Gedurende Vryheidsnaweek in Suid-Afrika het hy die voorreg gehad om deel uit te maak van ’n groep inter-geloofsleiers wat onder die vaandel van die meer as 25 jaar-oue Cape Town Interfaith Initiative geloofsgemeenskappe en organisies in ons buurland Mosambiek besoek het, skryf Riaan de Villiers.
Ons het onder andere die Departement van Justisie en Godsdienssake, skrywers en kunstenaars, universiteite en skole besoek.
Op ons terugkeer van Mosambiek het ons op Vryheidsdag Konstitusieheuwel besoek. Daar, in die gange waar mense soos onder andere Nelson Mandela, Mohandas Gandhi en Christiaan de Wet aangehou is, het ek saam met voormalige hoofuitvoerende beampte Dawn Robertson, wat tans die stryd vir herstel van Johannesburg voer aan die stuur van die organisasie JoziMyJozi, geloop en besef: Vryheid is nie ’n gegewe nie. Dit is ’n voortdurende opdrag en strewe. Maar dit was nie die enigste heilige grond van dié week nie.

Ruth First se nalatenskap
In Maputo het ek by die Eduardo Mondlane Universiteit stilgestaan in Kamer 62. Dáár, op ’n gewone middag ná werk in die teenwoordigheid van haar geliefde kollegas, het Ruth First – dapper akademikus en vegter vir geregtigheid – ’n briefbom oopgemaak. In haar kantoor, by haar lessenaar waar sy so baie werk gedoen het in die strewe na vryheid is sy vermoor deur ’n regime wat verset gevrees het. Die stilte in daardie vertrek was nie net rou nie – dit was heilige eerbied. Nog ’n bloedige, maar heilige merksteen op ons land se pad na vryheid.
Tydens ons besoek het ons ook met die Mosambiekse Raad van Kerke ontmoet. Hulle het gedeel hoe hulle doelbewus luister na die stemme van leiers uit ander gelowe – nie in debat nie, maar in ’n gesamentlike soeke na vrede. Hierdie ingesteldheid het my diep getref. Hoe anders as ons eie konteks waar mense dikwels eerste met hulle oë luister – en op grond van voorkoms, kleredrag, kultuur of geloof besluit of iemand vriend of vyand is. So maklik verklaar ons iemand persona non grata, in Trump-styl. Maar die evangelie vra iets anders. Dit vra dat ons mekaar sal ontmoet rondom gedeelde waardes: die liefde vir die naaste, en die goue reël – om aan ander te doen wat jy graag aan jouself gedoen wil hê.
’n Portugese woord met ’n Bybelse hart
In Mosambiek het ek tussen die gesprekke deur konstant die woord convivência gehoor. ’n Portugese woord met ’n Bybelse hart. Dit beteken nie net vreedsame saamleef nie, maar diep en volgehoue gemeenskap: om sáám te leef in gedeelde respek, regverdigheid en waardigheid. Convivência is die siel van shalom – die droom van God vir heelheid en herstel.
Ek sien hoe convivência in Mosambiek groei – selfs te midde van trauma. Die Hizmet-beweging, die vrug van Turkse vlugtelinge wat deur Erdogan vervolg is, het vlugtelinge Mosambiek toe gestuur wat in net sewe jaar skole en leerinstellings in Mosambiek gevestig het. Ook hier in Suid-Afrika sien ons hulle kinders, wat Afrikaans praat saam met Turks, Engels, Arabies – en wat net soos baie Kongolese en Somaliese vlugtelingkinders, sin maak van wie hulle is in ’n nuwe land. Hulle leer nie net taal nie – hulle leer brugbou.
Maar die wêreld waarin hulle grootword is vol uitdagings. In Noord-Mosambiek is ekstremiste besig om gemeenskappe te verwoes. Mans skuil bedags in die omliggende bosse om nie gevang en geradikaliseer te word nie. Moskees word ontheilig en mense kom die moskees binne met skoene en wapens en verander selfs die wyse van hoe Moslems al vir eeue bid. Hierdie is nie ware Moslems nie, maar ideologies gedrewe ekstremiste wat die geloof vir hulle eie selfsugtige doeleindes wil gebruik. Een dag voed hulle die mense en die volgende dag vermoor hulle mense – hulle regeer deur vrees. Die Mosambiekse regering se reaksie en optrede teenoor die plaaslike bevolking wen egter nie die harte van die mense nie. Die situasie is uiters gespanne. In hierdie konteks het ek weer besef: As die kerk nie profeties praat nie, verraai ons ons roeping.

Sekere mense nie welkom in God se droom?
Op pad lughawe toe in Johannesburg is ek eerste by die taxi en sit saam met die taxi-bestuurder wat na ’n podsending van ’n gesprek met Kallie Kriel luister terwyl ons wag. “Hoekom wil hierdie Afrikanermense vlug?” vra hy. “Trump se vlugtelinge – hulle maak ons land seer.” Maar vlugtelinge kies nie gemak nie – hulle kies oorlewing. Niemand kies waar hulle gebore word nie – maar tog glo ons dat God kies ons. Hoekom sou ons dan dink dat sommige mense meer gekies is as ander? In Suid-Afrika, Mosambiek, VSA, Israel of Palestina, of enige ander plek in God se volmaakte en diverse skepping?
Ons het pas die opstanding gevier. Christus leef. En ons bely dat God ons gekies het nog voor ons Hom kon kies. Tog leef ons asof sekere mense nie welkom is in God se droom nie. Asof liefde vir die naaste opsioneel is. Asof ons vyand nie ook beeld van God dra nie.
Die vroeë kerk het iets anders geleef. Hulle het selfs heidense Romeine wat hulle slawe liefgehad het, as geloofsgenote verwelkom – sonder dat hulle eers die regte leerstellings gehad het. Jesus het gesê: “Wie nie teen ons is nie, is vir ons.” Wat het van daardie openheid geword? Geseënd is die convivencia-makers want hulle sal kinders van God genoem word.
In 1999 het President Mandela in die Groote Kerk gepleit vir ’n “RDP of the Soul”. Hy het die kerke opgeroep om nie net heil vir die hemel te verkondig nie, maar in samewerking oor Suid-Afrika se ryke en diverse ekumeniese en geloofslandskap genesing vir die nasie te wees.
Die profeet Miga roep: “Wat anders vra die Here van jou as om reg te doen, liefde en trou te bewys en nederig te wandel met jou God?” (Miga 6:8).
Die opstanding van Christus is nie net ’n wonder nie – dit is ’n oproep. Kom uit. Leef saam. Bou convivencia. Want Christus leef – en Hy bou reeds sy koninkryk met almal wat bereid is om saam te bou in liefde en genade.
- Ds Riaan de Villiers is leraar by Groote Kerk in Kaapstad.
Bravo Riaan! You have brought together strands of conversation local and global. Thank you for this window on our world, our neighbor, and our ultimate Reality, in convivência. A Luta Continua. Baie Dankie and Muito Obrigado!
Christus bou Sy Koninkryk van geregtigheid met bekeerlinge wat die boodskap van die opstanding glo en hulle lewens dienooreenkomstig aan Hom, Christus Jesus oorgee.
” Maar die evangelie vra iets anders. Dit vra dat ons mekaar sal ontmoet rondom gedeelde waardes: die liefde vir die naaste, en die goue reël – om aan ander te doen wat jy graag aan jouself gedoen wil hê.”
Waar bring die evangelie jou? Bring dit jou tot sondebesef, bekering, verlossing en geloof in Jesus? Indien nie is dit ‘n gejaag na wind en tevergeefs.