ONTLEDING: Hoe raak die uitdagings van die ‘gig economy’ ’n instelling soos die NG Kerk?

Terwyl die NG Kerk al vir jare dink oor hoe om sinvol te reageer op die afname in lidmaattal, is daar nuwe data wat die kers aan die ander kant brand: ’n vermindering van byna 50 predikante per jaar, of ongeveer een per week, volgens ’n inligtingstuk wat vir die vergadering van die Algemene Sinode wat tans in Benoni plaasvind, voorberei is.

’n Tendens wat blyk uit die verslag (“Veranderende predikanteprofiel en aftree-ouderdom”) is dat dit nie ’n eenvoudige geval van te min dominees vir “die arbeidsmark” is nie, maar dat die arbeidsmark self ingrypend aan ’t verander is.

Die dokument gaan nie so ver om dit op juis dié naam te noem of daaraan toe te skryf nie, maar die scenario herinner aan ’n organisasie wat probeer sin maak van sy plek te midde van die ontwrigting van die sogenaamde “gig economy”.

Laasgenoemde term beskryf die skuif weg van langtermyn, kantoorspesifieke gebondenheid om brood op die tafel te kry na korter termyn werkverhoudings wat dikwels deur middel van digitale hulpmiddels (apps, intydse gebruiksdata) meer buigbaar is. En hoewel elke leser nie juis aan hom/haarself dink as pens-en-pootjies binne die “gig economy” nie, is die gewildheid van toepassings gebore daaruit – van Uber tot AirBnB – al alledaags in Suid-Afrika.

“Full-time employees have become the workers of last choice for many companies and this is even more pronounced in economies with strong labour laws,” skryf Ian Mann in ’n resensie van die boek The Gig Economy: The complete guide to getting better work, taking more time off, and financing the life you want deur Diane Mulcahy.

Lees ook: Kerk krap kop oor leraars wat nie wil aftree

Hy verduidelik die skuif goed deur te onderskei tussen “geleentheidsoekers” en “werksoekers” in ’n skrywe op Fin24.

So hoe lyk die impak wat daardie tendens op die tradisionele bediening en werk van leraars het? Is daar ’n kerklike ekwivalent van die “gig economy”? Is die ou-ou konsep van tentmakers asook termynposte juis dit en is dit dus waar leidrade vir die toekoms lê?

Waaroor die studiestuk wel duidelik praat is “narratiewe rondom jonger predikante en proponente”. Dit is nou dié onder 40 jaar. ’n Peiling onder 117 diesulkes toon dat jong gelegitimeerdes en predikante, beide mans en vroue, aktief besig is om aansoek te doen vir poste (Ook by Kerkbode is Vakatures die mees gewilde afdeling naas die tuisblad – Red). In reaksie op ’n vraag oor hoeveel keer hulle in die afgelope drie jaar aansoek gedoen het, dui ’n groot aantal vyf of meer keer aan. En nie net vir stedelike of voorstedelike poste nie. Sowat 63% van respondente dui aan dat hulle 400 km of verder weg van waar hulle tans gevestig is, aansoek gedoen het in die afgelope drie jaar.

Lees ook: Gemeentes van die toekoms: Waar gaan ons leraars vandaan kom?

Dié jongeres meen – met uitsondering van 3% – dat die NG Kerk nog oor twee dekades met ons gaan wees. Maar hulle het ’n groot “maar” om daarby te voeg. Die NG Kerk sal in ’n “ander vorm” voortbestaan, meen hulle. Én hulle wil daar wees vir dié vooruitsig. “76% van jong predikante dui aan dat hulle die intensie het om vir nog 20 jaar of langer in die bediening te wees.”