Esta Thompson is op 66 die biologiese ma van twee en ouma van een, maar baie meer mense sê vir haar “ma” en “ouma”. By haar hoor Heléne Meissenheimer dat sagte oë vir randmense makliker volg as ’n mens self al seer en swaar geken het.
Esta lei ’n interkerklike groepie vrywilligers bekend as Seeds of Hope. Vir die afgelope 17 jaar is hulle op Dinsdagaande ’n bekende gesig vir vroue (en ook mans) wat langs of naby Voortrekkerweg in ’n ‘downtown’ Parow in die Kaap hulle lyf verkoop.
Sy is nie ’n opgeleide berader nie. Dit gaan vir haar daaroor dat sy en haar span vir hierdie mense, van wie baie ’n swak selfbeeld het oor wat hulle doen of oor hulle dwelms gebruik, kan wys iemand sien hulle raak en gee om. Hulle oogmerk is om werklike vriendskappe te smee. Esta verduidelik hulle span se benadering is nooit om die vroue af te breek nie. Daar is te veel mense wat dit reeds doen. Hulle moedig hulle aan om verandering te waag, maar as die vroue terugval is hulle daar vir hulle.
Lees ook: Regter sê saak oor sekswerkers raak hele samelewing
Een van hulle noem ons vir hierdie storie Mara. Sy bly saam met haar kêrel, Jossie, in ’n hokkie naby ’n brug. Esta help hulle met goed van plastiek en karton wat hulle sorteer en inruil vir geld. Mara verkoop soms haar lyf ook. Sy het drie kinders wat by ander mense grootword, want sy voel sy sal nie self goed na hulle kan kyk nie.
’n Mens kom agter dat Esta met sagte oë na vroue soos Mara kyk. Sy sê dit is omdat sy voel sy kan nie judge nie. Haar keuses was ook soms verkeerd. Mense het haar ook al bygestaan in swaar tye. “Hulle het my aanvaar vir wie ek is … ek dink dit is wat ek vir hulle (die vroue) wil wees,” sê sy.

‘Ek wou vir iemand iets beteken’
Dit was vir Esta bitter swaar toe haar man skielik dood is toe sy skaars 29 was. Skielik was sy enkelouer van twee klein kinders op ’n dorp iewers in Mpumalanga waarheen hulle nog maar kort te vore heen verhuis het en min mense geken het. Sy vertel daar was dae dat sy nie geweet het waar kry hulle geld vir kos nie.
Later het sy en die kinders teruggetrek Kaap toe. In 2007, toe haar kinders al groot was, het sy weer ’n laagtepunt getref. Sy vertel sy het gevoel sy beteken vir niemand iets nie.
Toe sien sy in hulle gemeente se nuusblad die kennisgewing oor Straatwerk raak. Dit is ’n hulporganisasie van die NG Kerk wat al vir dekades in die stad en van die noordelike voorstede by uitreike en leefstylprogramme vir vroue soos Mara betrokke is met die doel om hulle te ondersteun sou hulle besluit om ’n ander manier van leef te probeer.

Esta sê dit was vir haar asof die Here vir haar gewys het sy moet “daai Straatwerk-nommer” bel. Na sy saam met die span ’n paar keer uitgereik het, het sy gevoel dit is wat sy wil doen. “I was hooked,” sê sy. ’n Jaar later het sy saamgegaan met die span wat spesifiek met vroue gesels wat op straat hulle lyf verkoop. Sy vertel sy kon daardie nag nie slaap nie. “Dit was vir my verskriklik hartseer … maar dit was vir my, sjoe, miskien kan ek hier iets beteken …”
Later dieselfde jaar begin sy Seeds of Hope. Esta verduidelik hulle kan nie die vroue oortuig om ’n besluit te maak nie. Dit is belangrik dat hulle dit self doen want die pad wat voorlê gaan nie maklik wees nie. Die meeste het skaars matriek, werk is skaars en baie vroue ervaar die stigma aan wat hulle gedoen het maak oorbegin nog moeiliker. Die gevolg is dat sommige moed opgee en weer strate toe gaan.
Soos Esta verduidelik: “Dis moeilik om op te staan uit niks en jy sien niks”.
Die groep nooi ook die vroue om op Woensdae na ‘open meetings’ by Esta se kerk, Sotêr Familiegemeente, te kom. Tussen 30 en 40, soms selfs meer vroue kom hierheen. Hulle kry hier ’n boodskap, ’n lied om te sing en bid saam met Esta en haar span. Daar is ook altyd iets om te eet, want die vroue is dikwels honger. Baie verdien nie genoeg om goed na hulleself te kyk nie. Soms word dit ’n geleentheid om met menswaardigheid een van hulle eie te groet wat oorlede is soos in Augustus met Patricia of Vrou soos sy bekend was.
Op die span se WhatsApp-groep deel Esta weekliks gebedsversoeke. Sy vertel wie sy en die span die week gesien en mee gesels het. Sy vertel wie het seer oor verhoudings met kêrels, familie of kinders wat skeefloop. Ook wie het kommer oor geld vir huur, skoolgeld of babadoeke. Wie gaan vir werksonderhoude. Wie is siek of dalk in die hospitaal, in baie gevalle is dit weens tuberkulose of MIV-Vigs want hierdie manier van leef is hard op die lyf. Soms beland van hulle in die tronk.

