Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Henrietta Klaasing van Randfontein skryf: “Wokeness” het ’n modegier geword. “I woke up” is die Engels vir “Ek het wakker geword”, so die term “woke” kom daarvandaan maar in ’n metaforiese betekenis (soos die ou lied se woorde “ONTWAAK jy wat slaap en staan op uit die dood”).
Webster’s Dictionary definieer dit as “iemand wat bedag is op (wakker is ten opsigte van) onreg in die samelewing, veral rassisme.” Daardie definisie het intussen meer uitgebrei geraak en deesdae gaan dit om drie begrippe (verkort na DEI): Diversiteit (waar dit gaan oor die bevraagtekening of uitdaging van rassisme, seksisme en enige vorm van sogenaamde verdrukking); Ekwiteit (’n geforseerde gelykheid van uitkomste) en Inklusiwiteit (die “ruim-huis” siening wat almal in sogenaamde voorheenbenadeelde groepe wil omarm en insluit).
Dit is in pas met die heersende “zeitgeist” (tydsgees) met teorieë en ideologieë wat dikwels nie ooreenstem nie, of selfs vyandig teenoor die Bybel is. Die aanhangers van “wokeness” glo dat die huidige samelewing in wese onderdrukkend is ten opsigte van ras, geslag en seksuele oriëntasie. “Woke” is ’n wêreldbeskouing wat poog om die fondamente van ons Christelike geloof te dekonstrueer en dié wat dit nie aanhang nie, word “gekanselleer” (uit die vriendekring gestoot, gee geen aandag aan jou nie, ignoreer jou en jou opinie). “Wokeness” word sterk ondersteun deur groepe wat hulleself as verdruk of voorheen benadeel beskou en hulle beywer hulle vir “regstellende geregtigheid” ten opsig van hierdie kwessies. Dit plaas meer klem op hoe jy ’n situasie waarneem as op die werklikheid en gee in uiterste vorme,’n eensydige uitbeelding.
Waarom is “wokeness” eintlik nie konsekwent nie? Want dit gee voor om insluitend te wees, maar slegs bepaalde groepe word ingesluit, ander word uitgesluit of selfs “gekanselleer”. Dit kan lei tot omgekeerde rassisme wat nie noodwendig rasioneel regverdigbaar is nie. Terwyl dit voorgee om ander vriendelik te omarm, word bepaalde agendas gedryf en sienings op ander afgeforseer.
Baie goedbedoelende Christene – uit ’n begeerte om medelydend, aanvaardend en liefdevol te wees – swig voor kulturele druk om aan te pas by hierdie ideologieë, waarskynlik onbewus van die onbybelse neigings daarvan. “Woke”-aanhangers moet ook erken dat sekere groepe mense nie inherent rassisties is bloot weens die kleur van hulle vel nie.

Hierdie artikel is gevul met misverstande en valse aannames oor “wokeness”. Die skrywer probeer ‘n negatiewe prentjie skep deur te beweer dat “wokeness” die Christelike geloof probeer dekonstrueer en mense wat nie daaraan voldoen nie, “gekanselleer” word. Dit is ‘n oordrewe en ongegronde bewering.
Die skrywer veralgemeen ook die aanhangers van “wokeness” deur te sê hulle glo dat die huidige samelewing inherent onderdrukkend is ten opsigte van ras, geslag en seksuele oriëntasie. Hierdie veralgemening is misleidend en skep ‘n vals beeld van die motiewe agter “wokeness”.
Die artikel plaas ook ongegronde kritiek op Christene wat moontlik probeer om inklusief en liefdevol te wees. Dit is ‘n oneerlike voorstelling van Christelike waardes en suggereer dat medelydendheid en aanvaarding in stryd is met die Bybel. Dit is ‘n verdraaiing van die waarheid.
Dit is belangrik om die inhoud van hierdie artikel met kritiese oë te beskou en die feit dat dit ‘n ongebalanseerde en negatiewe perspektief bied, te erken. Dit is noodsaaklik om ‘n eerlike en respekvolle gesprek te voer oor “wokeness” en die strewe na regverdigheid en inklusiwiteit.
Miskien moet Nico n Bietjie meer gaan oplees oor Hierdie woke virus. Veral in oorsese Koerante. Dan Sal hy Sien dat wat Henrietta skryf is heel Korrek.
Nico se kommentaar is regtig niks meer seggend nie as net die negatiewe teenkant van alles wat dr Henrietta Klaasing verhelderend oor WOKE geskryf het. Dit is bloot die rug keer op alles wat sy sê sonder om nuwe perspektiewe by te lê. Ek volstaan by alles wat dr.Henrietta uiteengesit het oor WOKE, maar wil graag iets byvoeg by die kern van haar skrywe betreffende die inkonsekwentheid van WOKE. Dit is tekenend van die hele stelsel dat daar nie logies gehandel word volgens sy eie opgestelde beginsels nie en daarom nie te vertrou is in die uitwerking van sy idees nie. Dit alles het reeds by die Skepping plaasgevind. Die duiwel kon nie n eie standplaas vind om sy missiele op te stel en teen God en mens oorlog te voer nie. Daar was geen ander plek as wat God Self geskep het nie. Daarom word sy werkplek die paradys, vanwaar hy die vervalle aarde betree het en tot binne die inkonsekwente en bedrieglike hart van die mens gekom het. Vandaaruit benader hy die sugtende mens in n sugtende skepping om vals hoop te gee: “Jy kan soos God wees, self God word, self woord word wat die Woord kan verander…!” So gaan die hele wêreld verwonderd agter die WOKE-dier aan. Alles vervlugtig, val uitmekaar en kom tot niks…
Niko beweer Dr Henrietta se artikel is ongegrond – maar stel niks daarteen behalwe vae aantygings nie.
As jy dan so goed die regte motiewe van “wokeness” ken, hoekom spel jy dit nie uit nie. Is dit makliker – en laat dit jou beter voel – om te sê iemand verstaan jou nie?
So kom ons kyk na jou siening van inklusiwiteit en liefdevolheid: is dit volgens jou liefdevol dat my siening wat moontlik van joune verskil gekanselleer word? Moet jy nie liewers eers die moeite maak om die siening te ontleed aan die Woord nie? Sal ons onsself deur mensewoorde lei of deur die Heilige Gees?
Is regverdigheid nie juis om te doen wat God se Woord vra nie? Of eer ons nou mense bo Hom?
Dr. Henrietta stel dan juis dat mense versigtig moet wees wanneer hulle medelydend, aanvaardend en liefdevol optree (soos goeie Christene betaam) – om nie mislei te word deur valse (“Woke”) profete nie.