Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Teen die trappe af sien hy duidelik hoe die kindervoete oor die jare heen ’n paadjie langs die handreëling afgetrap het, ’n smalle weg van die boonste vertrekke af, soms by die voordeur uit, die lewe in, vertel Dana Snyman oor sy besoek by wat eens die MTR Smit-kinderhuis was op Ugie in die Oos-Kaap. Foto’s: Dana Snyman

Dana Snyman vanaf Ugie: Die stadige proses van vredemaak


Ugie wankel tussen bid en droom, soos soveel ander dorpe in die land.

Die strate en sypaadjies is redelik skoon, maar jy kan die verval nie miskyk nie. Geboue wat smag na verf. Mense wat oral sit en wag.

Lees ook: Dana Snyman skryf vanuit Machadodorp: ’n Skriba se stories en die manier waarop ons land anders word

Hier is ’n kinderhuis, is al wat ek van die dorp weet. Ek vra ’n man wat verbygestap kom. Nee, nee. Die kinderhuis is lankal nie meer hier nie. Gaan gesels met meneer Gouws, sê hy en beduie na ’n dubbelverdiepinggebou straataf.

Die gebou lyk soos ’n skoolkoshuis uit ’n vroeëre tyd. Links van die voordeur is die hoeksteen: “Onder u vlerke het ons skuiling gevind. Hierdie steen is gelê op 6 Desember 1924 deur MTR Smit VDM.” Die hoofgebou van die MTR Smit-kinderhuis.

’n Lang man met ’n sagte stem kom deur toe. Chris Gouws, ’n gewese skoolhoof op die dorp, besit nou die gebou en het dit in ’n gastehuis verander. Die Clarendon Guest House.

Kom in, nooi Chris. ’n Ou vrees roer diep in my. Ek is bang vir ’n kinderhuis. Ek onthou hoe ek as kind saam met my oorlede ma en die ACVV-susters die Jannie Roux-kinderhuis op Barkly-Wes besoek het. Hoe ek nie met die kinderhuiskinders gesels het nie en bang was om te ver van my ma af te wees. Sê nou hulle vergeet my hier.

In die vyf jaar wat ek in die Hoërskool Nylstroom was, was ek nie ’n enkele keer by die Abraham Kriel-kinderhuis op die dorp nie. ’n Mens het die plek doelbewus vermy, besef ek nou. Bang jy beland ook daar. ’n Lewe sonder ’n pa en ’n ma was jou grootste vrees.

Chris lei my deur die vertrekke. In die eetkamer met die houtvloere hoor jy in jou verbeelding iemand met ’n mes se agterkant op ’n tafel klop en begin bid: “Segen Vader vir wat ons gaan eten …” Kookvleis, rys en kool op die kinders se borde.

Chris Gouws, ’n gewese skoolhoof op die dorp, besit nou die gebou en het dit in ’n gastehuis verander.

Dit is asof Chris hierdie gebou aangeneem het en met ouerlike liefde wys hy vir jou die plek. Min van die oorspronklike meubels is oor, maar Chris se groot versameling antieke meubels staan die vertrekke vol. Skilderye en ou afdrukke teen die mure, ook die een van die breë en die smalle weg. Hemel toe. Of hel toe.

Die noodsaaklikheid vir ’n kinderhuis hier in die Noordoos-Kaap het tydens die 1918-griepepidemie ontstaan. Duisende mense is destyds van die Groot Griep in die land dood – en miljoene wêreldwyd.

“Baie kinders op die plase in die omgewing se ouers is van die griep dood, dan kom die plaas se werksmense met die kinders hier op die dorp aan,” vertel Chris. “Hulle het nie mooi geweet wat om met die kinders te doen nie, dan neem hulle die kinders na ds Smit se pastorie toe.”

Dit is ds MTR Smit wat besluit het hier moet ’n kinderhuis gebou word. Die plek is laterjare uitgebrei. Los eenhede is dieper die dorp in opgerig, maar in 1987 is besluit om die kinderhuis Port Elizabeth toe te verskuif.

“Dit is jammer dit het gebeur,” sê Chris, maar ons praat nie nou daaroor nie.

Lees ook: Dana Snyman: ‘Alles wat ek geestelik is, is verbind met Afrikaans – Afrikaans en die Bybel’

Hy stap voor my by die trappe op. Teen die muur aan die bopunt van die trappe is rye geraamde foto’s. Op een is ds Solly Ozrovech, wat as ’n seuntjie saam met sy boetie Mark hiernatoe gebring is nadat hulle ouers in ’n motorongeluk dood is. Later het ds Osrovech, nadat hy ’n predikant geword het, direkteur van die kinderhuis geword.

“Sien jy?” Chris beduie by die houttrappe af. Dan sien ek dit: Teen die trappe af sien jy duidelik hoe die kindervoete oor die jare heen ’n paadjie langs die handreëling afgetrap het, ’n smalle weg van die boonste vertrekke af, soms by die voordeur uit, die lewe in.

Baie min kinders wat in hierdie ou gebou gewoon het, leef nog. ’n Jaar of wat gelede was hier ’n vrou, bejaard, wat spesifiek na een ding wou kom kyk, vertel Chris en gaan wys die holgetrapte drempel van een van die kamers. “Sy wou hierdie drempel weer sien.” Die vrou het blykbaar nie aangename herinneringe aan die kamer nie en om een of ander rede onthou sy ná al die jare die duikgetrapte drempel.

Hier was ook ’n tweeling, gewese inwoners, nou oumense, wat deur die vertrekke kom stap het. “Dit was vreemd,” sê Chris. “Die een het net onaangename herinneringe van die plek, die ander een onthou net mooi dinge.”

Ek probeer dink hoe die kinders gevoel het wat hier gewoon het. Dit is nie ’n droefgeestige plek nie. Ek sien Ma en die ACVV-susters deur die Jannie Roux-kinderhuis se gange stap en potte se deksels in die kombuis oplig en van die kindertjies aan die hand vat, en dink: Só was die meeste van die mense wat die kinders hier help versorg het.

Lees meer: Dana Snyman skryf: Halleluja’s, ’n bus en ’n blokkie pienk-en-wit klapperys

By die voordeur het Chris ’n ander steen laat inmessel: “In liefdevolle herinnering aan Helena Gouws (Linie) … Dit was haar droom om hierdie gebou tot SY eer te gebruik en te restoureer …”

Linie was Chris se vrou. Sy is in 2012 in hulle huis op die dorp vermoor. Chris is ook deur die moordenaars beseer.

’n Mens maak maar stadig vrede daarmee, sê hy en kyk in die rigting van Linie se steen: “… en nou; geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie en die grootste hiervan is die liefde.”

Die voordeur staan oop en van onder af kan jy ook die smalle weg sien wat die kindervoete teen die trappe uitgetrap het.

Ek wil terugkom en hier kom oornag.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.