Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.
Hou geloofsbyeenkomste klein en hou register (met kontakbesonderhede) van almal wat dit bywoon. Die rede? As ’n deelnemer positief toets vir die koronavirus binne 14 dae ná die geleentheid, moet die departement van gesondheid in staat wees om kontak te maak met almal wat die samekoms bygewoon het.
Só klink van die aanbevelings wat geloofsleiers gevra word om te gehoorsaam, luidens die jongste verklaring (sien onder) deur die NG Kerk.
Dit volg ’n dag ná ’n intergeloofsontmoeting met pres. Cyril Ramaphosa die afgelope Donderdag (19 Maart), waar die bal ook aan die rol gesit is vir ’n Nasionale Dag van Gebed. – Kerkbode-verslaggewer
Ontmoeting met pres Cyril Ramaphosa en godsdienstige leiers
Verklaring uitgereik op 20 Maart deur dr Gustav Claassen, algemene sekretaris: NG Kerk
President Cyril Ramaphosa het ’n ontmoeting met kerkleiers in Pretoria op Donderdag, 19 Maart byeengeroep. Dié geleentheid is deur sowat 90 verteenwoordigers van regoor die godsdienstige spektrum bygewoon. Sowat 12 kabinetministers was ook deel van die ontmoeting. Die vergadering is op baie kort kennisgewing belê weens die vinnige verspreiding van COVID 19. Die doel was om godsdienstige leiers aan boord te kry en in te lig oor hul verantwoordelikhede en te versoek dat leiers hul invloed op die samelewing moet gebruik. Die president het dit duidelik gemaak dat kerke en godsdienstige groeperings ’n kritieke rol gaan speel in die bekamping van COVID-19.
Kerke kán help
President Ramaphosa het erkenning gegee vir die belangrike rol wat byeenkomste in die lewe van kerke speel en het respek daarvoor. Dit is egter ook so dat die potensiaal vir COVID-19 om te versprei dramaties toeneem waar mense in getalle bymekaar kom. Die maatreëls wat deur die regering inplek gesit is, is inlyn met dié wat deur die Vatikaan afgekondig is.
Die President, het godsdienstige leiers versoek om ’n Nasionale Dag van Gebed te ondersteun. Dit is baie goed ontvang en ondersteun deur alle gelowe. Besonderhede sal binnekort volg.
Dit het ook duidelik geword dat daar sommige gelowiges is (nie net Christene nie) wat beweer dat hulle geloof hulle immuun maak teen die virus, en dat hulle hul geloof demonstreer deur die regulasies, soos deur die regering afgekondig, te ignoreer. Dit skep uitdagende presedente en risiko’s. Nuwe wetgewing wat sopas afgekondig is het die gevolg dat sulke persone vervolg en tronk toe gestuur word kan word.
Beperkte aantal hospitaalbeddens
Minister Zwile Mkhize, het inligting gegee oor die uitdagings wat die virus bied. Hy het dit gestel dat die verspreiding van die virus soveel as moontlik beperk moet word. Binne die Suid Afrikaanse konteks het ons net 150 000 hospitaalbeddens beskikbaar, waarvan die meeste alreeds gebruik word.
Die COVID 19-virus is van so ’n aard dat die meerderheid van die bevolking dit op een of ander stadium sal opdoen. As die verspreiding nie vertraag word nie, sal die hospitale en die verskaffers van mediese sorg nie die geweldige getalle kan hanteer nie. As infeksies vertraag word, kan die land se stelsels dit hanteer en voldoende fokus op diegene wat intensiewe sorg benodig. Indien dit nie vertraag word nie, kan dit lei tot baie sterftes wat andersins vermy kon word.
Verlangsaming van infeksie
Die meeste maatreëls sal nie verhoed dat die virus groot getalle mense infekteer nie, maar dit vertraag en die potensiële impak verminder. Die verlangsaming van infeksie kan bewerkstellig word deur inligting oor die aard van die virus en hoe dit versprei word, hoe dit manifesteer, en mense hulself en ander kan beskerm, en watter voorsorgmaatreëls gevolg kan word.
