom, wat groeiende steun ervaar. Watter stroom uiteindelik gaan oorheers, weet ’n mens nie, maar soos prof Hennie Pieterse onlangs in die dagpers (Beeld, 9 Mei) dit stel, is daar ’n groot behoefte aan die soeke na ons gesamentlike gereformeerde erfenis. Mag God genade en duidelike leiding vir ’n sinvolle oplossing gee.

Geborg

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top