‘Hieroor is ek seker’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Johan Koen, Burgersfort Gemeente (Oostelike Sinode), skryf: Toe ek Woensdagoggend (9 Oktober) by die Algemene Sinode sitting aan die tafel my gevoel in een woord moes uitdruk, het dit my ’n paar oomblikke geneem voordat ek by die woord VERWARD uitgekom het. Miskien was juis die gestoei na die regte woord ’n bewys van my verwardheid. Binne die bestek van vier jaar het die kerk al drie keer van besluit verander, en dan het die hof mos ook al ons besluit gewysig. 

Hoe het ons hier gekom? 

  • Hoe is dit moontlik dat ’n taakspan verslag sonder voorstelle in 2015 dien en die ingrypende voorstel verskyn wat goedgekeur word en soveel spanning, verdeeldheid en stryd veroorsaak? 
  • Hoe is dit moontlik dat die Sinode ’n jaar later die besluit nietig maak en op ’n sterk oortuigende wyse ’n radikaal teenoorgestelde besluit neem? 
  • Hoe is dit moontlik dat lidmate en teoloë nie hul weg oopsien om soos dit ’n familie betaam die saak met mekaar uit te praat en aan te hou praat nie, maar die kerk voor die hof daag? 
  • Hoe is dit moontlik dat die kerk sewe maande nadat die hof die besluit weens prosedurele foute nietig verklaar, weer ’n teenoorgestelde besluit neem? 

Skynbaar lees ons die Woord met verskillende brille op – ons is familie, maar ons gebruik verskillende lense en daarom is ons vertrekpunte verskillend – of so dink ek ten minste… 

Lees ook: Persverklaring | Selfdegeslag-verhoudings

Is ons lidmate en gemeentes onmagtig om die Woord te lees? Nee, verseker nie in my gemeente nie. Die een keer tydens hierdie rondomtalie besluite – toe die Sinode dit gewaag het om ook na die gemeentes en lidmate te luister wat die kerk gedien het met al die grafamina / beswaarskrifte – was ’n besluit geneem wat ooreenstem met hoe ons kerk die Bybel oor jare heen verstaan het en soos die Belydenisskrifte en die oorgrote meerderheid kerke in Suid Afrika en oor die wêreld heen dit steeds vertolk? 

Ek is steeds verward want wat beteken die besluit vir leraars en gemeentes wat soos ek glo? Die ruimte om self te besluit is net ’n praktyk besluit, maar ons is ’n Belydeniskerk en die Algemene Sinode van die NG Kerk BELY dat dit nie waar is dat God se Woord seksuele dade buite die huwelik tussen een man en een vrou verbied nie… Ons gemeente kan dit anders gaan toepas, maar dít is wat my kerk bely. Ons is mos ook kerk van die Woord… Ek is steeds verward… 

Lees ook: Selfdegeslagbesluit: ‘Diversiteit is ’n gawe’

Hoe kan die afgevaardigdes so radikaal verskillend besluit oor so ’n kort periode? 

Hoekom het sommige JA en ander NEE gestem? 

  • Was sommige bang vir nog ’n hofsaak? (Per slot van sake het die Sinode nog niks gesê oor hierdie deel van die familie wat die kerk ’n duur prys gekos het nie – nie net in terme van Koninkryksgeld nie, maar veral in terme van ons almal se integriteit en ons getuienis as mense van die Weg.) 
  • Of was dit dalk dat mense vuisvoos is en net wou aangaan. Ons moet dit net klaar maak, al moet ek my kerk se Belydenis en verstaan van die Woord inboet? Het sommige lede net moed opgegee dat daar ’n ander oplossing is? 
  • Of het mense gemanipuleer gevoel om op ’n sekere wyse te stem? 
  • Of het ons dalk so gestem omdat iemand naby aan my in ’n selfdegeslagverhouding is en ek voel ek verraai hom of haar as ek anders stem? Dalk ’n emosionele besluit… 
  • Of het ek dalk my stem uitgebring omdat ek net die status quo wou handhaaf? 
  • Of was dit die oortuiging van ons harte wat ons hier gebring het? Kan ons elkeen eerlik sê dat dit is hoe ons deur die Gees gelei was met die Lig wat ons nou het? Het die Gees en ons besluit? Ek het gelei gevoel om ‘n baie groot NEE te skryf! 

Vanweë gesprekke wat ek gehoor het, vra ek hierdie vrae aan myself en elke afgevaardigde? 

Lees ook: Ná die sinode: Vir sommige, ’n lang pad huis toe met dié besluit

Ek is verward oor hoe ons hier gekom het, ek moet al die boodskappe en telefoonoproepe antwoord en al wat ek weet is dat as die Sinode eerlik is met die Diversiteit wat Woensdag so mooi voorgedra is, kon ons nie Dinsdag ’n besluit geneem het nie… Wanneer gaan die Sinodegangers leer dat dit beter is om nie te besluit as dit verdeel nie? Wanneer gaan ons net ’n slag stop en luister? Maar weer is ’n besluit geneem! ’n Besluit wat verdeel! Al die verslae sê, minder besluite, maar dis vir volgende keer… 

En die boodskappe kom in: ons kan nie meer deel van die NG Kerk wees nie. Wanneer gaan julle ophou om besluite te neem sonder om met ons te praat? Ek is klaar, ek bedank!… 

Sommige huil, en ander vier fees! Hoe was hierdie besluit anders? Was dit ’n konsensus? Verseker nie, want anders het die vreugdevure nie so hoog gebrand oor ander se verslaentheid, ontnugtering en trane nie… 

Is die twee standpunte versoenbaar? Sal ons mekaar ooit kan vind? Nie as dit van mense afhang nie… 

Maar aan God die dank, ek is nie verward nie – nie oor wie God is en oor wie ek is in Hom nie. Ek is nie verward oor God se roeping nie. Ek is nie verward oor die feit dat hierdie Groot Genadige God ook vir my gevind het nie! 

Miskien moes ek Woensdagoggend gesê het ek is ontnugter… 


In die lig van wye belangstelling in die vergadering van die Algmene Sinode (6-11 Oktober) het ons Kerkbode se gebruiklike woordperk op lesersbydraes tydelik aangepas om lesers selfs meer plek te gee om aan die gesprek deel te neem. – Red.

2 thoughts on “‘Hieroor is ek seker’

  1. Hanje Bekker says:

    Dank Vader vir ‘n Anglikaanse Biskop in Australie wat na dieselfde geslag verhoudings verwys het en hulle eerder gevra het om hul eie kerk te stig maar hulle gaan nie die kerk se doctrine verander om mense te pas nie. Waar is die leierskap van die NG Kerk.

  2. Rosa Viljoen says:

    Ek stem nie saam met NG Kerk se beleid nie want God is vir my belangriker en onttrek ek my van die 3 susters kerke.

Comments are closed.