Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

'Ons is in harte nog ’n volkskerk wat instinktief die vraag van “wie is my naaste?” beantwoord met wit Afrikaanssprekende," sê Schalk van Heerden in hierdie vraag-en-antwoord-onderhoud. Foto: Adriaan Labuschagne / Kerkbode

Nagedink oor SAAMkoms 2026: Wat staan in transformasie se pad?

“In elke lag ’n sug van pyn,” het Eugène Marais in die gedig Skoppensboer taal gegee aan die feit dat teenstrydighede tegelyk waar kan wees.

Só was die PredikanteSAAMkoms in Augustus vanjaar. Enersyds was dit ’n kreatiewe en geestelik voedende viering waartydens ook Kerkbode waarneemwerk kon verrig en daaroor kon berig. Andersyds was dit ’n geleentheid waar die NG Kerk se armoede aan ander ras- en taalgroepe op volle vertoon was.

LEES OOK: ‘Goedkoop versoening rem eenheidsgesprek tussen VGK en NGK’

 

In die weke voor die saamkoms het ’n briefskrywer dit so gestel: “Wat kommunikeer ons wanneer ’n groot kerkgeleentheid van buite af lyk soos ’n byeenkoms van wit bevoorregte mense vir wie groot bedrae geld beskikbaar is? Wat sê dit vir mense wat van buite af na ons kyk?”

LEES OOK: Is NG Kerk ondanks die insigte van missionale teologie steeds besig om wit belange te beskerm?

 

Tesame met ’n breër nadenke elders in Kerkbode oor wat SAAMtrek 2026 herstel het, onthul het en ontgin het, fokus ons in hierdie artikel op die kwessie wat die briefskrywer hierbo opper. En ons rig die vrae aan twee lede van een van die NG Kerk se taakspanne wat juis help met denkleierskap oor versoening en geregtigheid. Ons het vir ds Schalk van Heerden (SvH) van NG Gemeente Fontainebleau en ds Nadine Stoffels (NS) van NG Kerk Somerset-Oos, albei verbonde aan die Miga 6:8 Taakspan vir Versoening en Geregtigheid, elk dieselfde vier vrae gevra:

 

Kerkbode (KB): Waar lê die gaping tussen die ideaal van ’n kerk wat die veelrassigheid van ons land weerspieël en die werklikheid wat ’n mens by die afgelope byeenkoms beleef het?

 

SvH: Teologie: ons is in harte nog ’n volkskerk wat instinktief die vraag van “wie is my naaste?” beantwoord met wit Afrikaanssprekende. Ons is te skaam om dit te sê en die leiers wat nie glo dit is wie ons is nie vrees die wegloop van verdere lidmate.

NS: Ek dink dit het presies gelyk soos ons kerke lyk as ons deur die venster sou loer.

 

(KB): As jy reflekteer oor jou eie belewenis binne die NG Kerk, waar voel jy is die areas waar ons gemaksones transformasie in die pad staan?

 

SvH: Taal. Beheer. Kultuur. Ons het nooit geleer hoe om ‘liefde’ om te skakel in respek nie. Dominees weet net nie.

NS: Finansies, ons gemaklikheid binne ons eie kultuur en taal.

 

(KB): Watter veranderinge het jy in jou eie omgewing of gemeentes gemaak om die status quo te verander? Het jy voorbeelde hiervan?

 

SvH: Elke jaar is so ’n kwart van ons gemeentekamp swart mense, meestal van armer areas. Dit is belangrik want anders as ‘uitreik’ praat gemeentekamp oor wie ‘ons’ is. Dan help swart besoekers nagmaal uitdeel en kollekte opneem. Swart Nico van die parkie het sy eie rap worship liedjie in die erediens gesing. UJ Koor is 90% swart en kom een keer per jaar in ons erediens sing. Na die tyd braai ons en eet ons saam. Die Reformed Church of Zimbabwe het altyd ’n saal gehuur, nou gebruik hulle ons selfde erediensruimte. Ons trek laer op 16 Desember elke jaar. Ons eet saam met 100 haweloses elke tweede Maandag, en so kan ek aanhou. Waar ons nie goed doen nie is kerkraad en personeel. Afrikaans maak dat Joburg-swartmense nie eintlik kan welkom of gelyk wees in die hart van ons gemeente nie.

NS: Ons werk saam met die VGK waar ons belange ooreenstem veral in armoedeverligting. Geen samewerking by eredienste nie.

 

KB: Wat sien jy as ’n voorbeeld van iemand wat leiding neem in gesprekke oor groter inklusiwiteit?

SvH: Betereinders.

NS: Betereinders.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top