Armoede: Ja vir ‘visvang’, maar is daar ’n ‘dam’?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dons Kritzinger van Clarens skryf: Baie dankie, Johan van der Merwe, dat jy ’n bietjie verder gekyk het as die huidige Covid-19 krisis.

Dit is wonderlik hoe gemeenskappe en kerke nou uitreik met kospakkies om aan honger mense iets te gee. Die huidige unieke krisis is dat baie mense wat op die rand van hongersnood geleef het skielik weens die ingrendeling hulle stukwerk verloor het. Daarby moet hulle kinders hulle daaglikse maaltyd by die skool ontbeer. Dit is ’n dubbele slag. Daar is hongerte.

Lees ook: Eredienste en saamtrekke steeds taboe

Maar ons moet nooit vergeet dat hierdie krisis net die laaste strooitjie op die kameel se rug is nie. Ernstige armoede is endemies in die meeste (swart) gemeenskappe. Werkloosheid is baie hoog. Miljoene mense woon in sinkhokkies sonder dienste in agterplase of enige ongeskikte oop stukkie grond. ’n Toestand wat genoem kan word die armoedekultuur is die algemene. Hoe het hierdie toestand ontstaan? Dit is (onder andere) die gevolg van ’n eeulange beleid om mense nie toe te laat om vir hulleself te sorg nie. Eers is nie aanvaar dat hulle “hier” mag wees nie. Terwyl hulle dan tog nou hier is, moet daar vir hulle huise voorsien word (wat natuurlik nie gebeur nie!) Daar moet vir hulle geld voorsien word (wat natuurlik altyd te min is). Hulle mag net nie vir hulleself sorg nie, hulle mag nie gedienste grond kry om op te bou nie, hulle mag nie hulle eie bedrywe vestig nie, hulle moet afhanklik van die staat bly. So lyk dit.

As die tyd van die kospakkies verby is, wat dan? Gaan daar struktureel iets aan die saak gedoen word? Daar gaan nou in ieder geval te min geld wees. Gaan mense nou menswaardig behandel word deur hulle verantwoordelikheid vir hulle terug te gee?

Johan, jy is reg oor die visvang. Maar is daar ’n “dam” waar die mense kan visvang? Gaan hulle buitendien by die “dam” toegelaat word?