Bennie Janse van Rensburg het besluit hierdie Pinkster gaan hy eerlik wees oor die feit dat hy al self gewonder het waar is die Heilige Gees – veral onlangs.
Die gebore Vrystater was vir 25 jaar predikant by die NG Moedergemeente Wellington voor hy op 60 in 2021 om mediese redes moes uittree.
Bennie het ’n oorerflike spierkwynende siekte waarvoor daar nie genesing is nie. FSHD-spierdistrofie, wat in 2007 by hom gediagnoseer is, het hom oor jare so verswak dat sy stewige paar bene hom nie meer kan vat waar hy wil wees nie. Hy kan nou nie eens meer uit die bed opstaan sonder dat Susan, sy ‘engel’ soos hy sy vrou noem, of sy versorger hom help nie.
Sy vrou, sy kinders en kleinkinders, hulle vriende, hulle huis … hy het baie om voor dankbaar te wees al is sy siekte geen “ligte musiek” nie. So vertel hy terwyl ons Kerkbode-span in die woonkamer sit van hulle mooi meenthuis. Deur die groot vensters sien ’n mens ’n stukkie tuin met in die verte die blou van Groenberg en Hawekwaberg.

Vir hierdie eertyds besige gemeenteleraar het sy leefwêreld die laaste jaar verskraal tot hulle meenthuis. Dit is ’n liefdevolle en warm leefruimte gevul met familiefoto’s, skilderye en selfs ’n soldaatjie uit sy weermagdae (wat ’n paar maande grenstyd ingesluit het saam met 32 Bataljon in Angola).
In 2023 kon hy nog sy naamgenoot-kleinkind in die kerk doop vanuit ’n rolstoel, maar sulke uitstappies raak al minder. Dit is slegs as sy seun en skoonseun hom help, dat hy in ’n rystoel kan kom en dan kan hy nie lank daarin sit voor die pyn te veel word nie.
Tog bly hy betrokke. Hy stuur steeds weekliks aanlynboodskappe na gemeentelede uit vanaf sy tablet. Mense vertel hom hy stel ’n goeie voorbeeld, maar vroeër vanjaar het hy so ’n donker tyd deurgemaak hy het gevoel die Here kan maar iemand anders kry om ’n voorbeeld te stel.

Eerste tekens was val en moeg wees
Bennie vertel hy was voor sy siekte ’n hoogs effektiewe dominee. Hy het huisbesoek gedoen, Bybelstudies gelei, alles. Toe in 2007 begin hy skielik val. Op die gholfbaan. Tydens muurbal. Hy het ook vreeslik moeg begin voel.
Vele mediese toetse later kom die uitslag: Hy het FSH-spierdistrofie. Die gebore Vrystater vertel dit is ’n oorerflike siekte wat die spiere teiken en waarvoor daar nie genesing is nie. Die siekte teiken gewoonlik die spiere in die gesig, skouers en heupe (die FSH staan vir Face, Shoulders, Hips), maar by hom was dit sy bene. Sy ma was die draer, maar sy het dit nie geweet nie, want sy is gesond. Hy is ook die enigste van sy drie broers wat simptome toon.
’n Kankerstryd
Kolonkanker is in 2014 by hom gediagnoseer. Dit was reeds ver gevorderd (graad 4) en het ook na sy longe en kliere versprei. Bennie onthou die dokter het vir hom gesê as hulle nie die gewas kan verwyder nie gee hy hom ’n jaar oor om te leef.
Gelukkig het ’n intensiewe pad met chemoterapie die kanker suksesvol in remissie gesit, maar dit het Bennie se beenspiere verder verswak. Soos hy vertel, “ek het ingestap vir chemo en met ’n kierie uitgestap”.

