Die bekende teoloog en skrywer John de Gruchy het op sy 85ste verjaardag op 18 Maart gesels met Deon Kitching en Rian Venter by die Volmoedsentrum in die Hemel-en-Aardevallei (naby Hermanus). Hulle vertel meer oor hierdie ontmoeting.
Skoonheid. Om voor John de Gruchy se huis by die Volmoedsentrum te staan en oor die aangrypende Hemel-en-Aardevallei uit te kyk, is om sterk emosies te beleef. Dit is ’n merkwaardige omgewing net buite Hermanus. Ons kort gesprek met hierdie teoloog op sy 85ste verjaarsdag was ’n onverwagse reis wat ’n ervaring van die estetiese net verdiep.
Nuwe outobiografie
John begin ons gesprek deur te vertel dat hy die oggend begin werk het aan ’n opvolgvolume van sy bestaande outobiografie, I have come a long way, wat tien jaar gelede voltooi is. Sedertdien het soveel gebeur in die lewe van hierdie voormalige professor van die Universiteit van Kaapstad. Oor baie jare het hy internasionale bekendheid en erkenning verwerf met ’n indrukwekkende aantal teologiese publikasies. Hy begin praat oor hoe hy homself sal beskryf as teoloog. Nee, hy is nie ’n sistematikus of historikus nie. Hy sien homself as “apologeet”; iemand wat in die styl van die Vroeë Kerk se tradisie die Christelike geloof in gesprek met ’n groter omgewing bring. Onwillekeurig dink ’n mens aan sy onlangse versameling opstelle, Faith facing reality (2022), wat juis uitdrukking hieraan gee wanneer hy, onder andere, skryf oor koloniale rassisme en siellose tegnologie.
Lees ook: De Gruchy skryf ‘persoonlike teologie’ soos min ander
De Gruchy verkies soos Bonhoeffer vrae bo antwoorde
Terwyl hy gesels oor sy selfverstaan, waag ’n mens ’n vraag oor sy fokus op die Duitse teoloog Bonhoeffer in sy teologie. Die antwoord kom maklik en verrassend. Hy praat nie oor Bonhoeffer se weerstand teen Nazisme nie; hy stuur die gesprek in ’n ander rigting. Bonhoeffer het ons geleer om eerder vrae oop te maak as om finale antwoorde te gee. Een van John se interessante boeke, wat onlangs die lig gesien het, handel dan ook juis hieroor – Bonhoeffer’s questions (2019).
Hierdie openheid wat ’n teologie moet vertoon, lei die gesprek na sy Calvinistiese kerklike wortels as iemand wat opgegroei het as Kongregasionalis. Hy het waardering vir die gereformeerde invloed, en het ook wyd daaroor geskryf. ’n Mens dink aan sy bekende Liberating Reformed Theology (1991) en sy studie oor Calvyn (2009). Maar hy is bekommerd dat hierdie tradisie begin stop het by die eerste deel van die spreuk Ecclesia reformata semper reformanda en iets van ’n dinamiese vernuwing weerstaan. Hy verwys ook na die gereformeede aksent dat God deur Woord én Gees werk. Ons moet fyner luister na wat die Gees ons meedeel. Soos telkens in die gesprek, verwys John na die Boek Openbaring waarin hierdie aksent helder uitstaan.
Intenser apokaliptiese moment
Ons gesprek beweeg na ons huidige sosiale landskap. Wanneer ’n mens terugkyk na die titels van sommige van sy boeke – Apartheid is a heresy (1983), Christianity and democracy (1995), Reconciliation (2002) – begin ’n mens waardering kry vir sy selfverstaan as apologeet. Sy verwerking van die uitdagings van ’n bepaalde moment vanuit die Christelike geloof is bykans sonder gelyke in die Suid-Afrikaanse teologiese konteks. In sy 2017 studie – The end is not yet: Standing firm in apocalyptic time – begin ’n bepaalde dringendheid na vore kom. Wanneer ons praat oor die gebeure in Gaza, maak hy gewag van ’n intensifisering van sy vroeëre aanvoeling van die apokaliptiese. Weereens word na die Openbaringboek bewys. Hy beklemtoon dat ons by die regte plek moet begin as ons oor hoop wil praat – by die gekruisigde God. Soos telkens in die gesprek, is daar verrassings. John begin uitwei oor gemeenskapvorming in tye van krisis.
