Kerke pleit vir werk en klein saamtrekke

Kerkleiers het ’n beroep op die regering gedoen om rampregulasies te verslap.

Die pleidooi is dat meer mense weer kan begin werk asook vir die reg om in klein groepe as geloofsgemeenskappe te kan vergader.

Die verklaring tree veral in namens diegene in die kleinsake-omgewing en informele sektor, meen die lede van ’n ekumeniese forum waar die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika verteenwoordig word.

Lees ook: Dominee kritiek na skietongeluk op plaas in Namibië

“Ons aanvaar dat die koronavirus ons leefwêreld en werkplek onherroeplik verander het, en dat almal van ons ’n nuwe lewenswyse moet aanleer en maatreëls in plek moet stel om ons eie gesondheid en die gesondheid van al die mense om ons te beskerm. Maar ons is ook ernstig besorg oor kleinsakeondernemings wat sluit, werkgeleenthede wat verlore gaan, en die groeiende getal mense wat sonder inkomste en heenkome sit,” lui die verklaring wat vandag uitgereik is en onderteken is deur dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, dr Wouter van Wyk, sekretaris: Kommissie van die Algemene Kerkvergadering: Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en ds Cassie Aucamp, voorsitter: Deputate Ekumenies (SA): Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. (Lees die volledige verklaring HIER – Red.)

Die leiers meen dit word by die dag dringender om ’n gesonde balans tussen die bekamping van die virus en ekonomiese aktiwiteit te vind in hierdie skrywe wat kom te midde van die voortgaande verbod op geloofsaamtrekke soos eredienste. “Die gebrek aan sosiale kontak en afstand van geliefdes skep ernstige emosionele probleme vir baie mense. Wanneer die gemeenskappe van gelowiges nie soos gewoonlik in ’n erediens kan vergader nie, ontbeer lidmate die bemoediging en inspirasie van die gereelde Woordverkondiging, en ook ’n belangrike ondersteuningsnetwerk wat hulle hoop gee. Ons pleit dus vir die geleentheid om so gou moontlik toegelaat te word om weer as geloofsgemeenskappe te vergader – al is dit in beperkte getalle en met allerlei maatreëls om gesonde higiëne te verseker,” lui die verklaring.

Lees ook: Die Jongste Kerkbode as e-Koerant

President Ramaphosa het mees onlangs in sy Vryheidsdagtoespraak laat blyk dat hy bewus is van die balanseertoertjie wat uitgevoer moet word, nie net tussen gesondheid en ekonomie nie, maar ook tussen die behoeftes van ’n verdeelde samelewing: “Some people have been able to endure the coronavirus lockdown in a comfortable home with a fully stocked fridge, with private medical care and online learning for their children. For millions of others, this has been a month of misery, of breadwinners not working, of families struggling to survive and of children going to bed and waking up hungry,” het Ramaphosa Maandag gesê.

Met verwysing na die regering se streng toepassing van grendeltyd, het die president gesê: “Violating the coronavirus response provisions and exposing others to a potentially fatal illness is the worst form of disrespect for others. This pandemic has changed the face of humankind, not just our country. It has reminded us of our own mortality, but also of how interconnected we are. If we did not realise it before, we all know it now – that our interdependence is key to our very survival as a people.”

6 thoughts on “Kerke pleit vir werk en klein saamtrekke

  1. Di Potter says:

    We must more people back to work, The economy is sufferimg much and is impacting very hard on people

  2. Mike says:

    Die kerk gemeenskap was na my mening te stil oor hul rol as essensiële diens…. Hoog tyd daar is stemme wat op gaan vir leraars en gemeentes se reg op gemeenskap van gelowiges asook besoeke deur leraars

  3. Muller Oosthuizen says:

    Sjoe – dis ‘n enorme “maar” wat daar uitgespreek is. (Klink bietjie soos Pres Trump.)

    Die staat se verantwoordelikheid is baie groter as (net) die beskerming van die ekonomie, waaronder kleinsake. Die verklaring is nie naspeurbaar op die skakel nie – die berig laat dit wel blyk dat die kerkleiers eensydig & kortsigtig is en nie die wetenskaplikes en besluitnemers vertrou nie.

    Die interim digitalisering en gepaargaande moontlikhede van die bediening ondervang werklik die klagte oor samekomste van gelowiges. Dit kan tog nie wees dat die kerkleiers (ouer manne?) dit nie ken nie? Gemeentebediening het sover ek kon agterkom enorme treë vooruit gegee – waarmee die digitalisering geweldig gehelp het – en gelowige lidmate toon hul rypheid en bemagtiging soos nog nooit tevore nie. Sien ek.

  4. Kerkbode says:

    Die verklaring is beskikbaar by die webskakel in die vierde paragraaf van die berig hierbo, en hier is die skakel weer: https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2020/04/2020-04-28-Openbare-verklaring-Kerk-in-koronatyd-finaal.pdf

  5. Herman says:

    As moontlike “ouer dominee” het ek eers die woord digitalisering half moedswillig gaan opsoek – die aanname dat dit “werklik” die behoefte ondervang is dalk effens dapper en gemeentes of bedieninge verskil redelik. As jy ‘n gemeente bedien waarvan die helfte nie selfone het, waarvan die helfte wat het net sms boodskappe lees – net 5% is hoegenaamd op enige sosiale media .. 70% is bo die ouderdom van 70 .. basiese kuier rondom bstudie is weekliks deel v 60 jaar se lewe .. dan is digitalisering ni die kits antwoord .. hiermee het ek nie die antwoord .. dalk net ‘n ander werklikheid wat ons vergeet ..

  6. Hoe meer ek die verklaring lees, hoe meer is ek verstom oor die kerklike leiers se onbegrip van wat buite “die kerk” se mure aangaan.
    Die kapitalistiese gierigheid en sosialistiese magsvergrype is deur CoVID19 ontwortel.
    As die kerleiers dit nie besef en Christus se versorging (as liggaam van Christus) nie kan uitleef nie, maar op die staat moet staatmaak vir kapitalisme, het daardie “kerk” nie meer ‘n nader-roeping van God en ‘n passie om God se deernis uit te leef nie.
    Ek sou nog meer verwag dat “die kerk” eerder oproep tot die staat, sigself en die privaatsektor sou doen – en mobiliseer tot ‘n gemeenskaplike versorging – wat grendeltyd twv die brose massas omarm en dan jammer kry en versorg soos Jesus.

Comments are closed.