Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Johan van der Merwe: Die kerk werk anders, want die kerk is anders!

Sien jou in die hof! Dit het ’n algemene sêding geword, want hofsake tussen mense het ’n pandemie in ons samelewing geword. Gelowiges en die kerk ly ook daaraan. Uitsprake van sekulêre howe en regsmenings van advokate word die alfa en omega terwyl die grondwet ook vir die kerk verhef word tot hoogste gesag.

Daarom daag gelowiges mekaar en vergaderinge van die kerk voor die sekulêre hof. Hierdie stand van sake is egter niks nuuts nie. Dit het deur die geskiedenis van die NG Kerk gebeur. Dink maar aan die bekende Loedolffsaak van 1862, die Du Plessissaak van 1935, die De Deursaak van 1998 en die saak teen die besluite van die Algemene Sinode van 2016 – om net enkeles te noem. Die groot vraag is, is dit waar die kerk en lidmate van die kerk hoort?

LEES OOK: Ope brief spel op vooraand van Algemene Sinode beswaar uit oor ‘foute’

Die antwoord op hierdie vraag is onomwonde: Nee! Nie as ons verstaan wie en wat die kerk is nie. Die bekende Switserse teoloog Karl Barth het twee baie belangrike stellings in dié verband gemaak: Eerstens het hy gesê dat die kerk ’n unieke gebeure in die wêreld is. ’n Tweede stelling wat hierby aansluit is dat ons verstaan van die kerk ons regering van die kerk moet bepaal.

Dit is nie net Barth wat dit sê nie. Die uniekheid van die kerk word bevestig deur die belydenis van die kerk. Die NG Kerk bely mos dat die kerk “een heilige, algemene Christelike kerk” is. Daaruit is die merktekens van die “ware kerk” afgelei:

  • Dat die kerk geroep is tot eenheid.
  • Dat die kerk heilig is.
  • Dat die kerk algemeen is.
  • Dat die kerk apostolies is.

As die NG Kerk en lidmate van die kerk hulle steeds tot hierdie belydenis verbind, maak dit die kerk in haar wese anders en dan moet die kerk in die wêreld maar anders as die wêreld werk. Dan is die wyse waarop ons van mekaar verskil en die wyse waarop konflik hanteer word, ’n baie belangrike deel van die kerk se getuienis. Dan sien ons mekaar nie in die hof nie, maar gaan sit ons om ’n tafel waar ons as geroepe kinders van die Here mekaar binne die raamwerk van liefde ontmoet om ons verskille op te los. So gemaak word die Bybel die hoogste bron van gesag in die kerk. Dan werk die kerk anders omdat die kerk in wese anders is.

Miskien is dit nodig dat ons mekaar opnuut aan hierdie waarheid herinner.

Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is ook ’n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top