Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.
Hulle was die eerste gemeente in die NG Kerk wat “doleer” (om te treur) het, en ook die enigste gemeente wat getreur het oor die onreg wat aan mense gedoen is deur die 2016 Algemene Sinode se besluit rondom selfdegeslagverhoudings, vertel ds Leon Cronje namens die NG Kerk Stellenbosch-Welgelegen in die verklaring hieronder.
Reeds in 2001 het NG Kerk Stellenbosch-Welgelegen ’n besluit geneem wat erken het dat gay persone en heteroseksuele persone nie verskillend behandel moet word nie en dat seksualiteit ’n gawe van God is wat in ’n verhouding van liefde en trou uitgeleef behoort te word. Toe die 2016-besluit dus diskriminasie teen LGBTQI+ persone op grond van seksuele oriëntasie gesanksioneer het, het dit ons diep ontstel en het die kerkraad na baie gesprekke en oorweging die besluit geneem om die kerklike weg van betreuring te loop. Ons kan dit ook ’n vorm van kerklike protes noem aangesien ons nooit daarmee bedoel het dat ons wil wegbreek vanaf die NG Kerk nie – of dat ons enigiemand wil dwing om ons standpunt te ondersteun nie. Maar, veranker in God se Woord, was dit vir ons belangrik om ons stem te laat opklink en om ’n lewegewende ruimte in die gemeente te help skep waarin alle persone, ongeag seksuele oriëntasie, kan tuiskom en – méér nog – kan floreer.
LEES OOK: Brief: Die waarheid kan nooit deur ʼn leuen gedien word nie
In hierdie selfde tyd was dit die aanloop tot die 500-jarige viering van die Reformasie. Ons het gedurende 2017 gewerk aan ’n hervormingsdaggetuienis wat ons diepste oortuiging aangaande God se genade wou verwoord. Ons wou nuut nadink oor wat God se genade vir ons beteken en hoe God se genade die wêreld verander – en kan verander. Ons besluit om te doleer het uit ons getuienis voortgevloei, want in ons 2017 Hervormingsdaggetuienis stel ons dit duidelik dat ons treur oor enige onreg wat in Jesus se Naam gepleeg word en deur die kerk gesanksioneer word. Ons treur egter nie net nie, maar verwoord ook wat ons glo en verbind ons vanuit hierdie geloofsoortuigings telkens daartoe om onreg teen te staan en te werk vir geregtigheid vir alle mense. Ons sê nie dat ons dit noodwendig regkry nie – trouens, ons betreur ook ons eie onvermoë om die goeie nuus van God se genade uit te leef – maar dit is nogtans wat in ons harte leef en wat ons probeer beliggaam as gemeente.
LEES OOK: Algemene Sinode 2023: Waar lees ek die besluite?
Die hervormingsdaggetuienis se eerste artikel klink so: “As begenadigdes treur ons oor die feit dat ons as kerk nie altyd hierdie genade weerspieël nie. Baie mense assosieer die kerk daarom nie met genade nie, maar met uitsluiting en veroordeling. Ons treur oor die harde ongenaakbaarheid en liefdeloosheid wat dikwels op subtiele maniere, maar soms ook heel kras, in ons harte en in ons midde leef”. Deur die jare het hierdie getuienis ons gehelp om koers te hou wat betref hoe ons praat oor ander mense, om nie teen enigiemand te diskrimineer nie, en te bely dat almal by ons welkom is omdat ons onthou en bely dat “die ruimhartige genade van God geen ander kriteria of voorwaardes vir volledige aanvaarding, lidmaatskap, en deelname aan ál die ampte in die kerk kan wees as geloof in Christus nie – nie ras, klas, gender of seksuele oriëntasie nie.”
