Navrae van so ver as die Wes-Kaap en Namibië is reeds ontvang vir die “spesiale beraad” wat volgende maand by die Moreletapark Gemeente in Pretoria sal plaasvind.
Pieter Breytenbach, die gemeentebestuurder, het vandeesweek gesê hoewel daar nog net sowat 70 kaartjies vir die tweedagbyeenkoms via die iTickets-platform verkoop is, ontvang die makrogemeente “ongelooflik baie” navrae en belangstelling in die saamtrek wat deur hierdie “Evangelies behoudende gemeente” gereël word in reaksie op van die besluite wat by 2019 se Algemene Sinode van die NG Kerk geneem is.
By navraag oor wie na die beraad genooi word, het Breytenbach gesê hulle het nie wyer as die Oostelike Sinode persoonlike uitnodigings uitgestuur nie, en vertrou hulle verder dat mense wat belangstel die beraad sal probeer bywoon.
Moreletapark Gemeente het laat verlede jaar aangekondig dat hulle ’n spesiale beraad gaan hou en volgens Breytenbach is hulle groot bekommernis Skrifgesag ten opsigte van die die NG Kerk se standpunt oor selfdgeslagverhoudings.
Hoewel ’n finale program nog nie beskikbaar is nie het die beraad ’n tweeledige doel, aldus Breytenbach:
- Om ’n gespreksforum te skep vir kleiner gemeentes, wat voel hulle het nie ’n stem nie.
- Om saam met ander wat soos hulle voel die pad vorentoe te bepaal.
Hy verduidelik: “Ons wil saam met ander dink … moet ons doleer (afkomstig van die Latynse dolere= treur; doleer = jou beklaag, beswaar inbring) of die NG Kerk verlaat? Ek voorsien dat ons tydens die beraad sal stem oor die beste alternatiewe wat dan verder ondersoek sal word.”
Breytenbach het gesê die gemeenteleiers is “sensitief vir kerkskeuring” en wil kyk na die “kerklike pad” om vorentoe te stap.
Die inisiatief kom nadat Kerkbode in Mei verlede jaar berig het dat die makrogemeente beplan om die kerkverband te verlaat. Die besluit is glo na ’n “tydperk van afsondering en verootmoediging” geneem en sou geld vir leraars sowel as die kerk se meer as 14 000 belydende lidmate. Die storie het groot opslae gemaak en is “Morelexit” gedoop in die hoofstroompers, weens die hoë profiel van die gemeente binne die NGK. Intussen het beskikbare besonderhede oor die gemeente se presiese praktiese voorneme vervaag en die beraad kom teen die agtergrond van wye belangstelling oor watter teologiese en kerkregtelike moontlikhede vir gemeentes bestaan wat ongemaklik voel met wat hulle beskryf as “liberale en humanistiese denke binne die NG Kerk”.
Die gemeente het in Junie verlede jaar aan lidmate terugvoer gegee wat verduidelik dat dit nie net ’n geval is van vat jou goed en trek nie. “Kerkordelik kan ’n gemeente nie (uittree uit die NGK) nie,” luidens die gemeenteskrywe wat verlede jaar op hul webwef publiseer is. “Die Leraars sal moet bedank uit die NG Kerk waarna ’n nuwe onafhanklike gemeente gestig sal moet word met die lidmate wat ook dieselfde proses volg. In dié geval is die leraars se bevoegdheid, MPG se geboue en die bankrekening in gedrang. Laasgenoemde twee bly binne die NG Kerk terwyl die leraars hulle bevoegdheid binne die NG Kerkverband verloor en nie verder binne die NG Kerk aansoek kan doen vir ander poste nie.”
- Teologiese opleiding is nog een van die onderwerpe wat by die beraad ter sprake sal kom. “Ons het die Oostelike Sinode gevra het om teologiese opleiding by die drie teologiese fakulteite te ondersoek en wag vir terugvoer,” het Breytenbach gesê.

Sterkte met due beraad. Vertrou daar sal weer tot skrifgesag teruggekeer word. Geen vroulihe geslag in die ampte nie. Vrouens moet assebluef hulle hoofde bedek. Kom ook al die Levietiese wette na.
Maak ook kontak met UMC in VSA.