Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Ek dink oor ChatGPT soos Paulus wat ’n skriba gehad het om sy gedagtes neer te pen.” Só sê dr Pieter Visser (middel) in hierdie artikel waarin hy en nog ’n gemeenteleraar, Lerisa Meyer, sowel as Cas Wepener, ’n professor in Praktiese Teologie, vrae antwoord oor die gebruik van KI-hulpmiddels in die bediening.

‘Kunsmatige intelligensie kan baie goed doen maar dit kan nie die evangelie verkondig soos mense kan nie’ – gesprek oor ChatGPT en ander KI-hulpmiddels in diens van die kerk

Talle dominees gebruik kunsmatige intelligensie (KI)-programme soos ChatGPT vir alles van kleiner takies soos notule hou of opsommings maak, tot die skryf van preke. Sommige gemeentes het selfs KI-riglyne. Heléne Meissenheimer vra twee gemeenteleraars en ’n professor in Praktiese Teologie ’n paar vrae oor die gebruik van hierdie kragtige tegnologie vir die bediening.

  • Dr Pieter Visser (PV), ’n predikant met ’n doktorsgraad in narratiewe berading en medeleraar van die NG Gemeente Wierdapark in Pretoria, ’n groterige voorstedelike gemeente met sowat 1 600 gemeentelede.
  • Ds Lerisa Meyer (LM), ’n millenniër-dominee van ’n plattelandse gemeente en kerkleier in KZN wat ook ’n bietjie in klank eksperimenteer vir podsendingepisodes.
  • Prof Cas Wepener (CW), ’n dosent in Praktiese Teologie by Universiteit Stellenbosch en die outeur van verskeie boeke en artikels. Hy beskryf homself as iemand wat nie in KI spesialiseer nie, maar tog met sy studente daaroor moet praat.

Kerkbode (KB): Waarvoor is jy die meeste dankbaar vir KI en lys die drie funksies of toeps wat jy die meeste gebruik en waarvoor?

LM: Ek is baie dankbaar vir KI en gebruik dit ongelooflik baie in my bediening. Ek is dankbaar dat KI my help om op die platteland steeds te funksioneer op ’n hoë standaard selfs al het ek nie al die hulpbronne soos groot stedelike gemeentes nie.

Ek gebruik oor die algemeen net hierdie twee KI-funksies:

  • ChatGPT: ek gebruik ChatGPT om my te help om op ’n intergenerasionele manier die gemeente te dien. ChatGPT help my om ’n jaarprogram uit te werk wat sin maak. Ek gebruik ChatGPT ook merendeels vir kinderaktiwiteite. Ek het baie kinderselgroepe en om elke week 10 verskillende aktwiteite uit te dink wat pas by die preek, die tuisgeloof, die kategese, die kerkjaar ens, kan baie uitdagend wees. ChatGPT help my ook baie met die beplanning van byeenkomste.
  • Canva: ek is ’n Canva-liefhebber, want dit het ’n ingeboude KI. Dit maak die voorbereiding van PowerPoint-aanbiedings ongelooflik maklik. Dit help my ook om goeie gehalte bemarkingsmateriaal te ontwerp vir die gemeente. Dit is ook baie toeganklik.

PV: Ek gebruik verskeie KI-hulpmiddels, maar ek sonder graag ’n paar uit wat ek baie nuttig vind:

  • Spinach en TurboScribe: ek gebruik hierdie twee programme vir transkripsie en opsommings van vergaderings en gesprekke (veral by begrafnisgesprekke). Dit stel my in staat om tydens sensitiewe gesprekke heeltemal teenwoordig te wees sonder dat ek notas hoef te maak.
  • Shortwave (met Claude): ek gebruik dit om e-posse te hanteer en standaardantwoorde/templaatbriewe (bv vir voorhuwelikse berading) outomaties te genereer. Dit spaar besluitnemingsenergie sodat ek my kreatiwiteit vir belangriker werk kan hou.
  • ChatGPT: ek gebruik dit daaglikse vir navorsing, vers-vir-vers-analise sowel as nagaan van literêre en sosio-historiese agtergrond.

CW: Ek is maar uit die oude doos met my honderde boeke wat rondom my in die rakke sit en wat ek elke dag raadpleeg, maar ek dink KI kan baie help om bronne te soek en te bekom. Daardie bronne glo ek moet net goed geverifieer word. Ek dink ook dat indien skryf nie jou sterkpunt is nie, kan ’n KI-program waarde toevoeg tot iemand se styl, die vloei van ’n argument ensovoorts. En verder kan KI ook help om ’n oorsig te bekom, byvoorbeeld oor die werk van ’n bekende teoloog, maar ook dit moet noukeurig geverifieer word wanneer jy met die basiese programme werk. Indien jy nie baie boeke het nie of vêr van enige biblioteek af is, is dit natuurlik ’n bron.

