Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Gemeentelede verpak elke tweede dag in grendeltyd kos wat in die behoeftige gemeenskap van Brakpan uitgedeel word. Die afgelope drie weke is 2655 mense, waarvan 825 kinders is, van kos voorsien, het die gemeenteleiers laasweek (24 April) by navraag aan Kerkbode vertel. Foto: Verskaf

Kos vir vele: ‘Ons dien ’n God van wonderwerke’ 

“God doen wonderwerke in Brakpan. Ons het reeds meer as R165 000 se kos uitgedeel.”

Só beskryf ds Hennie Pienaar van NG Dalpark in Brakpan verlede week aan Kerkbode hoe hulle in die grendeltyd reeds 2 655 mense van kos voorsien het. Daardie nommer het intussen gegroei namate hierdie gemeente – nes vele ander regoor die land wat nie hierdie berig genoem word nie – doen wat hulle kan om nood te verlig. 

Pienaar het vertel: “Daar ’n armoedekultuur (in sy omgewing). Die mense is báie behoeftig. Maar in grendeltyd is die gebrek aan kos net soveel meer oorweldigend.”

Lees ook: ‘Elke nag op straat is lank’

“Net soos Jesus die broodjies en vissies in die Johannes-evangelie vermeerder het, vermeerder God die kos wat ons in Brakpan kan uitdeel,” sê Pienaar oor die ongeveer 100 gesinne wat hulle die afgelope drie weke kon help. Ds Nico Grobbelaar, leraar by NG gemeente Brakpan wat ook deel van die projek is, sê daar word elke tweede dag kos afgelewer. Hy verduidelik dat hulle die een dag kos aankoop, dit sorteer en die kos in kleiner pakkies verpak. Die volgende dag word die kospakkies na behoeftiges in die gemeenskap versprei. “Die mense is só desperaat vir kos,” vertel Grobbelaar. Kerkbode het van hierdie projek te hore gekom en navraag gedoen om meer uit te vind en dit hier met ander lesers te deel. 

Grobbelaar sê dit het aanvanklik soos ’n onbegonne taak geklink om weekliks die nodige R55 000 vir kos in te samel. “Ek het vir Hennie gevra waar ons genoeg geld en kos ingesamel gaan kry? Hennie het net geantwoord: ‘Ons dien ’n God van wonderwerke.’ En só het ons nog elke week meer as genoeg skenkings ontvang. ”

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

2 thoughts on “Kos vir vele: ‘Ons dien ’n God van wonderwerke’ ”

  1. Muller Oosthuizen

    Ek vertrou dis met goedkeuring van die owerhede en werklik genoegsame sanitasie (sien foto!)? Geen kerk mag die oorsaak wees van oordraagbaarheid nie.

  2. Hennie Pienaar

    Die opmerking is inderdaad baie waar. Ons kan nie aandeel hê in die verspreiding van die virus nie. Ek kan bevestig dat die projek geskied met die medewete van die plaaslike regering en raadslede en dat die verpakking en aflewerings wettig geskied met die nodige permitte. Wat die veiligheid betref skerp ons dit op na die beste van ons vermoë. Daar is egter geen wyse waarop ons kan waarborg dat geen persoon vanuit ons gesamentlike kosprojek geinfekteer sal word nie. Dit is ‘n projek uit nood gebore en waar ons ‘n ongekende front van samewerking beleef.

Comments are closed.

Scroll to Top