Hierdie Forumbydrae is geskryf en regstreeks deur 'n Kerkbode-blogger opgelaai.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
’n Groep senior kerkleiers wag dat president Cyril Ramaphosa reageer na hulle “dringende beroep” dat hy ingryp in wat hulle die “dire state of affairs” in die Nelson Mandelabaai Metropool noem soos uitgelig in ’n gesamentlike brief wat hulle in Mei aan hom gerig het.
In hierdie brief, ook gestuur aan die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, vra die groep van 17 kerkleiers dat die metro se raad ontbind word en ’n bekwame administrateur aangestel word totdat plaaslike verkiesings weer in 2026 gehou word.
Ds Danie Mouton, wat die NG Kerk op hierdie interkerklike drukgroep verteenwoordig, skryf in die Grens.Pos-nuusbrief van 30 Mei “dit is die eerste keer in jare dat kerkleiers só ’n sterk standpunt teen die metro se bestuur inneem”. Hy meen die kerk het ’n verantwoordelikheid om oor “publieke kwessies” te praat.
Luidens die kerkleiers se gesamentlike brief is hierdie Oos-Kaapse hawestad se plaaslike bestuur al vir meer as ’n dekade disfunksioneel. As bewys hiervan lys hulle ondermeer die volgende:
In 24 jaar was daar 13 burgemeesters, nege van hulle sedert 2019 gedien. In die laaste nege jaar was daar meer as 16 stadsbestuurders.
Die huidige burgemeester Babalwa Lobishe het in Maart glo probeer om sowat R3.2 miljard af te skryf as “unauthorised, fruitless and wasteful expenditure”. Dit terwyl projekte vir dringende herstelwerk weens vloedskade blykbaar sukkel om aan die gang te kom. Een van die voorbeelde genoem sluit in die Matanzimabrug wat die KwaNobuhle-woonbuurt met die stad en fabrieke in Kariega (Uitenhage) verbind. Die Daily Sun het vroeër berig die Nasionale Tesourie het in November laasjaar reeds R89 miljoen beskikbaar gemaak vir die brug se herstel maar teen Maart vanjaar was daar nog nie kontrakteurs aangewys om met herstelwerk te begin nie. ’n Geskatte meer as 100 diensleweringskontrakte is ook nie gevul nie.
In kort, hierdie metro-owerheid het halfpad die finansiele jaar in glo steeds net minder as 30% van hulle begroting spandeer. Verlede jaar was minder as 50% van die hawestad se begroting spandeer en is miljoene rande so verloor.
Die kerkleiers skryf in die brief dit is uit besorgdheid oor die impak wat hierdie benarde stand van sake op mense se lewens het dat hulle die skrywe aan die President gerig het.
Mouton het by navraag aan Kerkbode genoem die kantoor van die Oos-Kaapse premier het sedertdien ontvangs van hulle skrywe erken, maar sover was daar nog niks gehoor vanaf die presidensie nie.
Hy het ook gesê vir hulle as kerkleiers gaan dit nie oor politieke partye nie, maar oor geregtigheid, goeie regering en die waardigheid van mense. Hy het bygevoeg, “ons kan nie langer stilbly terwyl die dienslewering in duie stort en inwoners onder ontsettende omstandighede moet leef nie”.