LEES OOK: Kunsmatige Intelligensie: Opwinding word afgewissel deur vrae en omsigtigheid toe teoloë oor KI besin

KB: Hoe help Praktiese Teologie in ’n KI-gedrewe wêreld ons met die spanning tussen doeltreffendheid en getrouheid (egtheid) in die bediening?

CW: Soos alle teologie gaan Praktiese Teologie (PT) oor God. En ek dink PT kan ons help om goeie onderskeidende vrae te formuleer, soos wie die God van KI is? Is dit die drie-enige God van die Bybel of is daar dalk ’n paar gode van Egipte wat in algoritmes skuilgaan en na wie se pype ek ook dans wanneer ek KI in die bediening gebruik? PT moet ons daaraan herinner dat die plaaslike gemeente, die versameling van gelowiges, die mees basiese interpreteerder van die evangelie is, nie een dominee of KI nie. Dit moet PT doen in elke subdissipline, soos Prediking, Liturgie, Pastoraat, Diakonie en meer.

LM: Praktiese teologie het my nog altyd geleer dat ’n opregte getuienis van geloof baie meer werd is as enige mooi prentjie of indrukwekkende jaarprogram.

PV: Kom ons kyk na die vraag. As iets doeltreffend is, kan ’n mens vra ‘werk dit?’ Maar in terme van getrouheid sal ons vra ‘wie word ons as dit werk?’ Dit is vir my belangrik om dit te sê. Ek sien KI as ’n assistent of medewerker, nie as plaasvervanger nie. Die predikant bly verantwoordbaar vir hoe hy dit aanwend as hulpmiddel in die uitleef van sy roeping. Jy moenie jou eie stem of gevoel van roeping in die proses verloor nie.

In ons gemeente se DNS is ’n geskiedenis van genade en aanpasbaarheid, ook rondom die verantwoordelike gebruik van nuwe tegnologie. Ons het tydens die pandemie byvoorbeeld ons digitale bediening ontwikkel omdat mense ’n behoefte aan konneksie gehad het. Ons het selfs aanlyn nagmaal bedien met video’s van egte, bekende gesigte uit die gemeente wat nagmaal gebruik om so beliggaamde geloof te versterk.

In terme van KI is ons vanjaar besig om ’n interne beleid in plek te stel vir ons gemeente. Deel daarvan is om deursigtig te wees wanneer en waarvoor KI-hulpmiddels gebruik is. Ons gemeente het byvoorbeeld nie genoeg geld om vir my ’n sekretaresse aan te stel nie. KI-hulpmiddels help my dat ek nie so besig raak met kantoorwerk dat ek nie by mense uitkom nie. Ek dink dit is op die ou einde ’n balanstoertjie.

KB: Baie predikante is blykbaar bekommerd dat KI eendag hulle werk sal oorneem. Is dit iets wat jou bekommer?

LM: Ek is nie bekommerd daaroor dat ChatGPT my werk gaan oorneem nie, want kerkwees gaan oor outentiek menswees saam met mekaar, wat KI nooit sal kan uitleef nie. KI is oulik om mee te gesels, maar dit wys vir jou wat jy wil hê. Wanneer ons in die gemeente saam bid, die Here saam loof, saam ons geloof bely, saam tee drink na die tyd, is daar geen KI wat kan kersvashou by die outentiekheid van menslike interaksie nie. KI kan jou nie bystaan by jou sterfbed nie. Dit kan nie saam met jou huil of saam met jou lag nie. Dit kan nie elke week vir ’n uur saam met jou kinders by die skool rondspring en kliphard “Die Here het my mooi gemaak,” saam sing nie. KI kan baie goed doen, maar dit kan net een ding wees – ’n robot.

KI kan nie die evangelie verkondig soos mense kan nie. KI kan jou nie aanraak soos wat medegelowiges jou kan aanraak nie. Jy kan met ’n chatbot gesels, maar jy sal nooit die diepte van empatie daar kan ontvang soos wat jy in ’n doodnormale gesprek met mense sal kry nie. KI is wonderlik, maar dit is nie die lewende Heilige Gees nie. Die werking van die Gees sal nooit vervang kan word met KI nie.

