Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Belewenis wat mens bybly … om stilte, afsondering en verwondering te geniet in die fynbos, klowe en waterstroompies van die Greytonnatuurreservaat tydens ’n stilteretraite by die Sentrum vir Geloofsvorming. Foto’s: Helene Meissenheimer

‘Omvorming geskied nie onder narkose’ – Geloofsgewoontes en die plekke waar ’n mens dit aanleer

Heléne Meissenheimer vertel die ontstaanstorie van ’n Overbergse retraitesentrum wat al meer as 300 leraars gehelp het. En leer by ’n retraiteganger hoe stilte, ‘single tasking’ en nog ’n paar daaglikse gebruike sy geloof omvorm het.

Die son se laaste strale vang die ligpienk koningsprotea net reg vir ds Gys van Schoor om ’n foto met sy selfoon te neem.

Buiten vir ’n paar suikervoëls se sagte gekwetter is dit stil waar ons op hierdie wintermiddag op modderige grondpaadjies stap tussen bergklowe en deur ’n dal gevul met proteabosse wat kophoogte staan. Kort agter ons is sy vrou, Thea.

Ons drie stap sonder praat. Net soms beduie Gys iets met sy stapstok of gee Thea ’n kort fluit om sy aandag te trek. Daar is baie om na te kyk en beleef in hierdie lushof van ’n natuurreservaat langs die skilderagtige Overbergse dorpie Greyton aan die voet van die Riviersonderendberge.

Daar is baie om na te kyk en beleef …
Die son se laaste strale vang die ligpienk koningsprotea net reg.

Die stap gebeur vir ’n spesifieke rede. Kerkbode is by die Van Schoors om te gesels oor geloofsdissiplines, wat dit is en hoekom dit goed is om dit te doen. Beide Gys en Thea is ervare geestelike begeleiers wat vir meer as 15 jaar betrokke is by die hou van retraites vir predikante om hulle uit te nooi om Jesus en sy koninkryksevangelie te herontdek.

Hulle bediening staan bekend as die Sentrum vir Geloofsvorming en het ten doel om, soos omskryf op die privaat organisasie se webblad, geleenthede te skep “waar gelowiges geloofsdissiplines kan inoefen om weer hulle ‘mens-wees voor God’ te kan herontdek en bevestig, of om sommer net weer te kan ‘terugkeer’ na innerlike gesondheid”.

Lees ook: Stop mistieke spiritualiteit dan by stilte?

Later die aand verduidelik Gys dat stap in die natuur ’n praktiese belewing kan bied van drie geloofsgewoontes wat vir hom persoonlik na aan die hart lê, stilte, afsondering en verwondering. Hy sê dit was die eerste keer in maande wat hy weer daar kon stap na hy ernstig siek was die winter, selfs ’n paar dae in die hospitaal was.

Voor ons verder oor geloofsdissiplines kan gesels (sommige praat ook van geloofsgewoontes) wil hy eers van sy eie geloofsreis vertel om konteks te skep, sê dié gryskop NG leraar met verwysing na sy eie woestyntyd sowat 20 jaar gelede waarin hy amper van sy geloof in God weggestap het.

Kerkbode is by Gys en Thea van Schoor om te gesels oor geloofsdissiplines, wat dit is en hoekom dit goed is om dit te doen.

Hy was toe gemeenteleraar by ’n groot voorstedelike Kaapse gemeente. Thea, ’n opgeleide verpleegkundige, was voltyds ma vir hulle vier kinders, toe nog klein. Skielik tref ’n bedreiging dat hulle al hulle finansiële sekuriteit kan verloor en byna gelyklopend hiermee, het een van hulle seuns ernstig siek geword met diabetes.

Vir maande was al wat hy kon bid, “Ag Here, help”, maar niks het verander nie. Gys vertel hy het gevoel dat God besig is om hom te drop na 20 jaar van predikant wees. By tye het hy voor God gelê en gehuil, hierdie “rugby-ou wat glo in cowboys don’t cry”.

Algaande was daar by hom egter ook ’n groeiende besef dat God met hom besig is. Hy vertel hy het ’n sagte stem in sy binneste hoor sê: “Gys jy’s amper 50. Ek en jy gaan oor begin en dit gaan oor een woord, Jesus.”

Lees ook: Marius Nel: Hoe lyk ’n lewe wat verbonde is aan die lewe, dood en opstanding van Jesus?

Terugskouend sê Gys is hy dankbaar dat God hierdie tyd toegelaat het, soos hy dit stel, “Dit was die diepste geskenk, want goed het in my gebreek wat crucial was”.

In sy latere boek, Die reis: Dissipelskap as ’n nuwe manier van lewe, beskryf Gys hoe God hierna deur middel van verskeie mense hom help ontdek het dat hy (en hy vermoed ’n groot deel van die geloofsgemeenskap) ’n verskraalde verstaan het oor Jesus se koninkryksevangelie. Hy skryf onder meer om Jesus se dissipel te wees gaan oor veel meer as ’n eenmalige bekering, dit “gaan ten diepste oor karaktertransformasie … oor voluit menswees!”

Een van die pragtige illustrasies deur die kunstenaar Alida Bothma.

Dit is ’n boodskap waaroor Gys in 2023 op die vooraand van 70 steeds opgewonde word. Met die passie van ’n Paulus met ’n Damaskuservaring verduidelik hy aan die hand van pragtige illustrasies in ’n PDF-aanbieding op sy skootrekenaar hoe Jesus ons deur sy voorbeeld met ’n waslap en die kruis kom wys het wat egte menswees beteken.

