Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Nuwe Reformasie?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Johan van Noordwes skryf:

As ek so luister na wat tans in die NG Kerk en die wêreld as geheel aan die gang is, kan ek nie help om te wonder waarheen dit alles gaan lei nie. Daar is al hoe meer magte en kragte wat die agenda van die meer linkse politiek dryf en, onder andere, aandring op gelykheid en geregtigheid op alle vlakke. Met hierdie breë standpunt is dit moeilik om fout te vind, maar ’n meer in-diepte beskouing van die aard hiervan laat ’n mens met baie vrae.

In ’n kommentaar onderaan ’n gasrubriek in Kerkbode van 31 Julie (getiteld “Ons godsbeelde moet verruim”) skryf ’n leser dat ons geloof gegrond is op die Bybel, maar ’n sin verder lees ’n mens: “Eerder word tradisie en Paulus se briewe die norm, en beide tradisie en Paulus se briewe maak ’n fout.”

Hierdie leserskommentaar laat my oor twee goed wonder: Eerstens, watter waarde word aan moderne opinies geheg teenoor die Skrif? En tweedens, wat moet ons maak met hierdie “tradisies”?

’n Prediker wie se naam my nou ontglip, het gesê dat as hy vind sy opinie verskil van die Bybel, begin hy met die aanname dat hy verkeerd is en werk van daar af. Jesus self het die inspirasie van die Skrif beaam en in 2 Timoteus 3:16 staan daar “die hele Skrif is deur God geïnspireer”, maar ’n meer direkte vertaling sou eerder lees “deur God uitge-asem”. Kan ons as mense dan nou besluit watter gedeeltes van hierdie uitge-asemde Woord ons wil gebruik en watter nie? Gaan God ag slaan op ons opinies en daardeur sy opinie verander?

In 1517 waag Martin Luther sy lewe deur die 95 punt-tesis aan ’n kerkdeur vas te spyker. Binne twee maande is dit oor die hele Europa versprei. Elke deelnemer aan die vroeë reformasie het sy/haar lewe in gevaar gestel deur die pous se gesag te bevraagteken. Wat ons hedendaags as “die kerk” beskou is gebou op die skouers en lyke van mense wat hulle lewe gewaag en gegee het om God se Woord te bewaar en versprei. Deur sulke neerhalende stellings te maak oor “tradisie” spreek van ’n gevoel van meerderwaardigheid en gebrek aan begrip vir die opoffering en toewyding van dié wat voor ons gekom het.

Die moderne beweging blyk vir my die nuwe “solas” dan as volg te hou:

  1. Slegs die laaste 30 jaar tel.
  2. Slegs as dit my laat goed voel.
  3. Slegs as dit sosiaal aanvaarbaar is.
  4. Slegs as dit die narratief van onderdrukker en onderdrukte bevorder.
  5. God kan slegs liefhê.

 

Met hierdie skrywe wil ek glad nie die swaarkry en onreg van die verlede probeer ontken of afmaak nie. Ons moet net baie versigtig wees oor die gewig wat ons gee aan (ons eie) moderne opinies. Paulus waarsku daarteen in Romeine 1:22-23.

Groete in Christus

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

6 thoughts on “’n Nuwe Reformasie?”

  1. Stem saam met die skrywer, wanneer ons die bybel begin in twyfel trek? Weet ek nie of ek nog by so n plek wil bly nie.

  2. Stephen Heyns

    Die rigting wat die AS reeds vir geruime tyd ingeslaan het, behels oa dat die Bybel nie meer regtig God se Woord is nieen dat ons liewer by die wêreld moet aanpas. Ek glo nie dat dit olv die Heilige Gees plaasvind nie en dat dit tyd geword het om ernstige oorwegingte skenk aan ‘n suiwering van die kerk sodat ons suiwer olv die Heilige Gees van God, Jahweh, die pad verder kan stap.

  3. Derick Saaiman

    Ek stem met leedwese saam met Johan van Noordwes.
    Persoonlik verewag ek maar bitter min van die groot golwe van liberalisme en linkse politiek wat soos die Skelfsee tussen ons en ons verllossing klots en dein .
    Hervorming geskoei op die Heilige Skrif sal ek altyd ondersteun maar sogenaamde hervorming voortyspruitend uit erg verdagte oorde en onbetroubare bronne dra alleen my argwaan weg.

  4. Geagte leser, ons verwelkom oop gesprek.
    Ons vra dat jy ons gespreksriglyne lees indien jy aan gesprek wil deelneem op ons platform.
    Dis te sien by hierdie skakel: https://kerkbode.christians.co.za/kommentaarbeleid/
    ‘n Kort opsomming sou wees, “Meer lig as hitte”. Kerkbode is nie ‘n bokskryt nie.
    Maar ek plak ‘n meer breedvoerige weergawe hieronder.

    Ons verwyder kommentaar volgens die volgende riglyne:

    * Kommentaar wat ander se geloof en Christenskap bevraagteken op grond van verskillende interpretasies van sekere aspekte van die Christelike tradisie.
    * Kommentaar wat ander beledig, ook wanneer dit beskryf word as ’n vorm van godsdienstige vermaning.
    * Kru taal of bloot onsmaaklike opmerkings.
    * Lasterlike opmerkings, insluitende kommentaar wat daarop gemik is om individue of kerkgemeenskappe skade te berokken.
    * Enige vorm van haatspraak, insluitende rassisme, seksisme en homofobie.
    * Gespreksgenote wat voortdurend gesprekke begin oor Kerkbode se riglyne vir gesprekvoering en hoe dit toegepas word.
    * Kommentaar wat na die oordeel van die gespreksmoderator nie bydra tot respekvolle dialoog nie.

    Let wel, dit is nie vir ons moontlik om individuele kommentaar dag en nag te modereer nie.
    Hierdie riglyne vir gesprekvoering sal op ’n gereelde basis opgedateer word soos ons dit nodig ag. – Red.

  5. Daar is soveel verskillende interpretasies van die Bybel dat ek regtig dink daar moet nuut na die Skrifbesouing van Karl Barth gekyk moet word.

  6. Ek is bevrees dat in die “verlede” die lidmate die Kerk/Gemeente nodig gehad het, maar nou , na alles wat gebeur het en nie gebeur het nie, ten opsigte van geestelike versorging en herderlike leierskap, blyk die “toekoms” eerder dat die Kerk/Gemeente die lidmate nodig sal hê. Die “nuwe reformasie” sal sekerlik die scenario van Kerk vs Lidmate. en andersom, her-definieer.

Comments are closed.

Scroll to Top