Die Algemene Sinode van die NG Kerk het Sondagaand vir ds Nelis Janse van Rensburg as moderator herkies.
Hy is in ’n finale stemming deur die sinode bo ds Dirkie van der Spuy verkies. In die voorlaaste stemming was dr André Bartlett die derde kandidaat.

Janse van Rensburg is predikant van die gemeente Welgemoed in Kaapstad. Hy is in 2015 verkies tot moderator van die Wes-Kaapse Sinode en later die jaar ook as moderator van die Algemene Sinode.
Hy het die afgelope termyn die kerk deur een van sy moeilikste tye in jare gelei. Dit het gekom nadat die Algemene Sinode van 2015 die groen lig vir gay predikante en gay verhoudings gegee het.
’n Storm van protes het in die kerk losgebars wat daarna gelei het tot ’n buitengewone Algemene Sinode waarvan Janse van Rensburg ook die voorsitter was. Dié het die besluite van 2015 omgekeer, maar dit is later nietig verklaar nadat die kerkleiding ’n saak in die Hooggeregshof verloor het.

Janse van Rensburg het in sy termyn ook baie gedoen om kerkeenheid in die NG Kerkfamilie te bevorder. Dit het onder meer gelei tot die aanvaarding van ’n tussenorde wat dit moontlik maak vir gemeentes, ringe of sinodes van verskillende kerke van die NG Kerkfamilie, om eenheidstrukture te vorm.
Daarby het Janse van Rensburg hom ook sterk beywer vir versoening, onder meer deur verskeie gesprekke te inisieer. Dit het byvoorbeeld gesprekke ingesluit met die familie van die Cradock 4 wat in die vorige bedeling doodgemaak is.
Janse van Rensburg het na sy verkiesing gesê dis ’n reusevoorreg om voorsitter van die vergadering te wees. “Dit daag jou uit om elke woord te weeg sodat jy nie jou kerk in die steek laat nie,” het hy gesê.
Hy het gesê die afgelope vier jaar was nie maklik nie. Die kerk se leierskap is tot die uiterste uitgedaag. Daar was egter elke dag mense wat vir hom gesê het hulle bid vir hom.
Die NG Kerk is volgens Janse van Rensburg “oneindig welwillend” teenoor sy leiers. Soms is daar mense wat op sosiale media disrespekvol oor leiers praat, “maar ons wat glo in die Gees praat gelukkig nie so nie”.
Hy het gesê die NG Kerk moet soos in sy geskiedenis ’n lewegewende verskil maak. Hierdie sinode moet besluite neem wat dit moontlik maak.
Die res van die moderatuur word Maandag verkies.

LEES OOK: KYK: NG Kerk wil ’n ‘lewegewende verskil’ maak
Jesus het gese: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
Die Algemene Sinode het R28m vanaf 2013 tot 2018 “geneem” vanaf die gemeentes om die lidmaattal onder hulle leiding te krimp met 127,641!
Die total begroting vir die Algemene Sinode is circa R8m per jaar. So vir die 6 jare (2013 tot 2018) is daar meer as R40m aangewend om die kerk kleiner te maak!
En moenie dink dit gaan stop nie. Die jaarlikse begroting word geprojekteer om te groei teen 5% per jaar.
Dit is skokkend! Dit lyk of hierdie leiers se aksies die teenoorgestelde uitwerking het as wat Jesus hierbo beveel het. As ons kyk na die gemeente in Handelinge dan se die Skrif die Here het daagliks mense wat gered word by die gemeente gevoeg.
Die teenoorgestelde blyk hier die geval te wees.
Hier hang ‘n doodsreuk oor die NG Kerk en die aasvoels sirkel reeds
Hartlik geluk Nelis! Aan Hom al die eer. Dankie vir jou leierskap wat gekenmerk word deur onderskeiding, gehoorsaamheid aan jou roeping en om op Hom gefokus te bly. Dis my gebed dat God deur Sy Gees elke gedagte van elkeen wat by die Sinodesitting betrokke is, gevangene sal neem en dit aan Sy wil ondergeskik sal maak. Vrede vir jou.
Ek lees die “waardes” van die sinode. Dit lees nie Bybels nie, maar duidelik is dit wêrelds georiënteerd. Hoe meer gays, hoe meer feministies, hoe meer huidige “aanvaarbare” waardes, klaarblyklik hoe beter. Good luck with that. G’n wonder die kerk krimp kwadraties nie. En daar word sommer onkrities aanvaar dat die hele aardverwarmingsteorie, wat HOOGS kontroversieel is, ‘n feit is. As lg nie ‘n aanduiding is van apriori’s nie, en dit duidelik wêreldse apriori’s, dan weet ek nie wat is nie. Ek was nog nooit konserwatief nie, veral wat teologie betref, maar hierdie stel waardes, en die “safe space” wat deur die sg “aanmeldingsgroep” (snowflake groep?) geskep is, maak my skaam om ‘n ampsdraer van hierdie sosiale (in teenstelling met kerk) groep te wees. Sela.
Geagte leser,
Hier moedig ons oop, respekvolle en opbouende gesprek aan.
Ons blok kommentaar volgens die volgende riglyne:
* Kru taal of bloot onsmaaklike opmerkings.
* Lasterlike opmerkings, insluitende kommentaar wat daarop gemik is om individue of kerkgemeenskappe skade te berokken.
* Enige vorm van haatspraak, insluitende rassisme, seksisme en homofobie.
*Kommentaar wat na die oordeel van die gespreksmoderator nie bydra tot respekvolle dialoog nie.
Die uitnodiging is om meer lig as hitte na die gesprek te bring. – Red.
Vir solank as wat die NG Kerk weier om LGBTQIA gedrag, soos die Bybel dit in verskeie skrifgedeeltes doen, as sonde te verklaar, sal die kerk hom van ‘n massa getroue lidmate bly vervreem. Hierdie sonde word in dieselfde asem as verskeie ander sondes genoem, waarvoor daar slegs by Jesus Christus vergifnis bestaan. Hoe kan die kerk besluit dat dit geen sonde is nie en gevolglik geen vergifnis benodig nie? Is dit nie juis haatspraak nie of lei die kerk gays in ware liefde op ‘n dwaalspoor omdat hulle daarop aandring en omdat dit ‘n internasionale beskouing is? Die kerk swig dus voor menslike druk presies soos dit ook met die politieke beleid van Apartheid gedoen is.
Eers was die NGK onder politieke druk oor apartheid. Toe swig hulle onder die druk van die ANC om apartheid af te skaf. Daarna volg die Belharbelydenis. En nou kom die derde oogverblindery rondom selfdegeslag verhoudings. Op grond van watter skrif in die onveilbare Woord van God, gaan daar n formulier vir selfdegeslag verbintenisse opgestel word waar gelykke geslagte aan mekaar kan trou beloof. En dan gaan daardie dieselfde leraar n ander formulier vir n man en vrou huwelik voorhou. Dit is Godslastering om die Woord van God te verdraai om menseregte te verwelkom.