Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: Waarom het die wêreld ’n Verlosser nodig en nie ’n revolusionêr nie?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Julian Olivier van Groblersdal skryf: Met Kersfees praat ons gereeld oor lig, vrede en hoop. Dit is goeie en Bybelse woorde. Maar ek dink Kersfees vra ’n skerper vraag: Waarom moes God self mens word? Waarom stuur Hy nie bloot ’n groot leermeester, ’n morele voorbeeld of ’n politieke bevryder nie?
Die Bybel se antwoord is eerlik en ontstellend: die wêreld se diepste probleem lê nie buite ons nie, maar binne ons.

LEES OOK | Resensies: The holy and the broken + How not to mess up online

Volgens die Christelike belydenis is die mens goed geskape. Ons is gemaak om in gemeenskap met God te leef. Maar deur die sondeval het die mens homself willens en wetens van God losgeskeur. Daarom is sonde nie bloot verkeerde keuses of slegte invloede nie; dit is ’n verdorwenheid van die hele menslike natuur. Gevolglik is selfs ons beste bedoelings gebroke, en selfs goeie strukture altyd vatbaar vir korrupsie.

Dit is hoekom ’n revolusionêr nie genoeg is nie. ’n Revolusionêr kan strukture verander, mag herskik en onreg aanspreek. Dit het soms waarde. Maar hy kan nie skuld wegneem nie. Hy kan nie die hart vernuwe nie. Hy kan nie die mens met God versoen nie. Ons grootste nood is nie net bevryding nie, maar verlossing.

Juis daarom moes God self ingryp. Die Evangelie verkondig nie dat God van ’n afstand af raad gee nie, maar dat God, in die Persoon van die Seun, werklik mens geword het. God die Seun het ’n ware menslike natuur aangeneem – liggaam én siel – sonder sonde. Nie skynbaar nie, nie simbolies nie, maar werklik. Wat nie aangeneem word nie, kan nie verlos word nie. Hy is die nuwe Adam. 

Die inkarnasie lei onafwendbaar na die kruis. God is volkome regverdig: sonde kan nie geïgnoreer of weggeredeneer word nie. Maar God is ook volkome barmhartig: Hy wil nie die sondaar vernietig nie. In Christus ontmoet regverdigheid en barmhartigheid mekaar. God dra self, in die Persoon van die Seun, die straf wat sy regverdigheid vereis, en skenk vryspraak aan dié wat skuldig staan. Nie teen ’n goedkoop prys nie, maar teen die duurste prys denkbaar, die lewe van ons Here Jesus Christus.

Daarom word hierdie Kind Jesus genoem: “Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.” Kersfees is nie bloot ’n fees van vertroosting nie, maar is die begin van God se verlossingswerk. Die wêreld het nie in die eerste plek ’n revolusionêr nodig nie, maar ’n Verlosser. Dit is presies wat God in Christus gegee het.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Brief: Waarom het die wêreld ’n Verlosser nodig en nie ’n revolusionêr nie?”

  1. Baie dankie vir hierdie brief, Julian. Dìt is die Evangelie wat die wêreld nodig het. As ‘n mens na die sake kyk waaroor die meeste geraas gemaak word, soos die Anti-Israel veldtog op Hervormingsdag in die Groote Kerk, is die groot probleem die totale afwesigheid van hierdie Blye Boodskap waarvoor God in Jesus mens geword het.

Comments are closed.

Scroll to Top