Van ekologie en leraarsversorging tot jeugbediening en besteding van sinodefondse. Hendrien van Vliet berig oor ’n vol dag van tafelgesprekke gedurende die tweede dag van die Oostelike sinodesitting.
“Kom jy Sondag kerk toe?”
“Nee, ons het alweer ’n instaan-dominee, die tweede een hierdie jaar, kan jy glo! Hulle werk mos net een dag per week!
Só het die taakspan vir leraarsversorging se verslag begin, met ’n lighartige video oor sekere verwagtings en persepsies van beide lidmate en predikante in gemeentes.
Die taakspan het ook ’n bondige dokument opgestel om te wys hoe daar ’n toename is in predikante wat swaar trek onder stresvolle werksomstandighede en dat hulle emosionele en fisiese welstand daaronder ly. Daarmee saam blyk dit dat bykans 60% van predikante voel hulle ontvang geen of min ondersteuning van kerkrade af. Byna 75% voel dat hulle min of geen hulp ontvang van hulle onderskeie ringe nie. Maar ’n hele klompie praktiese maatreëls is ook met die vergadering gedeel om hierdie probleem aan te spreek. Deel van die sinode se pligte is om leiding te gee aan kerkrade oor leraarsversorging en hulpbronne te voorsien vir beide leraars en kerkrade. Ringe help met gesonde onderlinge verhoudings, om kerkrade verantwoordbaar te hou, afloshulp en dinkskrums.
LEES OOK: Leraarsversorging, ekologie en kerkverband onder die loep by Modimolle
Die verantwoordelikheid van leraarsversorging lê bo en behalwe hierdie vlakke, ook by die leraar self. Dr Jacqui von Cziffra-Bergs, ’n gasspreker uitgenooi deur die taakspan, het die vergadering gehelp met vaardighede wat maklik toegepas kan word in ’n persoon se lewe, nie net leraars nie. Ons woon in ’n land wat bykans elke dag gekonfronteer word met trauma, en ons onmiddellike kontekste kan ’n perfekte storm wees vir uitbranding en “compassion fatigue”. Sy wou die afgevaardigdes help om van hierdie status quo te gaan na “compassion satisfaction”, want ons almal werk nog steeds met mense, en die aard van die werk verander nie: “Jy kan nie in die reën loop en nie verwag om nat te word nie”. Maar hoe ’n persoon dit benader kan ’n groot verskil hê.
Die taal wat ’n mens gebruik kan alreeds ’n verskil maak. Die spreker praat van “magic words”, en wys uit dat deur net die woordeskat te verander wat ons gebruik, ’n situasie kan verander van ’n probleem na ’n doelwit en sy gebruik die voorbeeld toe sy op pad was na die sinodesitting. Sy was vreeslik op haar senuwees toe sy hoor dat die gehoor Afrikaans is en dan nog so baie mense ook. Maar sy gebruik die maklike woord “instead” om die situasie te verander. In plaas daarvan dat sy fokus op haar tekortkominge, fokus sy op haar suksesse. Sy het hierdie praatjie al baie gegee. Sy het iemand wat sy ken by die sinodesitting wat haar sal ondersteun. ’n Klein woordeskatsverandering, maak dat sy anders kyk na die onmiddellike situasie.
Die vergadering is genooi om deel te neem aan so ’n aktiwiteit. Hulle is genooi om te skinder. Elke persoon moes ’n vriendelike vreemdeling soek en gaan skinder. Maar, hulle moes skinder oor al die goed wat werk in hulle gemeentes. Die vreugde op die sinodegangers se gesigte was aansteeklik, net omdat een sin bygevoeg was nadat hulle gevra is om te skinder.
LEES OOK: Buitengewone sinode: Vrystaters stem vir eenheid ten koste van bevestiging van verbintenisse
Die taakspan ekologie het die vergadering herinner dat daar ook verskillende rolle te speel is in die versorging van die aarde en veral gelowiges. Ds Louis Pienaar, lid van die taakspan ekologie, het gesê: “Ons is geneig om te sê daar is mos mense wat daarna sal kyk, soos Greenpeace … Maar ons as gelowiges het pertinent die opdrag gekry om verantwoordelikheid te neem vir die skepping.” Individue speel ’n groot rol in die manier hoe hulpbronne gebruik word, veral plastiek en die weggooi-verbruikerskultuur wat geskep is in die huidige samelewing, maar weet dat die taak te groot is vir nét individue, en gemeentes en maatskappye hierby ingesluit moet word.
Die taakspan doen moeite om volwassenes, kinders en gemeentes bewus te maak met geleenthede soos die Ekofaktor-kampe vir Graad 5-7’s, asook volwasse konferensies by De Voetpadkloof. Die sinodegangers is meegedeel oor die stand van sake in die Waterberge-omgewing, en is uitgenooi om deel te neem aan ’n herwinningsprojek waar elke sinodeganger ’n groen sak gekry het vir herwinbare materiale en ’n rooi sak vir organiese materiaal. Tydens teetyd is gretige afgevaardigdes genooi om deel te neem aan ’n boomtoer deur prof Henk Potgieter, en op Woensdagoggend sal belangstellendes die geleentheid kry om ’n kort staptoer te neem en verskillende voëlspesies te identifiseer.
Daar is wel kommer wanneer dit kom by die oorlewing van kleiner gemeentes in die sinode. Al meer gemeentes, veral op die platteland, sukkel om die finansiële mas op te kom en al hulle uitgawes te dek, sinodale bydraes ingesluit. Ds Francois Retief, uittredende uitvoerende amptenaar van die Oostelike sinode, antwoord hierop deur sinodegangers gerus te stel dat daar moeite gedoen word om met hierdie gemeentes in gesprek te tree en om hulle tegemoet te kom met hulle bydraes. Hetsy om korting te gee aan die bedrag (gemeentes wat minder as R1,74 miljoen inkomste toon ontvang ’n verdere 25% korting), of ’n afbetalingsooreenkoms aan te gaan. Die sinode help ook tans 12 gemeentes met hulle salarisrol, teen geen vergoeding. Die nie-betaling van gemeentes veroorsaak ook dat die sinode se hulpfonds krimp, wat beteken dat die aard en duur van hulp aan gemeentes in die volgende paar jaar beïnvloed sal word.
Daar word verwag dat op Donderdag 10 Oktober aandag gegee sal word aan gemeente-ondersteuning en kommunikasie. Ds Francois Retief se nuwe fokus sal op die bediening aan en van die sinode se kleiner gemeentes wees.
Ds Hendrien van Vliet is predikant by die NG Gemeente Kempton-Hoogland.