Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Tussenin | Zander van der Westhuizen: Ons vier te min die lewe. Ons stop te min om dankie te sê

Dit is ’n koue aand. Almal se kinders is by sport, en uiteindelik beland ons in die Spur langs die sportvelde. Dit is my vriend se 54ste verjaarsdag. Teen die tyd dat al die tieners uiteindelik opdaag, het die kelner reeds gehoor daar is iemand wat gevier moet word. Tot die jongmense om die tafel se groot vermaak daag die hele personeel met ’n fonkelkers-brandende-roomysnar op. Met oorgawe word daar gesing en hande geklap – asof my vriend eerder ses jaar oud geword het.

LEES OOK: Tussenin | Zander van der Westhuizen: Tegnologie moet die mens help, nie anders om nie

Na die heerlike oomblik van kinderlike pret vang my oog ’n lang tafel aan die oorkant van die restaurant. Tussenin die klomp mense sit ’n jong vrou steeds met haar toga en hoed aan. Dit was vandag die universiteit se gradeplegtigheid. Die tafel bruis van vreugde – familie van heinde en verre wat saamgekom het om fees te vier.

Dit is waarskynlik een van die grootste oomblikke van haar lewe tot dusver. En dalk nie net háár prestasie nie, maar ook dié van almal om die tafel. Mense wat saam betaal, saam opgeoffer, saam gehoop en saam deur moeilike jare gedra het. Om uiteindelik daardie graad te ontvang ná soveel werk, spanning en opoffering, is meer as net ’n sertifikaat. Dit is ’n mylpaal waarvoor ’n hele tafel mense vandag dankbaar is.

LEES OOK: Tussenin | Zander van der Westhuizen: Toe begin die Camino my vang

Die span kelners besef dit onmiddellik. Hierdie keer kies hulle ’n ander lied, en ’n ander fonkelkers-brandende-roomysnar word nader gedra. Die vreugde in die afgestudeerde student se oë is só groot dat sy spontaan begin dans. Skielik vorm daar, saam met die kelners, die bestuurder, kombuispersoneel en selfs ’n paar gaste, ’n vrolike trein deur die restaurant.

Of jy nou saam gedans het of net glimlaggend gekyk het – vir ’n paar minute was almal deel van dieselfde oomblik. Almal was vandag bly. Almal was trots. Sy het graad gevang.

’n Paar dae later stuur ’n vriendin vir my ’n boodskap en vra hoe ek hierdie jaar my verjaarsdag gaan vier. “Ek wonder of ek daarby gaan uitkom,” antwoord ek. Dadelik stuur sy terug: “Ten minste een keer per jaar moet jy met dankbaarheid jou lewe, die genade en jou pad tot hier vier.”

LEES OOK: Tussenin | Zander van der Westhuizen: Gelykenis van die prater en die grassnyer

Die gebeurtenis in die Spur en my vriendin se boodskap leef in my gedagtes terwyl ek vir Pinkster voorberei. Die Shavuot-fees is die konteks vir dié gebeure in Handelinge 2. Dankbaar aan die Here is die eerste oes gevier. Daar is ook ’n verbintenis met Sinai en die wet. Vandag vier ons Pinkster – 50 dae na die Opstanding – uit dankbaarheid vir die geskenk van God se Gees.

In die Bybel was daar baie feeste. Gereeld is daar gestop om raak te sien wat goed is, wat bereik is, en om te reflekteer oor hoe mense tot hier gekom het. Daar was ’n diep besef dat dinge nie vanselfsprekend gebeur nie. Dit kom uit die Here se hand – sy geskenk en sy genade. Daarom het hulle gestop en gedans, kerse aangesteek, soms bakke met water gevul en saam geëet. Van die oes is aan Hom gewy – ’n teken van die besef dat God dit gee.

En die spreekwoordelike “roomysnar” is om die tafel gestuur sodat almal in die vreugde kon deel. Want genade, lewe en liefde is dinge wat saam gevier moet word – soos die ontvangs van ’n graad, ’n verjaarsdag of die voltooiing van iets groot.

Ons vier te min die lewe. Ons stop te min om dankie te sê. Ons besef te min dat alles wat ons het, alles wat oor ons pad kom, en alles wat ons bereik, gevier mag word. Want die Here is goed vir ons.

Haal die “roomysnarre” uit. Gooi die ekstra Smarties op die poeding. Steek die kersies aan. Dans en sing dankliedere. Blaas op die ballonne. Bid en erken die genade. Hou hande vas en vier die liefde.

Tussenin is ’n rubriek oor die lewe in die middel van dinge – waar stories, mense, klanke en stilte mekaar ontmoet. Zander van der Westhuizen skryf as pa, getroude, skrywer, musikant, radio-omroeper en predikant oor die oomblikke waar sin en seën onverwags opduik tussenin alles wat ons doen en probeer wees.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Scroll to Top