“So sleg soos dit is om jou kind so voor jou te sien staan en die velle hang van sy lyf af … glo ons bo dit alles die Here is getrou en het sy hand oor hom gehou.”
Só vertel die 64-jarige Vrystaatse boer, Julius Hellmuth, vir Kerkbode oor die noue ontkoming Saterdag toe sy jongste seun Christof (31) erge brandwonde aan sy hande, arms, bene en gesig opgedoen het terwyl hulle besig was om ’n voorbrand te maak teen ’n naderende veldbrand op ’n buurplaas in die Bultfonteindistrik, so 100 km noord van Bloemfontein.
Die veldbrand is een van talle verwoestende brande wat gedurende die afgelope paar weke reeds miljoene rande se skade en veeverlies in die Vrystaat en dele van Noordwes veroorsaak het.
Lees ook: Elders gelees: Nog ’n NG streeksinode wil boere help na Vrystaat-brande
Vir gebore Vrystater Julius is hierdie brande steeds iets ongewoon en dit bekommer hom dat dit lyk of dit elke jaar erger raak. Die Vrystaat is droog, een massiewe tonteldoos en nog steeds is daar mense wat so onverskillig is. Hy vertel hoe hy nou die aand self gesien het hoe iemand ’n brandende stompie by ’n vensterruit uitskiet dat dit tot in die droë veld langs die pad rol … “as die wind gewaai het was daar ’n veldbrand,” sug hy.
Die veldbrande kom as nog ’n terugslag vir landbouers soos hy en sy seun wat reeds uitdagings moet hanteer soos hoë insetkoste, beurtkrag en droogte.
Maar hulle staan saam as gemeenskappe. “Almal help wat kan,” vertel hy en so was hy, sy seun en ’n werker Saterdag op hulle buurman se plaas om hom te help om ’n voorbrand te maak toe die wind skielik van rigting verander en ’n “dwarrel” veroorsaak. Sy seun het later vir hom vertel in sy poging om weg te kom het hy drie keer geval, waarna sy krag ingegee het en hy nie weer kon opstaan nie “… terwyl hy lê en dink dit is die einde ervaar hy hoe iets oor hom kom soos ’n koel wind wat hy nie kan verklaar nie.”
“Ek glo ons Vader gaan hom oprig dat hy ander boere bemoedig met sy getuienis,” gaan Julius voort. As gesin hulle is net so dankbaar hy lewe. Hulle het ook groot waardering vir die bemoediging wat hulle van regoor die land kry, soos Julius dit stel “dis maklik om vir iemand te sê ‘ek bid vir jou’ maar ons belééf dit … ons beleef dat daar hoop is en nuwe krag om aan te gaan al is dit moeilik”.
Lees ook: Jagersfontein: ‘Daar is nog goedheid in die land’
Christof sterk tans aan in die intensiewe eenheid van Busamedhospitaal in Bloemfontein. Hy en sy gesin, sy vrou, Anél en hulle 3-jarige seuntjie Eben woon op dieselfde plaas as sy ouers, Julius en Karin. Sy ma het vir Kerkbode ’n brief aangestuur (sien onderaan) wat geskryf is deur Christof se klein niggie, Chané Uys, wat as plaasdogter in die Theunissen distrik groot geword het. Haar pa wat steeds boer in die Theunissen distrik het ook oor die naweek veldbrande bestry.
Só kan jy help
Dit is vir hom aan die een kant verskriklik om te hoor van al die brande maar aan die ander kant is hy ook verwonderd hoe mense saamwerk, vertel ds De la Harpe le Roux oor sy beleef van die afgelope tyd se brande. Sy pos as hoof van die NG Kerk Vrystaat se Diens van Barmhartigheid beteken hy is op verskillende WhatsAppgroepe van die provinsie.
Die streeksinode se Hoopfonds val ook onder sy sorg. Hy verduidelik al die fondse wat mense hier inbetaal om boere te help wat swaarkry as gevolg van die brande word uitbetaal aan die Vrystaatse landbou-unie wat dit dan weer aan landbou-unies uitbetaal. ’n Groot behoefte op die oomblik is fondse vir brandstof om veevoer aan te ry.