Geïntegreerde lewe
Dit is opvallend hoe hy telkens ’n historiese antenna vertoon in sy vertellinge. Hy neem die gesprek terug na Augustinus en Benediktus in die 5e en 6e eeue en die oprigting van kloosters in krisistye. Die insig is helder vir John: Skep Christen-gemeenskappe in krisistye! Dit is die les wat ons in die geskiedenis leer.
Dit sny onvermydelik by die verhaal van Volmoed aan wat opgerig is as plek van heling en versoening in die apartheidera. Dit het ontwikkel met die jare in veel meer as net ’n “plek”. Dit is ’n gemeenskap. John en sy vrou Isobel, ’n kunstenaar, woon al meer as 20 jaar op die terrein. ’n Groep Benediktynse monnike het hulle ook hier gevestig. ’n Merkwaardige verhaal van ’n geïntegreerde lewe kristalliseer. Weekliks op Donderdae is daar op Volmoed ’n ekumeniese aanbiddingsgeleentheid vir die breër gemeenskap, ook jeugopleidingsprogramme word aangebied, asook gereelde akademiese geleenthede wat gereël word met vooraanstaande internasionale teoloë. Die verbinding van aanbidding, ’n profetiese stem vir geregtigheid, die viering van artistieke kreatiwiteit, intellektuele aktiwiteit en ekumeniese gemeenskap word hier ’n werklikheid. John is van mening dat sy hele bediening en loopbaan net ’n voorbereiding was vir sy lewe op Volmoed.
Communitas se Sentrum vir Predikantebegeleiding het in 2016 vir dr (toe nog ds) Nioma Venter na Volmoed verwys. Lees meer: Excel is ’n gelukkige dominee-woord
Vir De Gruchy neem Christus vorm aan in gemeenskap
Hy moes eintlik lank gelede reeds afgetree het, maar sy lewe het ’n ander rigting ingeslaan. In die gesprek tree die aanwesigheid van ’n diep persoonlike pyn telkens na vore: die dood van sy seun Steve tydens ’n swemongeluk in 2010. Wat doen pyn en verlies aan ’n mens? John vertel hoe hy na Steve se dood een dag in die berg agter sy huis gestap het, en tot die oortuiging gekom het dat hy moet aangaan. Die afwys van aftrede sou sy antwoord wees aan Steve; hy moet aangaan.
Waarmee wil John geassosieer word? Hy verwys nie na sy stryd teen apartheid, sy internasionale erkenning as Bonhoeffer-geleerde, of sy skryfwerk (soos een titel sê A life in writing van 2014) nie. Hy praat weer oor Christus wat gestalte kry in gemeenskap, en hoe ’n mens dit moet bevorder. Dit is klaarblyklik waar hy homself plaas. En dan maak hy gewag van ’n artikel wat hy so pas voltooi het oor Christus in die ruïnes en die moontlikheid van ’n estetiese lewe in ’n tyd van oorlog.
Wanneer ’n mens die steil trappe afwaag by sy huis, kan jy weereens nie die opwelling van die ervaring van skoonheid ontsnap nie. Nie net die omgewing is aangrypend mooi nie; by John de Gruchy ontmoet ’n mens ’n lewe met ’n opvallende aantreklikheid.
Deon Kitching was lank verbonde aan die Hugenote Kollege. Rian Venter is ’n emeritusprofessor in Dogmatiek en sy vriend van skooldae. Hulle woon beide in Onrusrivier naby Hermanus en onderneem van tyd tot tyd kreatiewe skryfprojekte.