PV: ’n Predikant wat dink sy roeping is net om preke en dagstukkies te produseer, kán bekommerd wees, want dan is hy vervangbaar. KI plaas opnuut skerp fokus op die vraag: Wat is ons roeping werklik? Die kern van predikantwees lê in teenwoordig wees by mense in hulle broosste en vreugdevolste oomblikke, pastorale aanvoeling, beliggaming, outentisiteit en die vermoë om ’n situasie te “lees”. Dit is nie repliseerbaar deur ’n taalmodel nie. Die kernvraag vir my is: Wat skep ek hiermee? ’n Getiekte boks of werklike teenwoordigheid en ontmoeting met God?

CW: My tech vriende gaan dadelik sê dat KI geprompt kan word om meer menslik te wees, meer emosie te betrek, en alles wat ek mis in KI, gewoon net in te voeg. Ek is egter ’n voorstander van “carnal hermeneutics” (vleeslike of lyflike hermeneutiek) en KI kan dit (nog) nie doen nie.

Kyk, dit is heel indrukwekkend hoe KI, wanneer ek vir haar ’n vraag vra, eerstens vir my sê: “what an excellent question!” Soms volg nog ’n kompliment of twee en in ’n onbewaakte oomblik koester ek amper ’n emosie. My belewenis, en in die lig van my beperkte kennis, is dat KI vir my antwoorde bied, vir my sake makliker maak, vir my probleme oplos en sake sistematiseer om alles meer hanteerbaar te maak.

Outentieke menslike interaksie maak alles egter nie altyd eenvoudiger, minder dubbelsinnig en kompleks, en stroop die lewe van ironie en paradoks nie. Inteendeel. Ek hou van fiksie en skryf ook self romans. En ’n kritiese kenmerk van goeie fiksie is paradoks en kompleksiteit, dit is die teenoorgestelde van ’n stuk akademiese werk wat sake wil sistematiseer en ophelder. Die Tseggiese skrywer Milan Kundera het telkemale herhaal “the novel must do what only the novel can do.” En daarmee het hy bedoel dat fiksie die menslike kondisie daarstel en daarmee omgaan. Ons is nie altyd so mooi redelik soos Descartes nie, meer dikwels is ons soos Don Quixote wat windmeulens stormloop. Outentieke menslike interaksie, ook in die kerk, behels vir my in die woorde van Van Wyk Louw om te leer om “ironies te lewe en die liefde te behou.”

KB: ’n Vraag wat baie gevra word is of leraars KI behoort te gebruik om hulle te help om preke voor te berei en te skryf. Hoekom dink jy is mense so bekommerd hieroor?

CW: Ek dink mense se bekommernis vloei voort uit wat hulle dink ’n preek is. Indien ’n preek sommer net ’n toespraak was waarin ek inligting deel, sou die bekommernis nie daar gewees het nie. Mense weet egter dat ’n preek ’n praatjie van ’n ander orde is en dat daar verskeie veranderlikes gelyktydig in ag geneem moet word wanneer ’n preek ontwikkel word. ’n Preek is vir ’n baie spesifieke gemeente op ’n spesifieke Sondag. En die persoon wat die preek lewer moet verkieslik pens en pootjies lewe en bedien binne die realiteit van daardie spesifieke gemeente. Jy moet soos ’n spons wees wat wil drup van die lief en leed van gemeente X. Dit is ook hoe jy as prediker na die teks gaan waaroor jy gaan preek, met die gemeente in jou kop en lyf, en dit maak jou eksegese iets baie besonders. Dit is nie kliniese eksegese om sommer net inligting oor interessante Griekse woorde of historiese kontekste te bekom nie. Ek wil beklemtoon, dit neem niks weg van die waarde wat KI kan toevoeg nie, maar prediking bly egter iets uniek. Verder is prediking ook ’n soort toespraak waarin en -deur God ook aan die woord kom.

So wat van die rol van die Heilige Gees in die preekvoorbereiding? Natuurlik kan ek bid voordat ek ChatGPT prompt om vir my ’n begrafnispreek te genereer wat geen wang droog sal laat nie … en tog. Vir my is die kern van die saak doodgewoon die prediker self wat veel meer is as ’n frontale lob, maar ’n mens van vlees en bloed, met sintuie en emosies, en deur wie se lyf daardie preekboodskap in die verloop van die voorafgaande week binne die gemeenskap van gelowiges moet filter.

Mense het ’n aanvoeling vir die kritiese belang hiervan, naamlik dat teks en konteks op soek na God se stem in die lewe en lyf van ’n prediker van vlees en bloed ontmoet, en is daarom bekommerd. In die klas vra ek daarom vir studente om ’n preek te genereer met KI en daarna self ook die preek te beoordeel en ’n balansstaat op te trek oor wat hulle dink ’n aanwins is en wat miskien kort.