De la Harpe sê hulle uitgangspunt is dat die kerk daar is om ’n ondersteunende rol te vervul. Hy gee aan plaaslike boereverenigings deur wanneer hy hoor van gesinne wat swaarkry. “Die kerk vervul ’n ondersteunende rol vir hulle wat op die frontline is want hulle weet wat hulle doen,” voeg hy by.
Vind meer uit oor Hoopfonds HIER.
Brief: ‘Ek wonder of die reuk van rook al weggewaai is?’ – ’n Boer se dogter beskryf haar belewenis van die onlangse verwoestende veldbrande
Ek wonder of die reuk van rook al weg gewaai is? Het die boere se vrouens daardie klere al skoon gekry? Is die as al van hulle skoene af gestof? Hoeveel kallers staan verwese? Het die boere hulle beeste se lyke gelos in die veld of is hulle weggery in ’n stoet na al die hartseer en skade?
Hoe nietig is die mens teen die natuur? Hoe weerloos en magteloos wanneer daar ’n wind opkom en die vuur se vlamme soos die tong van ’n draak verwoesting saai oor die lande.
Ek is die dogter van ’n boer. Maar, eintlik is ek die dogter van soveel meer … ’n boer is nie net ’n boer nie, maar ook ’n veearts, ’n vuurvegter, ’n weerman, ’n kenner van grond, ’n metaalsmid, ’n vertrooster, ’n versorger, ’n dienaar, ’n leier, ’n vriend, ’n pa, ’n seun, ’n helpende hand, ’n ware Adam wat name gee aan elk van sy diere.
Hoe begin ’n mens beskryf wat verlore is in ’n oogwink? En waar begin jy weer jou kop oplig, opkyk en weer opbou van voor af?
Ek dink vandag so baie aan Sadrag, Mesag en Abednego in die vuuroond. In ’n oomblik voor koning Nebukadnesar waar die opsies ingee of opgee was, die keuse tussen lewe (ewige lewe) en dood; en hierdie drie mans plaas hulle volle vertroue op God. Sonder om te huiwer … sonder om twee keer te dink (Daniël 3).
Wat vir my nóg meer indrukwekkend is, is hulle geloof wat sê selfs al sou God hulle nie uit die vuuroond red nie, hulle steeds op Hom sal vertrou en sy Naam bo alle name sal vereer (Daniël 3:17-18).
Hoeveel boere was hierdie naweek in hulle eie vuuroond? Met vlamme wat sewe keer warmer voel as normaal. In ’n oomblik waar die opsies wissel tussen opgee en ingee, die keuse is tussen lewe en dood … en hierdie boere besluit om te baklei. Die boere stap in die vuuroond in en glo dat God hulle sal red en selfs al red Hy hulle nie, daar nie tekens van huiwering in hulle geloof sal wees nie.
Daar is tye in ons lewe waar ons in die vuuroond beland en die enigste manier hoe ons dit sal oorleef is wanneer ons God aan ons sy het. God gebruik swaarkrytye om ons te suiwer, net soos goud en silwer gesuiwer word in die vuur. ’n Lewe in volle toewyding aan God is nie ’n lewe gewaarborg sonder pyn nie, maar dit is wel ’n lewe gevul met die belofte dat jy nooit alleen in die vuur sal staan nie. ’n Belofte dat al brand alles om jou af, jou hare nie geskroei sal wees nie en jou klere nie na rook sal ruik nie.
Wanneer God vir ons reën bring, en die koeie wat oorleef het weer kalf en die gras weer groen is, en die boere weer kan asem haal … weet ek en glo ek dat elke tong sal getuig; God is groter, sterker en beter as enige van die onmin wat satan wil saai.
God sien alles en weet alles en is IN BEHEER VAN ALLES. En net soos Sadrag, Mesag en Abednego aan die einde van die dag, as gevolg van hulle geloof, met nog hoër posisies beklee is in die provinsie van Babel, sal God elke boer met dubbeld seën as wat hulle verloor het. En hulle sal by die vuuroond uitstap ongeskend.
– Chané Uys