Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die uittredende rektor van Hugenote Kollege, prof Nelus Niemandt en sy vrou, Marthinet. "Sy het my gedra," het hy vertel tydens ’n onlangse afskeid vir hom. Foto's: Heléne Meissenheimer

Rektor van Hugenote Kollege bedank vir dapper leierskap deur lang loopbaan

In ’n lang omvangryke loopbaan, wat begin het as polisiekapelaan, toe gemeenteleraar en later ook kerkleier sowel as gesiene teoloog en akademikus, is dit vir hom tot voorbeeld dat prof Nelus Niemandt kinderlik gelowig is en bly terwyl hy oor komplekse sake dink. “Jy gee ons ’n voorbeeld wat ek hoop baie jong teoloë sal navolg,” het dr Frederick Marais gesê tydens ’n intieme bymekaarkom van kollegas en vriende op 13 Maart vir Niemandt, wat vandeesmaand, ná vyf jaar as rektor van die Hugenote Kollege, aftree.

Niemandt se geestelike integriteit is een van ’n paar temas wat op ’n warm Wellington-aand deur Marais en ander sprekers by die geleentheid genoem is. Ook sy vaardigheid as leier op akademiese gebied sowel as binne die kerklandskap is uitgelig – veral die leidende rol wat hierdie oud-Tukkies professor vervul het ten opsigte van die denkskuif wat die afgelope klompie jare binne die NG Kerk rondom “missionale roeping” binne die post-1994-konteks plaasgevind het.

“Jy gee ons ’n voorbeeld wat ek hoop baie jong teoloë sal navolg,” het dr Frederick Marais gesê tydens ’n intieme bymekaarkom van kollegas en vriende op 13 Maart vir prof Nelus Niemandt, wat vandeesmaand, ná vyf jaar as rektor van die Hugenote Kollege, aftree. 

’n Vriend uit studentedae en die voormalige moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode, ds Nelis Janse van Rensburg, het begin deur te vertel dat Niemandt hom al as student by Universiteit Pretoria (UP) as leier onderskei het. Dit is ook hier waar Niemandt sy vrou, Marthinet, ontmoet en op haar verlief geraak het. Toe volg diensplig as polisiekapelaan, ’n pos wat hy ná twee jaar voltyds van 1983-’87 beklee het. Dit was tye wat dramatiese gebeure soos die Westdene-busramp en halssnoermoorde bevat het. Hierna was Niemandt vir 20 jaar gemeenteleraar waarna sy akademiese loopbaan gevolg het wat insluit dat hy vir tien jaar hoof was van UP se Departement Godsdiens en Missiologie.

Lees ook: Reeks: Gesprekke met moderators van die Algemene Sinode: 1962 tot op hede | Nelus Niemandt (2011 tot 2015)

Niemandt het ook verskeie boeke sowel as akademiese artikels oor missionaliteit gepubliseer en was ook mentor vir 30 doktorale studente waarvan verskeie vandag professore of dosente is of in posisies van leierskap, soos onder meer dr Nioma Venter, die algemene sekretaris van die NG Kerk. Venter het ook die aand bygewoon.

Iets wat Niemandt self vertel het, kom van ’n gesprek in sy jongdae met sy oupa, “Kleinkoppie” Niemandt. Hierdie beessmokkelaar-grootjie het vir hom gesê “Jy is ’n Niemandt en ons buig net voor die Here, voor niemand anders nie” … en hy het sy hele lewe lank hieraan getrou gebly. Regs agter staan ds Nelis Janse van Rensburg.

Van Rensburg het benadruk hoe waardevol Niemandt se vaardige leiding was in wat uitdagende tye was vir sowel die land as die kerk. Dit was onder laasgenoemde se leiding as moderator van die Algemene Sinode van 2011 dat die Belydenis van Belhar voorlopig aanvaar is as belydenisskrif (die elektroniese Christelike Kernensiklopedie voeg hieroor by: “dié voorstel kon nie (later) die vereiste twee-derde meerderheid van die betrokke kerkvergaderings kry nie”). Oor sy voorganger se leierskap, het Janse van Rensburg, wat na Niemandt in 2015 as moderator verkies is, gesê: “Die kerk het geleer in jou sleurstroom om die konteks waarin hy hom bevind ernstig op te neem en die menswaardigheid van God se mense nuut te waardeer en met patos en etiek van beliggaming lewegewende hoop en sin te bring in ’n wereld wat tot ’n groot mate verward is.”

As direksievoorsitter van Hugenote Kollege, het Van Rensburg vertel dat die Departement van Hoër Onderwys onlangs ’n omvattende oudit van hierdie instansie gedoen het. Hy sê vanuit hierdie verslag blyk die hoë vlak van uitnemendheid onder Niemandt se bestuur.

Iets wat Niemandt self vertel het, kom van ’n gesprek in sy jongdae met sy oupa, “Kleinkoppie” Niemandt. Hierdie beessmokkelaar-grootjie het vir hom gesê “Jy is ’n Niemandt en ons buig net voor die Here, voor niemand anders nie” … en hy het sy hele lewe lank hieraan getrou gebly.

Tesame met hierdie mate van onverskrokke waagmoed, het gaste ook gehoor dat Niemandt vaardig is om teorie en praktyk bymekaar te bring. Marais het vertel Niemandt het in die pos van rektor by Hugenote Kollege gekom net voor die Covid-pandemie. Sy opdrag was om koshuise te bou. Iets wat nie kon gebeur nie. Niemandt kon die situasie lees, aanpas en leiding neem en hiervoor is hulle vir hom ontsettend dankbaar, sê Marais.

Lees ook: Elders gesien | Hugenote Kollege se nuwe rektor begin in April

“Hy lyk nie so nie maar hy is rats,” het die hoof van die Skool vir Sosiale Innovasie by die kollege goedig gegrap en toe verduidelik hy bedoel hiermee Niemandt het hom dwarsdeur sy loopbaan onderskei as iemand wat die brug kan slaan vanaf teorie na die bring van ’n waarde-aksie. Anders gestel, hy tel onder dié “wat self hulle hande vuil maak en ander inspireer om dit ook te doen”.

“Ek eer jou vanaand vir jou dapperheid, kollega,” het Marais sy bydrae vir die aand afgesluit.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top