Ons het die 2019-besluit van die Algemene Sinode versigtig-opgewonde ontvang. Terwyl die besluit ook vir gemeentes wat gay persone geheel en al aanvaar, ruimte gemaak het, was en is dit steeds vir ons sleg dat die deur ook steeds oop is om teen mense te diskrimineer op grond van seksuele oriëntasie, so asof blote gay-wees en die uitleef van wat ons beskou as Godgegewe seksualiteit ’n sonde sou wees. Dit was ook sleg dat die besluit van die sinode om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse nie uitgevoer is deur die ASM nie. Ons gemeente se leraars het egter ons eie formuliere geskryf en die kans aangegryp om ook gay persone in burgerlike verbintenisse te bevestig. Ons het dus ná die 2019-besluit om ons dolerende status te behou, want ons het nie met die interpretasie dat die 2019-besluit ’n prosesbesluit (in stede van ’n beginselbesluit) was, saamgestem nie. Ons was veral bekommerd oor en onvergenoegd met waar so ’n interpretasie van die besluit gay lidmate en ampsdraers in die NG Kerk laat.
LEES OOK: Algemene Sinode: NG Kerk se ‘ruim huis’ bly staan
Tydens die 2023 Algemene Sinode het afgevaardigdes met skok gehoor hoe gay lidmate en ampsdraers in die NG Kerk, en selfs net gay persone in die algemeen, verwerp word en opnuut weer sondebok gemaak word; hoe teologiese opleiding verdag gemaak word; en hoe ons wat inklusief is teenoor selfdegeslaghuwelike en verwelkomend is teenoor gay persone in die ampte, skynbaar nie meer die Bybel as Woord van God aanvaar nie. Tog het God se alles-insluitende liefde deur die Heilige Gees die Algemene Sinode gelei om weer te bevestig dat gay persone aan mekaar kan trou beloof in ’n selfdegeslagverbintenis, mag deel in die ampte, en nie selibaat hoef te lewe nie – want in ’n verhouding van liefde en trou kan alle mense hul seksualiteit uitleef en volledig mens wees.
Terwyl die 2023-besluit steeds ruimte laat vir gemeentes om gay persone uit te sluit, het die NG Kerk Stellenbosch-Welgelegen egter besluit om haar dolerende status oor die posisie van gay persone en selfdegeslagverbintenisse op te hef.
LEES OOK: Selfdegeslagverbintenisse-besluit (2023)
Die kerkregtelike reëlings wat in die 2023-besluit ingesluit is, stem ons uiteraard tot kommer dat dit uiteindelik nie skeuring sal verhoed nie. Maar, aangesien ons nuwe Moderator pertinent in die bespreking aangedui het dat hierdie besluit van die Algemene Sinode ’n beginselbesluit is, en noudat ons kan uitsien na ’n amptelike kerklike formulier vir die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse, is ons vol vreugde en wil ons hierdie vreugde deel en uitdeel en uitleef in ’n heerlik diverse wêreld wat God gemaak het: ’n wêreld waarin jou seksualiteit slegs een deel is van ’n ryk en diep identiteit en jou nie verhoed om ’n leraar of kerkraadslid te word van die kerk waarvoor jy lief is nie; waar jy voor die Here trou kan beloof aan jou lewensmaat en jou kinders kan laat doop; en waar jy kan rus in die hande van die genadige God wat mens geword het in Jesus Christus en deur Sy Gees in ons werk.
In Adventstyd – waarin ons opnuut herinner word aan Christus wat kom om met ons die gawes van hoop, vrede, vreugde, en liefde te deel – kan ons as kerk en wil ons as gemeente ons beywer vir dit wat goed en reg en lewegewend is, ook vir ons gay mede-lidmate en gay mede-ampsdraers. Dit is vir ons belangrik omdat ons diep oortuig is daarvan dat ons almal aan Christus, ons Here, behoort en omdat ons glo dat almal God se genade ryklik en vrylik ontvang.
Dankie vir julle getuienis wat leiding bied met begrip, integriteit, deernis, en waagmoed