Christo Jonck is dun gesmeer. Deel van hierdie dominee se pligbeskrywing as predikant in sinodale diens is om ondersteuning te bied aan gemeentes. Maar, in die lig van die aantal gemeentes sonder leraars word daar sóveel op Jonck se nommer gedruk dat hy nie aan kantooradministrasie die nodige aandag kan gee nie.
Só is gehoor op die middag van die eerste voldagsessie van hierdie oorwegend plattelandse kerkstreek se sinodesitting tans in verloop op Kimberley.
Lees ook: Twee ‘boere-leraars’ gekies om Noord-Kaapse sinode te lei
Die een na die ander leraar en kerkraadslede het vertel hulle meen hierdie situasie is kritiek en kan nie nog vier jaar wag nie. Soos een ouderling dit gestel het “almal bel vir Christo”. Die voorstel op die tafel was dat die sinode toestemming gee vir die sinodale kommissie vir hulpdienste om ’n administratiewe bestuurspos in die sinodale kantoor te skep.
Daar word vanoggend gestem oor die aanbeveling om die pos te mag skep.
Die gesprek teen laatmiddag het gevolg na ’n lang dag waarin ook gehoor is dit raak blykbaar al meer algemeen dat daar gemeentes in die NG Kerk in Noord-Kaapland is wat agterstallig raak met hulle sinodale bydraes. Ook dat die instandhouding van verouderde kerkeiendom, veral vir kleiner gemeentes waarvan talle reeds in ’n oorlewingstryd gewikkel is, ’n groterwordende uitdaging is.
Die meeste van die meer as 100 afgevaardigdes uit sowat 70 van die streek se 84 gemeentes kom van afgeleë klein gemeenskappe, so enige kans vir gesels is goed benut. Ds Louwtjie Louw van Kanoneiland-gemeente het gedurende die oggend met die hulp van statistieke en verslae die konteks vir kerkwees in hierdie streek geskets. “Daar is ’n klomp veranderinge wat ons moet verreken,” het Louw gesê.
“Dit is tyd om te besluit of ons kerk in Afrika en vir Afrika is of ’n Afrikaanse kerk,” het hy onder meer opgemerk.
Louw is by die sinodale kommissie vir bedieningsondersteuning en het die oggend se bespreking gelei rondom wat hierdie veranderinge sê vir hoe oor roeping en kerkwees gedink word. Hy het onder meer genoem daar is agtergekom by baie gemeentes is min energie vir deelname aan denke rondom jeugbediening of missionaliteit omdat hulle in ’n oorlewingstryd gewikkel is.
Dit blyk ook daar kan nog ’n rede wees vir ’n gebrek aan deelname. Die sinode se voorsitter, ds Marais Kluge, het genoem daar is 14 gemeentes wat nie afgevaardigdes by hierdie sinode het nie. Hiervoor het hy genoem kan verskeie redes wees, onder meer gebrek aan mense om te stuur, afstand (sommige afgevaardigdes het 600 km moes reis), maar daar was ook ’n paar wat redes gegee het wat dui op wantroue in die Algemene Sinode en teologiese opleidingsinstansies. Dit het hom seergemaak, het hy gesê. “Ons moet mooier praat met mekaar …” was sy pleidooi, want, het hy verduidelik, hy glo steeds die “krag van ons streek lê in gemeentes”.
Een van die kerk se planne wat hy en ander meen gemeentes kan help is die bedienaars- en diensleraaropleiding. Louw is betrokke by die pastorale opleiding van lidmate wat inskryf vir die bedienaarskursus. Hy het ds Jaco Botha, dosent by Hugenote Kollege, genooi om meer hieroor te vertel.
Daar is verduidelik hoe reeds gesien word dat dit ’n nuwe energie losmaak onder lidmate. Dit bied ’n manier vir die kerk se bediening om voort te gaan in ’n streek waar 15 gemeentes se vaste leraarsposte vakant is met ’n skraal kans om op die konvensionele manier gevul te word. Die meeste van hierdie gemeentes is op die platteland waar ver afstande samewerking met mekaar om byvoorbeeld ’n predikant te deel bemoeilik.
Die sinode eindig op Woensdag 9 Oktober om 13:00.