’n Groep gelowiges wat elke Sondagoggend, verkieslik in hulle eie gebou, ’n erediens hou gelei deur hulle gemeenteleraar. Dit is hoe die meeste van ons kerkwees ken. ’n Klein gemeente in die Vaaldriehoek het onlangs vir Kerkbode genooi om te kom kyk hoe lyk en werk hulle model van kerkwees sonder ’n vaste leraar.
Ons ry saam met die 68-jarige Charlotte Cloete. Sy ry vroeg elke Sondagoggend, net soos die son se eerste stofgeel strale die veld en kleinhoewes rondom Heidelberg verlig, die sowat 40 km van haar huis sodat sy vroeg kan wees by die omheinde kerkterrein van Kerk tussen die Mielielande.
As gemeentekoördineerder vertel hierdie petite blonde oud- maatskaplike werker dat sy dit as haar verantwoordelikheid sien om seker te maak alles loop reg elke Sondagoggend. Vanoggend ry haar man, dr Johan Cloete, saam om vanoggend se boodskap te bring.
Dit is vir altwee ’n spesiale oggend. Charlotte wil haar “priester”, soos sy hom noem, wys wat gebeur het in hulle gemeente sedert sy afskeidspreek in Augustus 2020 toe hy na 27 jaar as leraar by hierdie gemeente afgetree het om ’n gewone lidmaat te word.
Dit was sy voorstel dat die gemeente dit oorweeg om na sy aftrede voort te gaan sonder ’n vaste predikant omdat hulle die laaste paar jaar nie meer die dienste van ’n voltydse predikant kon bekostig nie. Na baie saampraat het die gemeente op Sondag 12 Mei 2019 per oop stembrief gestem om na sy aftrede ’n gemeente sonder gemeentepredikant te wees.
Cloete vertel hy het ook met sy vertrek die gemeente belowe dat die teologie wat daar gepreek gaan word “Skrifgetroue uitleg” sal wees, daarom help hy Charlotte met die kies van predikers en teoloë uit Gauteng om hier te kom preek terwyl die gemeente self handevat met die praktiese sy van kerkwees. Hierdie lys sluit vele in, soos prof Dirk Human, prof Alphonso Groenewald, prof Christo Lombaard asook gewilde sprekers soos ds Jaco Strydom en ds Charlotte Sibanyoni.
Lees ook: Johan Cloete en die gemeente sonder ’n dominee
Intussen kon Cloete, met die gemeente se toestemming, reeds voor sy aftrede sy eie praktyk as geregistreerde sielkundepraktisyn opbou om sy inkomste aan te vul.
Daar is twee goed waarmee hy al lank aankom, vertel hy later vir Kerkbode. Die een is dat hierdie gemeente met sy spitsdakkerk op hierdie amper verlate plek omring deur armer mense bedoel is om ’n plek van veiligheid te bied waar enigeen gehelp kan word.
Die ander is dat lidmate ’n groter aandeel moet dra in ’n gemeente se bediening aan hulle omgewing. Dat hierdie verantwoordelikheid nie net op die gemeenteleraar se skouers behoort te val nie. Daarom was die tema van sy doktorale proefskrif in 2010 Algemene priesterskap van die lidmaat in die NG Kerk.
“Ek dink hierdie kan dalk iets wees vir sukkelende gemeentes in die NG Kerk om nuwe moontlikhede van daar wees in die gemeenskap te ontdek,” sê die teoloog wat homself graag as ’n maverick beskryf. Soos hy dit stel, een wat daarvan hou om vir homself ruimte te skep om in te beweeg en in die proses ook mense uitdaag om nuut te dink oor goed soos wat is kerkwees en wat dit prakties van my as lidmaat vra.
Hy vertel graag hoe hy sowat 30 jaar gelede opgedaag het vir sy eerste preek as nuwe gemeenteleraar in ’n gewone pak met ’n bont das. Skaars ’n maand later vra een van sy kerkraad, toe nog almal in stemmige wit das en swart pak, vir hom “maar moet ons dan nie almal dieselfde lyk nie?”
Daardie tyd was daar gemiddeld 300 op ’n Sondagoggend in hierdie kerk omring deur kleinhoewes vol mielies. ’n Hele paar goed het intussen verander. Wat eers net die kerk se bynaam was, “Kerk tussen die mielielande”, het hulle nuwe naam geword en, na ’n aanvanklike getallegroei, het hierdie gemeente, soos met talle elders in die land, so 12 jaar gelede gesien hoe kerkbywoning – en gevolglik ook die gemeente-inkomste – begin krimp.
Cloete skryf dit toe aan ’n kombinasie van faktore, wat insluit: tradisionele NG kerkgangers wat wegtrek omdat die gebied verarm, opkoms van charismatiese kerke en, binne die NG Kerk, die spanning rondom selfdegeslagverhoudinge. Deesdae sien hierdie gemeente, gestig in 1969, op ’n goeie Sondag so 40 mense by ’n oggenddiens.
Hy sê wat hom egter trots maak, is om te hoor dat hier tot 300 siek mense in die week kom om gehelp te word by die kliniek op die kerk se perseel. Hy hoor ook dat kinders uit die informele nedersetting welkom is by die kinderkerk, dat lidmate ’n R5-klerewinkel begin het vir die ma’s wat op Maandae hulle kinders na die kliniek bring, dat hier ’n oom en tannie is wat koffie en broodjies maak vir mense wat plastiekdoppies optel en bring … alles klein goedjies in die regte rigting.
Dit wys vir hom hierdie gemeente, wat eens ’n, soos hy dit stel, “ABC-kerk (Attendance, Buildings and Cash)” was, dit nie meer is nie, maar ’n “kerk met swaaideure waar almal kan instap en veilig voel” word.
“Ek is so trots op julle,” sê Johan, toe hy later, gemaklik in rooi langmouhemp sonder das, voor die gemeente gaan sit (hy het die oggend sleg gevoel) om die diens te lei op ’n regop kroegstoel. Agter hom ’n oop ruimte met ’n houtsitkamerstel met bont kussings en langs hom ’n perspex-staander … want hy het jare gelede die handgemaakte tradisionele preekstoel laat uithaal om ’n meer “verwelkomende ruimte” te skep.
Hulle nuwe manier van kerkwees werk vir hom lekker, stem Johan van Niekerk, nege jaar lidmaat en deesdae ook kerkraadvoorsitter, saam. Na Cloete se boodskap bedank hy hom voor die gemeente met die woorde, “Dankie dat jy ons geprikkel het met die idee van voortbestaan sonder ’n dominee, ons kerk het nie mure nie en ek is dankbaar daarvoor.”
- Storie aangepas na publikasie.