Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Volgelingskap is om saam te reis

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Pierre Engelbrecht gesels met Marileen Steyn oor hoe kontemporêre dissipelskap kan lyk aan die hand van die eeue oue verhaal van die Emmausgangers.

“Volg My!” Dié bekende opdrag van Jesus nooi mense oor die eeue heen om sy dissipels te word. Dit is die woorde waarmee Petrus, Johannes, Jakobus en vele ander se geloofsreise begin het. Wanneer dr Pierre Engelbrecht egter oor Jesus se oproep tot dissipelskap nadink, kyk hy nie na wat Jesus soseer aan die begin van sy bediening op aarde gesê het nie, maar eerder na dit wat Jesus aan die einde van sy bedie­ning gemoduleer het.

In sy doktorstesis getitel “’n Kontemporêre Christelike volgelingskap: Die Emmaus-narratief as interpretatiewe raamwerk”, kyk Engelbrecht na Lukas 24 se bekende vertelling van Jesus se verskyning aan Kleopas en sy vrou op die weg na Emmaus. In die narratief reis Jesus saam met die twee sonder dat hulle besef wie saam met hulle stap. Hulle is bedroef oor Jesus se kruisiging, maar Jesus gebruik die Skrif om vir hulle die gebeure uit te lê en te verklaar. Wanneer Jesus dan later saam met hulle eet en vir hulle die brood breek, val die skille van hulle oë af en besef hulle dat dit Jesus, die opgestane Here is, wat saam met hulle was.

Dr Pierre Engelbrecht is operasionele hoof van ekerk, ’n aanlyn geloofsgemeenskap.

Deur te kyk na die merkers in die vroeë dissipelskap­verhale in Lukas en dit te vergelyk met Lukas 24, het Engelbrecht gevind dat daar eintlik ook hier, aan die “einde” van die boek, ’n dissipelskapverhaal is. Die groot verskil is dat Jesus nie die woorde “Volg My!” sê nie, maar wel moduleer wat dissipelskap (Engelbrecht ver­kies die term volgelingskap) is deur vyf merkers in die teks: saam loop, Skrifuitleg, gasvryheid, ’n nuwe verstaan van Jesus en die brandende harte van Kleopas en sy vrou.

Die afwesigheid van die “Volg My!” is vir Engelbrecht baie betekenisvol. Hy sien dit as ’n merker van post-opstanding-dissipelskap. Na die opstanding van Jesus, verduidelik hy, begin volgelingskap nie soseer met die direkte woorde van Jesus nie, maar deur die werking van die Gees “wat jou daardie nudge gee en jou hart aan die roer kry”. Hy meen dat dit die uitnodiging tot volgelingskap is en dat ons, wat in ’n post-opstanding-konteks leef, dalk nie altyd die opdrag tot volgelingskap so “in your face” gaan kry nie. Tog bly die Gees aan die werk en is dit deur ’n sensitiwiteit vir die roering van die Gees wat ons tot beweging kan en moet kom.

LEES OOK: Anandie Greyling gesels met Stephan Joubert

Die Gees, beklemtoon Engelbrecht, werk deur die Skrif. In Lukas 24 is dit immers Skrifuitleg wat die mense tot dieper insig oor Christus bring. “God praat deur sy Woord,” bely Engelbrecht. “En die Outeur is saam teenwoordig.” Dit is juis omdat hy in die lewendige Woord en lewendige God glo dat Engelbrecht wil weet hoe die Skrif (en tekste soos Lukas 24) ons beter gelowiges maak.

Dit is op hierdie punt wat Engelbrecht wil brûe bou tussen die Skrif en die alledaagse lewe van mense. Sy PhD-navorsing het daarom nie gestop by ’n Nuwe-Testamentiese ondersoek van volgelingskap nie, maar het ook verder gegaan om ’n prakties-teologiese ondersoek in te stel na hoe hierdie volgelingsteks die geleefde teologie van Christene kan beïnvloed.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2021/05/marileen.jpg” caption=”Ds Marileen Steyn is verbonde aan die NG gemeente Saldanha.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]

Gevolglik het Engelbrecht met twee fokusgroepe gewerk om vas te stel hoe die teks mense se denke rond­om dissipelskap kan skuif. In sy aanvanklike onderhoude in die fokusgroepe het hy eers vasgestel wat die respon­dente se verstaan van dissipelskap is. Daana het hy hulle genooi om vir ’n maand lank die teks te lees, te leef en te beliggaam en dan weer oor dissipelskap te kom gesels. Engelbrecht het gevind dat die voortdurende lees van die Lukas 24-verhaal veroorsaak het dat mense die teks in hulle eie lewe begin inkorporeer het en dat hulle ook self saam met mense begin loop het, met die Skrif omgegaan het, meer gasvry begin leef het, anders begin dink het oor Jesus en eindelik weer deur die teks aangeroer is.

LEES OOK: Liezel de Jager: Landwyd word saam gehuil oor jong leraar met groot hart

Vir Engelbrecht was die skuif wat onder die Afrikaanssprekende groep plaasgevind het merkwaardig. In die aanvanklike onderhoude het hy gevind dat die Afrikaanssprekende groep telkens presies kon sê wat dissipelskap is, maar dat hulle gesukkel het om te sê hoe hulle hierdie dissipelskap waarvan hulle praat, self uitleef. Verder, het hy gevind dat die Afrikaanssprekende groep meer geneig was tot “self-dissipelskap”. Self-dissipelskap, verduidelik Engelbrecht is dissipelskap wat stop by die persoon se eie verhouding met God. Sy navorsing het egter gevind dat Lukas 24 hierdie groep gehelp het om uit hulleself te beweeg na ’n meer gemeenskaplike verstaan van dissipelskap wat saam loop, saam praat, saam eet, saam glo en saam aanbid insluit.

Wanneer ek vir Engelbrecht oor die “so what” van sy navorsing uitvra, is dit juis dit: dat ons genooi word om konstant, in sensitiwiteit vir die Gees, onsself oop sal stel om aan te hou volg – nie net op ons eie en vir onsself nie, maar saam met en vir ander.

  • Dr Pierre Engelbrecht is operasionele hoof van ekerk, ’n aanlyn geloofsgemeenskap.

▶ Ds Marileen Steyn is verbonde aan die NG gemeente Saldanha.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top