Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Vreugde is die somtotaal van die geloof. As ons Vrydag sonder vreugde hier weg gaan, moet ons verskriklike diep vrae vir mekaar vra,” het prof Nelus Niemandt Sondagaand gesê.

Waak teen oordrewe swaarmoedigheid by Algemene Sinode – Niemandt

Met ’n oproep dat afgevaardigdes saam “die Here ontmoet en soekend, nuuskierig saam sinode hou,” open prof Nelus Niemandt op Sondagaand 15 Oktober die 18de vergadering van die NG Kerk se Algemene Sinode wat tot Vrydag 20 Oktober duur.

Voor hom in ’n konferensiesaal in Boksburg sit sowat 360 afgevaardigdes, bestaande uit dominees en kerkraadslede asook tien dosente. Vele kom van ver en, soos ds Jan Lubbe van die Vrystaat dit vroeër die aand gestel het, hier is mense “met baie gedagtes in hulle binneste”.

By die aanmeldtafel: Die sowat 360 afgevaardigdes bestaan uit dominees en kerkraadslede asook tien dosente van regoor die land en ook Namibië. Vele kom van ver en, soos ds Jan Lubbe van die Vrystaat dit vroeër die aand gestel het, hier is mense “met baie gedagtes in hulle binneste”. Foto’s: Kerkbode

Die aand het hierna begin met ’n erediens met koorsang en ’n “lament” van verootmoediging en selfondersoek.

Niemandt het sy boodskap begin deur te sê as oupa is hy diep bekommerd oor sy kleinkinders, waar hulle gaan leer, waar hulle gaan werk, maar wat hom veral bekommer is die groter prentjie: van die instorting van basiese dienste wat dorpe sonder water en riolering laat, natuurrampe, oorloë soos nou in Israel en ook in die Oekraïne.

LEES OOK: Slypskool 2023 | Ons omgewing: Verslag wil erken dat oorsake en gevolge van rampe kompleks is

Niemandt het nietemin ook gewaarsku teen ’n oordrewe swaarmoedigheid onder afgevaardigdes. “Vreugde is die somtotaal van die geloof. As ons Vrydag sonder vreugde hier weg gaan, moet ons verskriklike diep vrae vir mekaar vra.”

Niemandt neem die opening waar omdat die kerkorde bepaal dat die afgevaardigde predikant met die langste diens, wat die oudste in jare is, die vergadering open. Hy het sy opening afgesluit met ’n gebed met konflik en vrede as tema in aansluiting by die Bergrede. “Geseënd is die armes van gees,” het hy gebid, “hulle wie se trane riviere kan volmaak. Hy het ook gebid vir die moeders wat miskrame gehad het, diegene “wat hospitale se wasgoed was, dié wat toilette by Ultra City skrop”, die onindrukwekkendes, onderbetaalde maatskaplike werkers asook vredemakers in Soedan, Oekraïene, Israel en Gasa. “Geseënd is die weifelende, onseker, soms woedende, altyd liefdevolle sinode-afgevaardigdes. Jy is geseënd,” het Niemandt, die rektor van die Hugenote Kollege op Wellington, gesê.

Laat op die eerste dag word daar ook gestem oor ’n ordemosie wat dit stel dat einste prof Niemandt nie “sittingsreg” het in die Algemene Sinode het nie en daarom nie die konstituering kon waarneem nie. Die stemming vind ná toeligting deur dr Dewyk Ungerer van die Algemene Taakspan Regte plaas en die mosie is met ’n groot meerderheid afgestem. 


Hoe kan jy op die hoogte bly?

  • Op jou foon: Laai die Kerkbode-toepassing af vir Android of Apple toestelle. 
  • Sosiale media: Maak seker jy volg ons op sosiale media, Facebook en Instagram is waar ons fokus lê.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top