Te midde van die gesondheidsbedreiging en verpligte afsondering wat Suid-Afrikaners tans in die gesig staar, gryp vele ook die geleentheid aan om uit te reik deur kennis en hoop te deel.
’n Nuwe deelwerf deur Bybel-Media (BM) hoop om gelowiges te bemagtig om “solo time” na “soul time” te verander, deur praktyke en leesstof wat die geloof versterk.
Met werkmagte wat wêreldwyd noodgedwonge na virtuele platforms migreer, het ’n BM-inhoudspan ’n bekende formaat uit Christelike tradisie gebruik om ’n aftelkalender te bou wat herinner aan die konsep van ’n Adventskalender, volgens dr Nico Simpson, die sameroeper.
“Die afsonderingskalender werk met 21 ‘mekaar’-tekste uit die Bybel,” verduidelik Simpson. “Dis tekste wat vra dat ons bid vir mekaar, mekaar vergewe, mekaar se laste dra ensovoorts.” Daar is daaglikse voorstelle en hulpbronne deur ’n wye groep medewerkers, wat gelowiges, groot en klein, wil help om te glo en “mekaar” lief te hê.
Die webwerf vorm deel van KiesKerk, ’n platform wat ontstaan het in reaksie op die reuse-uitdagings wat die koronavirus tans aan ons samelewing stel. Deur KiesKerk asook die jongste projek, wil BM mense met ’n spesifieke behoefte help: Hoe om in kontak te bly met ’n gemeenskap van gelowiges te midde van streng perke op sosiale byeenkomste soos eredienste.
- Kerkbode is ’n BM-publikasie

VASBYT ALLE GELOWIGES!!! Die Bybel sê “Wees nie bevrees nie. Dis God wat so sê. Glo dit. Bly rustig en SANITISE, SANITISE, SANITISE.