LM: As ’n lidmaat sou ek hieroor bekommerd wees omdat ek sal wil hê dat ’n leraar vir my ’n evangelie moet kom verkondig wat hulle persoonlik aangeraak het. Ek sal nie ’n mooi preek deur ’n KI Jesus wil hoor nie, maar eerder ’n ware, eerlike en opregte getuienis van hoe Jesus ons werklik aanraak.

As leraar sal ek daaroor bekommerd wees as predikante se eerste plek van voorbereiding, KI is. Ek dink steeds dat ons eerste plek van voorbereiding ’n persoonlike ontmoeting met God moet wees. Preke moet vloei vanuit ’n hart wat gevul is met die Gees.

Tog is ek nie gekant teen die gebruik van KI vir preekvoorbereiding nie. Wanneer ek tyd met die Here spandeer het in persoonlike toewyding en stilte, is daar vir my geen bekommernis om KI dan te gebruik as ’n hulpmiddel nie.

PV: Vir my is vrae dikwels belangriker as antwoorde. Dit is deel van my agtergrond in die narratiewe benadering en pastorale werk. Die onderliggende vraag hier gaan nie net oor tegnologie nie, maar oor integriteit, roeping en Skrifgesag.

As ’n mens so lui met KI wil omgaan kan jy netsowel ’n preek “Google”. Ek gebruik dit as hulpmiddel om moeilike teologiese konsepte beter en meer verstaanbaar te verwoord. Vir my is daar ’n groot verskil tussen om net ’n preek te maak om ’n boksie te tik, en om elke moontlike hulpmiddel te gebruik om die evangelie helder en verantwoordelik oor te dra. Omdat ek die Boodskap so ernstig opneem wil ek dit so verteerbaar moontlik maak vir die hoorder.

’n Preek moet by die Bybelteks begin, deur egte eksegese gaan, en die predikant moet self deur die teks oortuig wees voordat hy iets kan oordra. KI kan jou help met taal, struktuur en konteks, dit kan selfs jou kreatiwiteit verbeter en jou help om die teks deur ’n nuwe lens te sien, maar dit kan nooit die onderskeidingswerk en geestelike worsteling vervang nie.

My proses begin by boeke en akademiese bronne. Daarna gebruik ek hulpmiddels soos ChatGPT en NotebookLM om materiaal te orden, op te som en soms selfs as ’n ouditiewe hulpmiddel te verwerk. Ek het selfs hierdie week ’n opsommende video oor die eksegetiese materiaal vir ons Bybelstudiegroep gemaak met NotebookLM. Ek gebruik dit ook om my te help dink oor plaaslike en internasionale nuus, sodat my prediking kontekstueel en hermeneuties verantwoordelik bly.

Ek dink oor ChatGPT soos Paulus wat ’n skriba gehad het om sy gedagtes neer te pen. Aan die einde van my skryf- (programmeer-/prompt-) proses gaan ek alles weer reël vir reël deur en vra ek: Is hierdie my stem? Is dit my taal? Sal ek dit so sê? Wat moet in en wat moet uit? Die eindproduk, verantwoordelikheid, roeping en profetiese stem lê egter by my.

LEES OOK: Kan en móét kunsmatige intelligensie (KI) ons preke maak?

KB: As jy vooruit kyk, wat is vir jou belangrik dat die kerk dit nie verloor in ’n wêreld vol onsekerhede waar niks lank bly soos dit is of was nie?

PV: Die kerk in ’n wêreld vol onsekerheid mag nie sy kern van beliggaming en konneksie verloor nie. Digitale en KI-hulpmiddels kan die bediening verdiep deur tyd vry te maak vir nadenke, luister na stories en interpersoonlike kontak, maar mag nooit die liggaamlike, feilbare, menslike teenwoordigheid van die kerk as Christus se liggaam vervang nie.

LM: Ek hou baie van verandering en vernuwing in die kerk, maar ek dink dat geloofsgewoontes baie goed is. Gewoontes hoef nie rigied te wees nie, maar gewoontes vloei vanuit ’n identiteit en versterk ook daardie selfde identiteit. Ek wil nie hê dat die kerk só die heeltyd verander dat ons nie kans kry om standvastige geloofsgewoontes te ontwikkel nie.

CW: Die kerk moenie vir Don Quixote verloor nie, hy moet aanhou kan dool in ons midde, groot drome droom en ten spyte van die onsekerheid en vlietendheid van die lewe, bly glo in die liefde.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top