Hierdie proses van omvorming geskied nie onder narkose nie, sê Gys. Dit vra ons aktiewe deelname en dit is hier waar geloofsdissiplines inpas. Hy omskryf dit as “die praktiese maniere waarop ons as die klei ons in die hande van die Pottebakker plaas om deur Hom gevorm en omvorm te word, waarmee ons meegee aan sy trekkrag en deelneem aan dit waarmee Hy nou besig is”.

Meer oor die Sentrum vir Geloofsvorming

In 2008 het dr Coenie Burger, toe leier van Communitas by die Universiteit Stellenbosch, vir Gys gevra om betrokke te raak by die geestelike begeleiding van predikante. Dit het in 2010 gelei tot die ontstaan van die Sentrum vir Geloofsvorming. Vennootskappe is onder meer gesluit met Communitas asook verskeie NG streeksinodes.

’n Kurrikulum vir ’n driejaargeloofsreis gemik op predikante is ontwikkel met meer as 300 predikante wat landswyd hieraan blootgestel is. Die laaste klompie jare het hulle egter ervaar dat trekkrag vir hulle werk afneem, veral vanuit die Kaap. Soveel so dat hulle verlede jaar begin wonder het of hulle die sentrum moet sluit.

Verlede jaar tydens ’n Pinksterreeks wat Gys gevra is om by die gemeente Constantiakruin aan te bied het alles verander. Thea sê hulle het besef hulle moet wyer begin dink as om net NG predikante te bedien. Uiteindelik het hulle tot die oortuiging gekom om hulle retraites oop te stel vir gelowiges van alle kerke. Hulle kursusmateriaal is besig om in Engels vertaal te word. Intussen is hulle ook besig met opleiding van ’n groep fasiliteerders wat die werk van die sentrum by hulle kan oorneem.

Dr Jaco Schoeman. Foto: Argief

Só het ek stilteretraite ervaar – dr Jaco Schoeman vertel

Dr Jaco Schoeman van NG Gemeente Constantiakruin het ses jaar terug ’n stilteretraite by die Van Schoors op Greyton gedoen. Hy vertel watter geloofsdissiplines en -gewoontes uit hierdie ervaring gevolg het.

Lees ook: Stilte en afsondering – ’n verpligte dissipline?

Daardie stil-retraite ses jaar gelede was inderdaad lewensingrypend vir my! Dit was ’n keerpunt in my lewe. En nou, ses jaar later, kyk ek terug op daardie belewenis, en ek sien die verskil wat dit in my lewe gemaak het. As ek hierdie verskil in woorde moet uitdruk, sal ek fokus op die geloofsdissiplines en geloofsgewoontes wat daaruit gevolg het.

Dalk net ter wille van onderskeiding: Geloofsdissiplines is gewoontes wat jou help om dinge reg te stel in jou lewe. Daar was iets verkeerd, en die dissipline help jou om die korreksie aan te bring wat nodig is. Geloofsgewoontes is daaglikse gebruike of oefeninge wat jou geloofsvorming bevorder: die geleidelike transformasie van jou gees (soos liggaamlike oefeninge jou liggaam se gesondheid bevorder).

Die eerste geloofsdissipline wat vir my uitstaan – wat afkomstig is uit daardie stilretraite ses jaar gelede – is die dissipline van stadiger leef. Ek het tydens die retraite ervaar dat die Here vir my geroep het om stadiger te lewe. My lewenstempo was van so ’n aard, dat ek nie sy stem kon hoor, of sy teenwoordigheid kon geniet op ’n oomblik-vir-oomblik wyse nie. So, ek moes leer stadiger loop, en stadiger ry. Ek moes leer om minder dinge op my doenlysie te plaas. Die woord wat vir my oopgegaan het, was “single tasking”. Vandag leef en ry ek stadiger, ek leef intensioneel met minder dinge op my lysie om te doen. Ek haal dieper asem.

’n Belangrike geloofsgewoonte wat van die retraite af met my saamgekom het, is Stilte en Afsondering. Ek het die nare gewoonte om in die middel van die nag wakker te word, en vroeër het ek dit beveg met podsendings en oorfone, maar toe kliek ek eendag: Die Here maak my wakker vir hierdie kuier met Hom. En nou is dit my gunsteling gewoonte: om te kuier met die drie-enige God, in die middel van die nag. Dit is letterlik elke nag, en dis onbeskryflik kosbaar. Dit is waar ek antwoorde vind, en vrede, en troos en liefde. Dit het my geestelike tuiste geword.

’n Ander geloofsgewoonte wat ek ontvang het in die stilretraite, was die geskenk van ’n “spiritual director” (’n geestelike gids). Wanneer jy in stilretraite gaan, praat jy met niemand nie, maar jy het ’n gids met wie jy een keer per dag gesels. Daardie persoon help jou om te verwerk wat in die afgelope dag gebeur het, hoe die Here teenwoordig was, en wat Hy tans mee besig is in jou lewe. Daardie persoon help jou om op sekere dinge te fokus in die volgende dag. Hulle vra soms moeilike vrae. Dit is iemand wat luister na jou worsteling in geloof, en jou help om helderheid te vind in hierdie innerlike stryd. Die resultaat was dat ek ’n geestelike gids gesoek het in die area waar ek leef. Ek het so ’n persoon gevind en elke maand gaan sit ons saam en gesels diep oor dit wat die Here tans mee besig is in my lewe. Wanneer ek daar wegry voel dit letterlik asof my gees gestort het: Ek voel skoon, en nuut en vry van enige hindernis.

Ek is innig dankbaar vir die veranderinge wat die stilretraite in my lewe aangebring het. Ek sal dit vir niks wil verruil nie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top