Weeksdae, na werk (sy werk as stoelassistent by ’n tandarts), en oor naweke ry Esta op haar eie in haar blou Ford Figo na plekke soos “die plaas”, ’n ry gehuggies langs die spoorlyn, asook ander plekke waar sy weet van die vroue bly. As sy het, gee sy iets soos ’n pakkie chips, ’n piesang of ’n lekkertjie. Soms het sy niks en dan ry sy nog steeds uit, want dit is vir haar belangrik dat hulle net weet “hulle word gesien deur iemand wat in Parow bly”.
Sou ’n mens soek na ’n lens om sin te maak van wat hier gebeur kan dit help om aan te klop by iemand soos die teoloog prof Christina Landman. Sy vertel in haar biografie dat haar eie kort huwelik met ’n man wat “my uit my volksmoederdrome gemoker het” haar gehelp het om ander vroue se seer te kan raak sien. “Deur jou wonde word jy ’n geneser,” skryf sy in Christina Landman, ’n lewe.
Sy vertel ook haar jarelange navorsing en gesprekke met mense “wat op die rand van die samelewing lewe” het haar geleer “geloof kan vir vroue die groot gesondmaker wees. As ons ons geloof gesond hou. Dat ons gelyk en geliefd is in God se oë.” Lees meer: https://kerkbode.christians.co.za/2023/08/01/christina-landman-se-stem-en-credo-klink-op-uit-die-hart-van-ons-land-se-baie-pyn/
Esta is vir baie van die vroue meer as ’n vriendin. Hulle noem haar suster, ma of sommer ouma. Twee vroue wat vir Esta “ma” noem het hulle stories met ons gedeel toe ek onlangs in haar blou motor saam met haar rondgery het (Esta se kontakbesonderhede is 083 611 8611 0f e-pos: esta.geldenhuys@gmail.com).

“It’s God’s miracle’
Pinky is een van hulle. Sy het vertel na sy as jongmeisie verkrag is, het sy saam met ’n vriendin weggeloop uit die Oos-Kaap en na die Kaap gekom op soek na werk. Toe sy weer sien verkoop sy haar lyf vir kos en drank. In die jare daarna het sy soms vir Esta gesien maar Pinky sê sy het Esta weggejaag as sy of haar span met haar wil praat. Tot eendag wat sy besluit het sy het genoeg gehad. Sy het met Esta kontak gemaak en gesê sy wil inskakel by Straatwerk se Journey of Hope, ’n lewensvaardigheidprogram wat vroue soos sy help wat so ’n oorgang wil maak. Daar is baie mense in haar gemeenskap wat haar veroordeel het as sy praat oor die lewe wat sy gelos het. Daarom is sy so bly vir mense soos Esta en ander wat haar ondersteun het.
Dit was baie moeilik maar sy is bly sy het vasgebyt, sê Pinky. Een van haar groot uitdagings was om ’n ID te kry. Sy moes teruggaan Oos-Kaap toe daarvoor en amper almal wat haar geken het was al dood. Gelukkig was daar ’n oom en het haar laerskool ’n rekord van haar gehad. “It’s God’s miracle,” sê Pinky wat vertel sonder God het sy nie gekom waar sy vandag in die lewe is nie.

‘Speel vir my die ‘Truth liedjie’
Mara se storie klink bietjie ’n dieselfde en ook anders. Sy het al ’n paar keer probeer om dwelms en haar lewe op straat te los, maar dan “flop” sy weer soos sy dit stel. “Ek is nie goed met keuses nie, ek gee gou in en ek is bang,” sê sy.
Haar pad na die straat het gekom toe sy van die huis weggeloop het na sy as tiener deur haar huiswerkerma se werkgewer verkrag is. Mara sê dié wond lê nog diep. “Ek is nie heel nie … ek hou alles toe,” sê sy hartseer. Terwyl ons by haar was, vra sy dat Esta vir haar tienerdogter sal bid, want die kind raak rebels en Mara is bang haar kind volg haar ma se pad.
Dan vra sy nog iets. Sy wil graag weer ’n liedjie hoor wat Esta al vir haar gespeel het. Die liedjie se naam is ‘The Truth’. “Is vir my baie inspiring … ek moet ophou na die liegtery van die duiwel luister. Dis waar wat sy (sanger) sê. Hy’s onse Pa, Hy’s die Een wat als gedoen het vir ons,” verduidelik Mara.
En toe, sodra die liedjie van gospelsanger Megan Woods begin speel, sing sy kliphard saam:
How many times can you hear the same lie
Before you start to believe it?
The enemy keeps whisperin’ to me
I swear these days, it’s all that I’m hearin’
I used to know who I was
Now I look in the mirror and I’m not so sure
Lord, I don’t wanna listen to the lies anymore
The truth is I am my Father’s child
I make Him proud and I make Him smile
I was made in the image of a perfect King
He looks at me and wouldn’t change a thing
The truth is I am truly loved
By a God who’s good when I’m not good enough
I don’t belong to the lies, I belong to You
And that’s the truth.

Sjoe, dis baie spesiaal. Mag jou werk nog verder geseend wees.