“My wêreld het in duie gestort. Ek het net by myself gedink, ek gaan my vrou verloor, ek gaan hierdie rots waarop ek tans staan verloor. En toe, vir so vir ’n wyle, vergeet ek van Jesus, die eintlike rots in albei van ons se lewe. Vir ’n wyle het ek gesê, Here wat is U besig om te doen? Ek is dan die een wat verkeerd was, die een wat in die wrong was, en nou gebeur dít met my vrou? Wat gaan hier aan? En ek het dit hard en duidelik gehoor, die woorde: ‘Gerald, it’s not about you!’
Dit was ’n moeilike, duur tyd. Maar dwars deur Gerald se storie loop die goue lyn van mense wat God oor sy pad gestuur het. Keer op keer vertel hy van sy groot vriend, Erick van Breda, wat saam met hom studeer het vir ’n diensleraar, die wonderlike mense by sy werk en die gemeente.
Dit gaan vandag goed met sy vrou; die kanker is in remissie en hulle kyk net met dankbaarheid in hulle hart terug na daardie moeilike dae.
Gerald Kamfer is verlede jaar bevestig as diensleraar by die Moedergemeente in Oudtshoorn, die dorp waar hy grootgeword het.
Lees ook: Skuilkrans NG Gemeente vertel van ‘sendingveld op ons sypaadjie’
Hy het mooi herinneringe aan sy kinderjare – eers na skool het dinge begin uitrafel.
“In my graad tien jaar was ek en my pa vir ’n jaar lank albei op skool,” vertel hy. Sy pa het teruggegaan skool toe om matriek klaar te maak sodat hy ’n posisie by die weermag kon kry om beter vir sy gesin te voorsien. Al was sy oorlede pa soms afwesig, het Gerald vandag groot waardering vir sy invloed op sy lewe, dit is by hom waar hy geleer het van volharding, van vasbyt en aanhou.
Gerald was goed in sport, veral atletiek en rugby. Op skool het hy Cravenweek gespeel en na-skool het hy selfs tydens die Wêreldbeker in ’n voorwedstryd gespeel van die Springbokke teen die All Blacks.

‘My bekeringspunt na Jesus’
Maar dit was ook in daardie dae, kort nadat hy klaar is met skool, toe hy by die weermag aangesluit en begin erg drink het. Meer as een keer het hy sy werk verloor. En so het dit aangehou, tot op ’n dag jare later toe hy totaal moedeloos was.
“Ek het hulp gaan soek by my huisdokter en hy het my verwys na dr Van Wyk wat my in ’n rehabilitasiesentrum ingeboek het. Na drie weke is ek ontslaan. Daai dag is ek gevra om in die groep te bid. Ek het Psalm 23 gebid. Toe ek bid ‘al gaan ek deur ’n dal van doodskaduwee, ek sal nie bang wees nie,’ het hierdie wonderlike gevoel oor my gekom. Ek glo dit was my bekeringspunt na Jesus.”
Na sy ontslag het hy aangesluit by ’n ondersteuningsgroep van die Christelike Afhanklikheidsdiens. Later is hy verkies as sekretaris van die CAD. In dieselfde tyd het sy predikant hom gevra om as diaken te dien en het hy mense begin help wat vasgevang was in alkoholmisbruik op die plase in die omgewing.
“Soos jy weet is ek 25 jaar getroud. Maar ek sê altyd vir my vrou, Lovie, dis nou tien jaar dat ek eintlik ’n man is vir jou, eintlik ’n pa vir my dogter, ’n oupa vir my kleindogter. Ek sê altyd vir my kollegas by die CAD wanneer jy iemand na nugterheid toe vat, moet jy hom iets gee om na uit te sien om nugter te bly.” In Gerald se lewe is dit sy gesin.
Binne hom het ’n behoefte begin groei om meer te leer oor dié Here wat sy lewe so radikaal verander het. Iemand het hom vertel van die diensleraarkursus by Hugenote Kollege en hy het ingeskryf.
Hy vertel van die groot effek wat teologiese studies op sy lewe gehad het, dit het hom ’n beter mens gemaak, sê hy. Ook van die invloed van Stephan Joubert wat hom onlangs saamgeneem het op ’n ekerk-studietoer in Turkye.
Hy kry trane in sy oë wanneer hy vertel hoe hy saam met Christene van verskillende kerke nagmaal gebruik het in ’n kapel by die huis van Maria op die Koressosberg.
Toe ek hom vra oor sy droom vir die kerk in Suid-Afrika sê hy net: “Eenheid, eenheid, eenheid.”
Hy weet die kerk het ’n geskiedenis, maar dit is nou ons beurt om ’n nuwe geskiedenis te skryf, een van eenheid, liefde en transformasie.
“Ek is Jesus se brugbouer en ek sal sover as moontlik die goeie nuus van Jesus bedien sodat ons liefde en eenheid kan bevorder,” sê hy.
Al is hy baie gelukkig as diensleraar tans in die NG Kerk, en voel hy dat hy homself ten volle kan uitleef, sou hy graag ook eendag ’n kapelaan in die weermag wou wees. Sy pa se weermagdae het ’n groot indruk op hom gelaat.
Gerald Kamfer noem homself vandag die stofpadpredikant. “Ek bly hier in die stofstrate van Oudtshoorn en ek wil graag hê die mense hier moet weet die Here se wonderwerke gebeur vandag nog. Vanuit ’n stofstraat, soos Jesus uit Nasaret, kan hier ook ’n predikant kom. Hier kan leiers opstaan. En ek vertrou dat hulle Jesus in daardie voorbeeld sal raaksien. In die voorbeeld van ’n stofstraatoutjie wat nou ’n volgeling van Jesus is.
KaapKerk se kommunikasiespan het ook onlangs met Gerald gesels. Kyk gerus die video HIER.
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeugontwikkelinge en die NG Gemeente Villieria.
