Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Johan van der Merwe: ‘Bid asof alles van God afhang, maar werk asof alles van jou afhang’


Sondag 13 September was in die NG Kerk ’n dag van verootmoediging en gebed. Dit is ook goed so, want Suid-Afrika huiwer op die randjie van die afgrond van totale ineenstorting.

Lees ook: Dag van Verootmoeding (13 Augustus): ‘Dit is die werk en roeping van die kerk. Sy is ’n hoopdraer!’

Groeiende armoede, geweld, ongekende korrupsie en beurtkrag het deel van die donker verhaal van die land geword. Dit is nie die eerste keer dat die NG Kerk in ’n tyd van groot nood saam bid nie. In 1899 is daar kort voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog in gemeentes gebid en gepleit vir vrede.

’n Groter wonderwerk het in April 1994 afgespeel. ’n Week voor die verkiesing het genl Constand Viljoen reggestaan om die verkiesing met ’n leër van 50 000 man te ontwrig. Hy het dit self beskryf deur te sê: “Ek het my vinger op die sneller gehad”. Op 20 April 1994 is die besluit geneem om die “honde los te laat”. Na intense samesprekings oor die naweek van 22 en 23 April 1994 is die bevel gekanselleer en kon die verkiesing op 27 April 1994 voortgaan. Dit was egter in die NG Kerk ook ’n tyd van intense gebed en voorbidding. Wie sal die kerkgeboue vol lidmate wat vir die tien dae voor die verkiesing in die oggende voor werk saam vir vrede gebid het, vergeet? En toe gebeur die wonderwerk! Terwyl mense onderhandel het, het die Almagtige God self gesorg. Nou het ons weer gebid. Die vraag is wat nou?

Lees ook: Johan van der Merwe: ’n Uitdaging aan die NG Kerk vir 2023

Miskien lê die antwoord in ’n baie ou slagspreuk wat aan die kerkvader Augustinus toegedig word. Alhoewel dit nie seker is of hy dit gesê het en of Ignatius van Loyola dit in die 16de eeu die eerste keer gebruik het nie, gee dit tog vir ons ’n rigtingwyser vir die pad vorentoe. Dit lui soos volg: “Bid asof alles van God afhang, maar werk asof alles van jou afhang.”

As ons op 13 Augustus met toewyding en oorgawe in die NG Kerk gebid het asof alles van God afhang, dan is dit nou tyd om moue op te rol en te begin werk asof alles van ons afhang. Bid en werk word so twee kante van dieselfde muntstuk – in die stad en op die dorp, op elke plek waar daar ’n NG Kerk is. Op ’n keer vra iemand my tydens ’n oorsese besoek waar ek vandaan kom. Toe hy hoor dat dit Suid-Afrika is, was sy woorde: “O, you are from the country in Africa where the miracle happened.” Miskien is dit weer tyd vir ’n wonderwerk, want ons het gebid en nou gaan ons werk!

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria en is ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.