Aftrede op 60
Hy wou van jongsaf net een beroep volg, dié van predikant wees. So selfs al moes hy later ’n loopring gebruik, het hy aanhou bedien totdat dit net te moeilik geraak het om by mense uit te kom.
Na sy aftrede in 2021, midde-in die Covid-pandemie, het Bennie en sy vrou na hierdie gerieflike meenthuis sonder trappe verhuis. Susan het haar suksesvolle koffiewinkel opgegee om meer voltyds na hom te kan kyk. Hulle het ’n paar dae per week ook ’n versorger om haar te help. Hy het egter al meer begin val. Toe vra hy ’n paar vriende om vir hom ’n spesiale stoel van vlekvrye staal op wiele te bou. Die stoel het ’n ingeboude hysertjie wat kan sak en lig soos nodig. Hy stort op die stoel en dit kan ook as ’n kommode dien.
Elke mens kry ’n beker
Bennie vertel hy het daagliks pyn in sy lyf. Nogtans was alles wat hy deurgemaak het vir hom houdbaar. ’n Boekie van die Nederlandse priesterskrywer Henri Nouwen het hom al met sy kankerstryd gehelp om te besef elke mens kry ’n beker om te drink saam met die genade om dit te kan doen. Hierdie was syne. Hy was ok daarmee … so het hy gedink.
Toe kom die donker tyd vanjaar. Die details hiervan, toe hy dit later vir Kerkbode vertel, skets ’n rowwe prentjie. Eers het hy ’n infeksie opgedoen tydens ’n kolonoskopie. Dit was gedoen om te toets of die kankergewas nie dalk teruggekom het nie omdat hy weer begin moeg voel het. Die uitslag het gewys hy is steeds kankervry, maar die twee dae in die hospitaal vir die prosedure het hom verswak. Hy was kort by die huis toe val hy so hard in hulle badkamer dat hy vir ’n maand bedlêend was met ’n gebreekte neus en harsingskudding.

Foto: Robert Cable
Skielik was hy heeltemal afhanklik van ander. Dit het hom vir die eerste keer in sy lewe bang laat voel. Angstig. Emosies waarvoor hy vroeër nie veel geduld gehad het in ander mense nie. Hy vertel “ek was op ’n manier teleurgesteld in myself want ek het gevoel … ek het soveel om voor dankbaar te wees en nou het ek hierdie bang, angstige dissipel geword”.
Sy getuienis is dat hy in hierdie moeilike tyd, wat hy so ’n doodsheid in hom gevoel het, ervaar het dat die Gees weer vir hom lewe bring. In die Evangelies het hy gelees dat Jesus se dissipels ook dikwels bang was. Bennie sê dit het vir hom ’n bietjie vertroosting gebring – “ek het besef ek hoef nie ’n super-dissipel te wees nie”.
Ervaar die Gees in mense se omgee
Hy het gesukkel om te bid, maar het ervaar dat die Gees saam met hom sug. Saam met hom verlang.
Daar was nie ’n stem uit die hemel nie, maar hy het die Gees gehoor in die talle mense wat vir hom bid. Hy het ook die Gees weer begin raaksien in die mense om hom. In die Christen-dokters wat die ekstra myl vir hom stap. In sy vrou se liefdevolle omgee en sorg. Ook in sy kinders, skoonkinders en kleinkinders wat daagliks daar is vir hulle pa en oupa.
“Hulle liefde en bemoediging dra my,” sê hy.
Hy beduie na een van die skilderye in hulle woonkamer. Sy afgetrede leraarvriend, Fanie Marais, het dit vir hom gemaak. Bennie vertel hy ervaar God het hom gehelp dat hy ook meer begrip het met mense wat soos sy vriend ’n stryd met depressie het.
Sy belewenis van sy eie broosheid en swakheid het hom laat nadink oor die stories wat ons in die kerk vertel. Hy verduidelik “ons in die kerk hou daarvan om na suksesstories te luister waar alles mooi uitwerk, maar die waarheid is in die meeste gevalle werk mense se stories nie so nie … die siekte gaan nie weg nie. Dit is die stories wat ons moet deel – stories waar die Here jou nie uit die put haal nie, maar die put uit jou haal”.
Dit is hoekom, toe sy oud-kollega, ds Lettie Büchner, hom gevra het dat hy vir Pinkster ’n video maak waarin hy vertel waar hy die Heilige Gees met swaarkry ervaar, hy besluit het hy gaan oor sy eie donkertyd eerlik wees, “want,” voeg hy later by, “God dra jou en is by jou terwyl jy nou besig is om deur donker dieptes te gaan. Soos wat jy jou beker drink, word jou beker gevul met die waters van die ewige lewe, waters waar daar vrede en rus is”.
- Het jy ’n geloofstorie? Kontak ons gerus op kerkbode@tydskrifte.co.za
