“Dit gaan nie oor ons nie. Hierdie is regtig ’n werk wat uit liefde gedoen word. Dit is ’n dienswerk. Waaroor hierdie hele krisis gaan, is die kinders wat ons wil beskerm. Die bejaardes wat ons wil beskerm.”
So sê ds Yolandi Kok, wat met Kerkbode Kollig gesels het oor die krisis wat nie-regeringsorganisasies in Gauteng het of hulle in Maart die staatsubsidies sal ontvang soos in die verlede. Dit kom na hierdie provinsie se regering vroeër vanjaar aangekondig het dat drastiese besnoeiings oorweeg word.
Die onsekerheid laat haar snags wakker lê, vertel Kok, want sy is takvoorsitter van ’n Tutela-kantoor waar sewe maatskaplike werkers werk vir wie sy nie met sekerheid kan sê of daar in April geld sal wees vir hulle salarisse of diensprojekte hoofsaaklik met kwesbare kinders en bejaardes nie.
Wat in haar takkantoor gebeur is ook die realiteit van ander nie-regeringsorganisasies in hierdie provinsie. Dit kan hulplewering raak aan duisende kwesbare kinders en bejaardes. So het Trienie Drotschie, direkteur van die Christelike maatskaplike hulporganisasie, Tutela en Sanet van Moerkerken van KwaThema-kindersorg onlangs op RSG vertel.
Hierdie organisasies is ’n geskenk vir die kerk ook in die uitleef van haar omgee vir die kwesbares in ons land, sê Kok. Sy tree ook op as verteenwoordiger van diakonale missionaat (wat insluit die NG Kerk se betrokkenheid by organisasies soos Tutela) vir Hoëveldsinode.
Sy het ook praktiese maniere soos die volgende gedeel waarop jy en jou gemeente die maatskaplike hulporganisasie in jou gemeenskap kan help:
- Gee. ’n Finansiële bydrae so klein as R250 per maand kan’n groot verskil maak.
- Raak betrokke. Skakel in by vroeë intervensieprogramme soos ouerleiding of beradingsdienste vir ouers en kwesbare kinders.
- Teken protes aan byvoorbeeld deur briewe te skryf wat die situasie help bekend maak.
- Sorg. Daag op by jou plaaslike maatskaplike hulporganisasie en vra hoe jy hulle in hierdie moeilike tyd kan ondersteun.
Ons het ook met dr Nioma Venter gesels oor die rol wat gemeentes kan speel om die regte mense om ’n tafel te kry wat die nood in hulle gemeenskap effektief kan aanspreek.
Dan het die Wes-Kaapse kerkleierskap onlangs vir twee dae in Wellington saamgekom en allerhande sake bespreek. KaapKerk se Ronelda Visser het met die voorsitter, ds Marinus Theron, gesels om meer te hoor.
Kerkbode Kollig is ’n nuwe saamluisterprojek. Dit bestaan uit weeklikse podsendings gevul met insetsels oor kerknuus, geloofstories en gesprekke om jou in te lig, te laat nadink en te inspireer. Elke Sondag word ’n nuwe episode op Kerkbode se webblad gelaai. Laai gerus die gratis Kerkbode-toepassing af op jou selfoon om saam te kan luister (ook te kry op Spotify). Deel gerus nuuswenke per e-pos na kerkbode@tydskrifte.co.za