Kerke moet veral klem lê op die beskerming van diegene wat gekompromitteer word. Dit verwys veral na ouetehuise en versorgingsentrums en die kwesbares in die samelewing, waar toegang en versorging noukeurig beplan moet word en kontak met buitestaanders soveel as moontlik beperk moet word.
Sosiale distansie
Elkeen moet hom/haarself beskerm deur noue kontak (sosiale distansie) te vermy en tuis te bly as dit nie goed gaan nie. ’n Gedragsverandering is nodig byvoorbeeld om nie ’n handdruk te groet nie.
Kerke wat wel met dienste voortgaan, moet die bywoning tot 100 of minder beperk, met voorsiening vir ‘veilige afstand’ tussen die deelnemers. Enige persoon wat nie gesond is nie, mag geen byeenkoms bywoon nie.
Hou ’n register (met kontakbesonderhede) van almal wat dit bywoon. As ’n deelnemer positief is vir die virus binne 14 dae na die geleentheid, moet die departement van gesondheid in staat wees om kontak te maak met almal wat die geleentheid bygewoon het. Kerke word gevra om hul volle ondersteuning in hierdie gevalle te verleen.
Dag van Gebed
’n Oproep tot gebed en verootmoediging is gedoen en ‘n versoek om ‘n Nasionale Dag van Gebed, te ondersteun wanneer dit aangekondig word. Besonderhede sal volg.
Die president is gevra oor die waarskynlikheid dat ’n noodtoestand verklaar word, waarop hy geantwoord het dat, as elkeen saamwerk en die virus voldoende vertraag word, dit nie nodig is nie. As mense egter nie saamwerk nie en die virus buite beheer raak, word dit ’n definitiewe moontlikheid. ’n Noodtoestand sal ernstige maatreëls insluit. ’n Scenario wat niemand wil sien ontwikkel nie.
Daar is kommer uitgespreek oor minderbevoorregte kinders wat nie meer hul daaglikse maaltyd op skool ontvang nie, en hoe dit aangespreek kan word. Die regerings is versoek om hier onderteuning te gee.
Swaar las op munisipaliteite
’n Ander saak wat geopper is, dat terwyl die was van hande aangemoedig word, groot dele van die bevolking nie lopende water het nie. Heelwat munisipaliteite het in duie gestort, en daarmee saam die moontlikheid van lopende skoon water. Die onderskeie ministers is dringend versoek om hierdie saak dringend te hanteer.
Daar is aan vals-nuus en vals-inligting aandag gegee, en die belangrikheid daarvan om diegene wat daarmee begin, te straf. ’n Wet is in hierdie verband uitgevaardig.
’n Verdere kommer was die misbruik van die krisis deur stygende pryse en “beskadigde produkte”, soos sanitiseerders wat nie ontsmet nie. Dit moet gerapporteer word.
Nog vele vrae
Sommige vrae wat nog nie beantwoord kan word nie, is:
- Hoe lank hierdie buitengewone situasie duur? Niemand weet die antwoord nie.
- Wanneer sal ’n entstof of teenmiddel beskikbaar wees? Dit neem ongeveer 18 maande voordat ’n teenmiddel wat gevind is, getoets en geverifieer word voordat dit vrygestel kan word. Dus, selfs al sou gerugte van teenmiddels waar wees, sal dit minstens 18 maande duur totdat dit beskikbaar sal wees
Na die vergadering met die president en 12 kabinetministers is ’n byeenkoms deur die SARK in die Ooskerk gehou om nabetragting van die ontmoeting met die president te hou. Tydens die vergadering het die SARK besluit om Maandag, 23 Maart ’n vergadering te hou met ’n mandaat om kapasiteit te bou, te beplan sodat daar meer strategies na alle aspekte gekyk gaan word. Dit is belangrik om ook reeds te begin dink oor die uitdagings wat wag op ’n post-COVID-19 fase.
