Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Profiele van pryswenners 2025: Cas Vos | ‘Dis my geskenk aan die kerk en gelowiges om die pad van die Psalms te bewandel’

Rethie van Niekerk gesels met Cas Vos, vanjaar se wenner van die Andrew Murrayprys, vir sy boek Geloofsgedigte. Uitgewer: Naledi, 2024

 

Prof Cas Vos het al verskeie titels gedra: predikant, dosent, dekaan, twee maal wenner van die Andrew Murrayprys. Hy bly egter deurlopend “’n pen wat aanhou skryf”, met oor die 50 boeke. Sy dertiende digbundel is pas klaar en ons kan vanjaar nog uitsien na ’n roman.

LEES OOK: Podsending | Boeke, geloof en ’n prysfonds wat hulle ‘net wyer wil span’ – Bettina Wyngaard

Geloofsgedigte is Vos se derde boek oor die Psalms, met ’n “totaal ander omvang en diepgang. Dit is ook toeganklik. Dit is my geskenk aan die kerk en gelowiges om die pad van die Psalms te bewandel.”

Ek wonder waar ek Geloofsgedigte op my boekrak moet bêre. Vos reageer dat sy boek nie soos die kommentare van ander gerekende akademici is nie. “Myne is op ’n ander vlak. Dit is geskryf met die oog op die leser, om die Psalms oop te maak. Dit is nie preke nie. Die boek wil ’n brug wees na die Here toe. Om mense daarheen te lei. Om mense te troos en te bemoedig in donker, donker tye, om te luister na die stem van die Here. En die wonderlike natuurlik, dis gedigte. Dis wonderlike poësie.”

LEES OOK | Resensie: ’n Goeie teologie oor die Psalms, verweef met nadenke

Dan trek hy weg en brei uit oor tegniek, samestelling, ontwikkeling, gee sommer ’n oorsig oor die hele Psalmboek. Vos praat poëties, soos die predikers van ouds, met die kennis van ’n professor wat homself sy lewe lank in die teks verdiep het, deurweef met ’n geloof wat tekste nie net bestudeer nie, maar ook bid en leef. “Die Here gebruik mense om sy boodskap oor te dra. Tog is dit in ’n vorm gegiet wat aangrypend is. Hy praat met ons deur die Psalms.”

 

Dit is spesifiek digterlike taal, dink ek, wat ’n mens in staat stel om intiem-persoonlike geloofservarings te deel. “Akademise taal versluier, maak toe, bedek,” reageer Vos. “’n Digter skryf op ’n ander manier. ’n Gedig raak jou aan die hart, gryp jou aan.”

Vos vertel hoe Geloofsgedigte anders is as sy vorige skrywes oor die Psalms, met ’n “eie diepgang, maar nie so dat jy dit nie kan verstaan nie. Dit ontroer jou. Die mens, sê Psalm 139, is God se wonderwerkies. Ek het iets van hierdie wonderwerkies aan die lig gebring deur die boek.”

Hier neem die digter-prediker weer oor en begin Vos uitbrei oor die wonder van Psalm 139. Hy is nog in die middel van ’n sin, toe Zoom besluit die gesprek is nou klaar. Maar een ding is duidelik: Cas Vos is nog lank nie klaar met die Psalms nie. Die Psalms is ook nog lank nie klaar met hom nie.

 

Beskikbaar by Naledi.

Ds Rethie van Niekerk is predikant by die NG Kerk Driehoek in Vanderbijlpark.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top