“Toe ons moet besin oor ’n nuwe naam vir die sinode in 2007, was een van die voorstelle: die sinode van die leeu en die lam. Die leeu vir die wildtuin en die lam vir die plase,” vertel ds Francois Retief, voormalige uitvoerende amptenaar van die Oostelike Sinode. Die natuur en die geografiese gebied van die sinode behou vandag nog ’n spesiale plek. Hendrien van Vliet doen verslag.
Vyf-en-veertig jaar gelede, op 2 November 1979, het die Sinode van Oos-Transvaal afgestig van die Sinode van Noord-Transvaal met 81 gemeentes en 107 leraars. Noord-Transvaal, of Noordelike Sinode soos dit nou bekend staan, het bloot te groot geword. Ds Nico Mostert, of Oom Doom, soos mense hom geken het, was die eerste moderator, met ds Piet Viviers van Blinkpan as assessor. Ds Freek Swanepoel was skriba en dr Kerneels van Heerden die aktuarius. “Dit is ’n sinode met groot geeste wat ons vooruitgegaan het. Mense wat groot skuiwe in die kerk aangebring het, en wat in baie opsigte baanbrekerswerk gedoen het,” sê dr Lieze Meiring, predikant by Elarduspark-gemeente, wat haar hele bediening van 26 jaar al in die Oostelike Sinode is. Vir haar is een van die dinge wat uitstaan van die Oostelike Sinode, die familieweesmetafoor.
LEES OOK: Afgevaardigdes by onlangse Oostelike Sinodesitting deel hulle verhale
Reeds in 1996, onder die leiding van ds Danie Dreyer, het die sinode begin om dié idee uit te brei. Vir die sinode het dit gegaan oor verhoudings eerder as strukture. Verhoudings met God, met mekaar en met die skepping. Taal en die manier van doen was dus ’n belangrike en maklike beginpunt om die metafoor uit te bou. Die Oostelike Sinode praat byvoorbeeld nie van moderators en assessors nie, maar voorsitter, ondervoorsitter en kerkregkundige. Hulle het ook nie ’n kerkorde nie, maar familiereëls, en nie ’n sinodale kantoor nie, maar ’n sinodehuis. Die Oostelike Sinode was ook die eerste sinode om rondom tafels te sit en vergader, en nie meer die sinodesentrum in Pretoria te gebruik nie.
LEES OOK: Oostelike Sinode kies vir roeping en eenheid eerder as twis en verskil
Hulle was hulle tyd voor in baie opsigte met opleiding en predikanteversorging. Die opstel van die Woordwyserreeks was behulpsaam vir baie. Kenners en predikante onder die leiding van dr Ferdie Clasen, het gehelp om kommentare en eksegetiese en liturgiese riglyne daar te stel op ’n jaarlikse basis. ’n Ander geliefkose element van die sinode is die jaarlikse predikantekonferensie wat in die wildtuin plaasvind. “Weens die swakheid van die mens hou ons die leergedeelte net halfdag, en dan kan mense na die mooi wild gaan kyk en ook ’n bietjie rus in die natuur,” sê dr Tertius Erasmus, voorsitter van die sinode, tong in die kies. Volgende jaar se konferensie vind plaas op Skukuza met predikanteversorging as die tema.
Die leierskap van die sinode het van die begin af ’n humoristiese aanslag gehad. “Ons aankondiginge by sinodesittings is meesterlik gedoen deur Chris Marais, en het gewoonlik met groot gelag gepaard gegaan,” het ds Freek Swanepoel geskryf in sy terugflits vir die sinode se 30 jaar-feesbundel. Tydens die sinodesitting van 2002 het ds Uli Trümpelmann ’n vis gevang uit die plaaslike stroom en dit plegtig oorhandig aan prof Piet Meiring. ’n Eerste (en dalk enigste) in die NG Kerk. In hierdie tyd het die tegnologie ook ’n rol begin speel in die manier hoe afkondigings hanteer is. Ds Hardus van Niekerk lag as hy vertel van hoe hulle ge-meme het voor memes nog eintlik ’n ding was. Hy het suutjies foto’s geneem en grappies daarvan vertel. “Ek het sommer ’n slide gemaak van ’n R50 noot en daar waar die leeutjie was, het ek Francois se gesig inge-crop vir die finansiesverslag. Op ’n ander keer was daar drie Doyers teenwoordig op die vergadering, toe maak ek ’n foto van die drie en sê hierdie vergadering is maar Doyer-ig.”
In baie opsigte het hierdie manier van doen en praat die sinode ook baie toeganklik gemaak vir gewone lidmate. Lidmaatbemagtiging en gemeente-ondersteuning is kwessies wat in die verlede baie aandag geniet het, en wat in die toekoms al meer belangrik word. Die sinode het verskeie taakspanne wat navorsing doen, maar daar word moeite gedoen om hierdie navorsing toeganklik te maak vir predikante en lidmate, sodat verandering en bemagtiging gebeur op grondvlak.
Onlangs het die sinode begin met kantooropleidings regoor hulle streek en baie gemeentes en ondersteuningspersoneel word hierdeur bemagtig. Die onderlinge ondersteuning wat daaruit vloei is spesiaal, meen mev Annelize Meyer, kommunikasiebeampte by die sinodehuis: “Ons het ’n WhatsAppgroepie gestig na ’n paar van ons kantooropleidings. Dit is merkwaardig om te sien hoe almal mekaar bystaan. Indien een kantoorbeampte sukkel met iets, is daar dadelik drie ander wat inspring en help.” In die breër kerkverband is hierdie ’n kwessie wat by verskeie streeksinodes al aangespreek is, en het ’n groot impak op die vlot verloop en bestuur van gemeentes.
Kleinerwordende gemeentes, veral in kontekste waar ontvolking en demografiese skuiwe plaasgevind het, is ’n kommer vir die sinode en die NG Kerk in geheel. “Ondersteuning aan hierdie gemeentes en opleiding aan leiers binne die gemeente en gemeenskap sal ’n kernfokus word van die sinode en van die kerk. Dit is besprekingspunte op die Algemene Sinode Moderamen (ASM) se tafel en die kuratorium, en ons hoop ons kan by mekaar leer,” meen Erasmus.
Vyf-en-veertig jaar is ’n lang tyd om oor na te dink, maar uit die sinode se verhaal blyk dit dat daar heeltyd gedink word oor “wat volgende?”. Hoe kan hulle aanhou innoveer en bystand bied in ’n kerk wat aanhoudend probeer relevant bly? Vir die volgende vyf jaar is die vraag of die kerk en sinodes op grondvlak dit sal regkry om by mekaar uit te kom ten spyte van verskille in Skrifinterpretasie en ander kwessies. Die Oostelike Sinode lyk optimisties hieroor, en ons hou die spasie dop!
- Ds Hendrien van Vliet is predikant by die NG Gemeente Kempton-Hoogland. Foto’s: Verkry vanaf mev Annelize Meyer by Oostelike Sinode se argief