Hennie Cronje (73) raak steeds emosioneel wanneer hy praat oor die vraag wat die Here hom 30 jaar gelede gevra het. Dit was twee weke nadat hy en sy gesin ’n plaasaanval naby Parys in die Vrystaat oorleef het. Hulle is deur drie gewapende mans beroof, en Hennie is boonop ontvoer.
Hy was toe nog ’n jong en fris 43, en hy onthou die besonderhede soos gister.
“Ek wou hulle ná die tyd doodmaak,” sê dié gebore en getoë Vrystater, “maar die Here het my daarvan bewaar.”
Hennie se geloofsreis van haat na vergifnis het gebeur tydens ’n baie onstuimige tyd in Suid-Afrika.
Oor middagete vertel dié pa van vyf my sy hele verhaal. Hoe die drie mans een Sondagmiddag by die huis ingestorm het. Hoe hy ervaar het die Here praat met hom, stel hom gerus dat hulle hierdeur sal kom. Hoe sy gesin kon ontvlug en hy kon gaan hulp soek nadat die rowers hom in Sasolburg se buitewyke afgelaai het.
Hy onthou hoe getraumatiseer hy ná hierdie gebeure was: “Ek was bang vir die nag en die donker. Ek was verskríklik kwaad, so kwaad dat ek hulle sou vermoor as ek hulle in die hande sou kry.”
Lees ook: #vrystaatbrande: Boer getuig God se Hand was oor sy seun (31) in veldbrand
Maar toe, een oggend, verander alles. Hy het gehoor hoe die Here hom vra: “Hennie, my kind, as ek hulle nou stuur, en hulle by jou veiligheidshek staan wanneer jy daar uitstap, en hulle steek hul hande in die lug en vra jou ‘help ons sodat ons ook in die hemel kan kom’ – wat sal jy doen?”
Hy drink ’n slukkie water, sê dan: “Ek raak altyd emosioneel as ek hieroor praat. Ek het op daardie oomblik al my haat verloor, al my vervolgingswaan. Ek was daarna nooit weer kwaad vir hulle nie. Die Here verander ’n mens se hart.”
Vandag, sê hy, as hy daarop terugkyk, is hy dankbaar dat die rooftog plaasgevind het. Want dié ervaring het hom nader aan die Here gebring. “Maar,” voeg hy op ’n ligter trant by, “ek het ook vir die Here gesê: ‘Asseblief, nie weer nie!’ Dit was nie baie lekker nie, dit was ’n bietjie taai …”
Al drie rowers is in hegtenis geneem, waaroor Hennie en sy gesin dankbaar was. Hennie vertel hy het ook tydens die roof besef hy ken twee van hulle. Een het saam met sy seuns op die plaas grootgeword, saam sokker gespeel. En die ander bekende was ’n broer van een van sy werkers.
Die hofsaak wat hierop gevolg het, was vir Hennie en sy gesin selfs meer traumaties as die aanval. Hy vertel hoe hy tydens ’n uitkenningsparade die haat kon sien in die oë van die mans wat voor hom staan. Anders as wat ’n mens in Amerikaanse TV-reekse sien, waar die getuie veilig agter eenrigting-glas staan, moes hy met sy linkerhand aan die skouer vat van die man wat hy as een van die rowers herken het.
Dit was destyds vir baie mense ’n deurmekaar, onseker tyd. Dit was die jare negentig, en die land se eerste demokratiese verkiesing het voorgelê. Baie wit mense het gewonder of hulle nie die land moet verlaat nie; ander het blikkieskos opgegaar.
Hennie onthou hoe hul een seun na hom en sy vrou Frandri gekom en gevra het: “Pa, wat nou? Wat nou?” Dit was kort nadat Nelson Mandela op 27 April 1994 as die land se eerste swart president verkies is.
Hy onthou wat hy geantwoord het. “My kind,” het hy gesê, “dié land behoort nie aan FW de Klerk of aan Nelson Mandela nie, dit behoort aan die Here.”