Agtergrond
Op 18 Maart 2020 het die WGO ook die volgende inligting bekend gemaak.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) noem die Koronavirussiekte COVID-19. Dit is ’n ernstige akute respiratoriese sindroom koronavirus
- Dit versprei van mens tot mens deur druppeltjies wat op oppervlaktes leef. Jy kan help om die verspreiding van die virus te voorkom deur oppervlaktes gereeld skoon te vee, nie aan jou gesig te vat nie, en jou hande gereeld vir ongeveer 20 sekondes lank te was. Verder, as jy hoes of nies, moet jy dit in ’n sakdoek of mou doen. Verder moet jy naby kontak met ander mense wat siek is vermy, en tuis bly as jy self siek is.
- Die virus versprei so vinnig dat ons beslissend moet optree om dit te vertraag. Om sosiale kontak te verminder het die regering daarom regulasies gepubliseer wat sosiale byeenkomste, sport, vergaderings, kulturele, godsdienstige of enige byeenkoms van meer as 100 mense verbied.
Groot byeenkomste moet vermy word waar moontlik, hoewel die regering verstaan dat sekere geleenthede en sosiale byeenkomste sal plaasvind ten spyte van die uitbraak van COVID-19. Maar, indien sulke byeenkomste wel plaasvind, moet die volgende riglyne gevolg word om onnodige risiko te beperk.
Hou enige byeenkoms by minder as 100 mense.
- Die verantwoordelikhede van diegene wat die byeenkoms reël:
Die belangrikheid om ’n teenwoordigheidsregister te hou
- Besonderhede van die geleentheid
- Beskrywing van die geleentheid, datum, adres waar dit gehou word, kontakbesonderhede van die persoon verantwoordelik vir die reëlings
- Kontakbesonderhede van al die teenwoordiges
- Naam, van, geboortedatum, RSA ID of ander identifikasie, tuisadres, telefoonnommer, alternatiewe foonnommer
- Bestuur van afval: Tref gepaste reëlings om vullis te verwyder sodat daar so min onnodige blootstelling moontlik is aan materiaal wat mense potensieel kan infekteer, insluitend plastieksakkies vir gebruikte sneesdoekies.
- Higiëne en sanitasie: Voorsien geskikte fasiliteite om hande te was (lopende water en seep). Indien sulke fasiliteite nie beskikbaar is nie, moet daar voldoende toegang tot handreinigingsmiddel wees
- Voorsien sneesdoekies om te voorkom dat mense in hul hande hoes
- Probeer om afstand tussen mense te verseker – mense moet verkieslik 2 meter van mekaar sit of staan
- Probeer behoorlike ventilasie verseker – dit is beter om geleenthede in die buitelug te hou waar moontlik
- Verantwoordelikheid van persone wat sulke geleenthede bywoon
- Moenie geleenthede bywoon in enige van die volgende simptome aanwesig is nie: Koors, hoes, seer keel, kortasem
- Probeer afstand hou van mense en vermy druk ruimtes
- Handhaaf goeie handhigiëne
Gaan die Nasionale Dag van Gebed op dieselfde lees geskoei wees as die intergeloofsontmoeting met pres Ramaphosa onlangs?
Ek meen Christene kan tog nie in die naam van hulle Here en Verlosser Jesus Christus saam met enige denominasies bid nie?
Elke geloofsgroep tog op sy eie. Pres Ramaphosa het al by geleentheid as christen sy knieë saam met Moslems gebuig om wie aan te roep? Daar kan redeneer word dat ‘n staatshoof die hele volk moet verteenwoordig. Maar dan op só n wyse?
Wat gaan die modus operandi wees? Ons soek duidelikheid.